Bybelskool hervat weer 29 April 2019
Ek neem die volgende twee weke ‘n “breather” en sal weer van 29 April af bydraes plaas. Ek begin dan met Vraag 27 in Wie is God?
Ek neem die volgende twee weke ‘n “breather” en sal weer van 29 April af bydraes plaas. Ek begin dan met Vraag 27 in Wie is God?

Hoe dink jy oor God die Vader? Hoe sou jy Hom beskryf?
Baie van ons kyk na God die Vader deur die bril van ons ervaring. Dit beïnvloed ons beskrywing van God as Vader.
As ons eie pa’s ‘n goeie invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle. Ek onthou my pa as iemand wat altyd daar was vir my, selfs al het sy werk hom weke op ‘n keer van ons af weg geneem. Hy het moeite gedoen oor naweke, dinge saam met ons gedoen, al ons wedstryde bygewoon. Dit het by my die idee gelaat dat hy altyd daar was.
En ek dink vandag só oor God.
As ons pa’s egter ‘n slegte invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle.
Ons kyk ook deur die bril van ander se ervarings. Die dinge wat ons lees, die flieks wat ons kyk, die wyse waarop pa’s geskets word, het ‘n invloed op ons.
En dit is goed so, maar ons moet net nie dink dat dit al wyse is waarop ons oor God as Vader mag nadink nie. Dit maak nie saak hoe goed of hoe sleg jou ervaring van aardse pa’s is nie. Hulle is uiteindelik nie ‘n maatstaf van God as Vader nie. Die maatstaf vir sy Vaderskap lê in sy eie openbaring van Homself, in die Bybel en in die verwoording daarvan in die geloofsbelydenisse deur die eeue.

1. Lees die aanhalings uit die Apostoliese Geloofsbelydenis 1, die Geloofsbelydenis van Nicea 1, die Nederlandse Geloofsbelydenis 8 en 12, sowel as die Heidelbergse Kategismus 26 wat ‘n uitleg van die Apostoliese Geloofsbelydenis 1 is. Wat leer jy oor God die Vader uit hierdie belydenisse? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?
Apostoliese Geloofsbelydenis 1
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
Geloofsbelydenis van Nicea 1
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge.
Nederlandse Geloofsbelydenis 8
GOD IS EEN IN WESE EN ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE
Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in ‘n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie.
Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.
Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader.
Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.
Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so ‘n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie.
Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie ‘n eerste of ‘n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.
1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15; Matt. 28:19; 3:16-17; Joh. 1:14; Mig. 5:1.
Nederlandse Geloofsbelydenis 12
DIE SKEPPING VAN ALLE DINGE, VERAL VAN DIE ENGELE
Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel `n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien.
Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is.
Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.
Jes. 40:26; Matt. 28:19; 1 Joh. 5:15,. Hand. 5:3; 1 Kor. 3:16; 6:11; Rom. 8:9; Kol. 1:16; 1 Tim. 4:3; Heb. 3:4; Op. 4:11; 11:16; Heb. 1:14; Ps. 103:21; 34:8; Joh. 8:44; 2 Pet. 2:4; Luk. 8:31; Matt. 25:41; Hand. 23:8; Matt. 4.
Heidelbergse Kategismus 26
26 Vraag: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan (f) en ook as ‘n getroue Vader wil doen (g).
(a) Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7. (b) Heb 1:3; Ps 104:27-30; 115:3; Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps 55:23; Matt 6:25, 26; Luk 12:22. (e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32, 33; 7:9-11.
2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor God as Vader.

Die gees wat julle ontvang het, is nie ’n gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader. Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is. En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid. (NLV)
1. Die laaste teks hierdie week oor God se Vaderskap kom uit die NT. Paulus beklemtoon die innerlike getuienis van die Heilige Gees dat ons kinders van God is. Dit maak ons erfgename van God. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. Wat beteken dit alles vir jou?
2. Paulus is helder daaroor dat hierdie kindskap ook lyding inhou. Hoe hou dit verband met die heerlikheid van ons erfenis en rykdom?
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se uitnemende gawe aan jou dat Hy jou sy kind noem.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Romeine 8 sowel as my bydrae daaroor: Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

Is dit hoe julle die Here behandel, julle dom en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskep het nie? Het Hy jou nie gemaak en gevorm nie? (NLV)
1. Hierdie teks kom uit die Wet. Moses is besig in sy derde preek vóór die Intog in Kanaän met ‘n loflied op die karakter van God. Hy wil die volk aanmoedig om nie dom en onwys op te tree nie. Die metafoor wat Hy gebruik is dat God soos ‘n aardse pa ons gemaak en gevorm het. Watter gedagtes oor God se Vaderskap maak dit los by jou?
2. God as Vader het ons gemaak wie ons is. Hy wil ons egter ook vorm na sy Beeld. Dit vra van ons gehoorsaamheid. Wat hou dit vir jou in?
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner om in gehoorsaamheid aan jou Vader te leef.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Deuteronomium 32 sowel as my bydrae daaroor: Deuteronomium 31:30-32:52 – Moses se loflied op die karakter van God.
Onlangse kommentaar