Kyk af uit die hemel en sien ons tog raak van waar U sit, op u heilige en verhewe troon. Waar is u ywer van voorheen, u magtige dade? U weerhou u ontferming en genade van ons. U is mos nog ons Vader! Selfs as Abraham en Israel ons nie wil erken nie, bly U steeds ons Vader, Here. U is van altyd af ons Redder. (NLV)
1. Hierdie teks kom uit die Profete. Jesaja
bid hier tot God dat in ‘n situasie van ballingskap in die vreemde God Hom weer
as Vader sal bewys. Wat tref jou van die wyse waarop Jesaja met God in gesprek
tree?
2. In die konteks van die res van Jesaja 63
is dit duidelik dat Israel se ballingskap weens hulle eie sonde en afvalligheid
is. Die ballingskap was God se oordeel oor hulle. Tog is Jesaja se gebed steeds
begrond in God se Vaderskap: “U is mos nog ons Vader!” Watter troos en
verwagting hou dit ook vir jou in?
3. Lees die verse later vandag weer om jou
te herinner dat God se Vaderskap die oorsaak, oorsprong en begin van alles is.
Jy kan Hom sonder enige twyfel vertrou om vir jou te sorg.
’n Vader vir wese, ’n beskermer van weduwees; dít is God in sy heilige woning. God gee aan die eensame ’n tuiste; dié wat gevange is, lei Hy na vryheid, maar opstandelinge woon in ’n verlate woestyn. (NLV)
1. Hoewel die NT baie meer oor God se
Vaderskap sê, is dit ‘n tema wat alreeds in die OT aangeraak word. Ek kies
daarom veral Bybeltekste uit die OT – uit die Psalms, Profete, Wet en Geskrifte
– om oor God se Vaderskap na te dink. Hierdie teks is ‘n beskrywing in die
Psalms van God as Vader. Wat tref jou van sy Vaderskap?
2. Watter rol speel ons reaksie op God as
Vader in ons ervaring van Hom as Vader?
3. Lees die verse later vandag weer om jou
te herinner dat God jou Vader is, dat jy aan Hom behoort, en dat Hy jou beskermer
en bevryder is.
4. Jy kan later vanaand die verse weer in
die konteks van Psalm 68 lees en my bydrae daaroor. Dit is regtig ‘n besondere
Psalm wat een van die mees omvattende beskrywings van God bevat:Psalm
68 – God vul alles en almal met Sy teenwoordigheid.
1. Hoe dink jy oor God die Vader? Hoe sou
jy Hom beskryf? Hoe beïnvloed jou ervaring van jou eie pa jou perspektief op
God as Vader? En jou ervaring van ander pa’s?
2. Lees my antwoord en oordink dit.
Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alles. Hy is die almagtige Skepper van hemel en aarde van alle sigbare en onsigbare dinge. Saam met die Seun en die Heilige Gees is Hy die ware en ewige God. Op Hom vertrou ek so dat ek nie twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie.
3. Lees die bekendstelling van God as Vader
aan Dawid in 2 Samuel 7:1-17. Wat tref jou?
4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.
God is die oorsaak, oorsprong en begin van alles; die Almagtige, die Skepper van die hemele en die aarde. Hy maak Homself bekend as Vader. Dawid wou vir God ’n huis bou. God herinner hom dat Hy vir Dawid gesorg het vandat hy ’n skaapwagter was. God was oral by hom. God het hom rus gegee van al sy vyande. Die Here bou vir Dawid ’n koningshuis. Sy seun sal ’n groot koning wees: “Ek sal vir hom soos ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees.” Dit belowe God vir elkeen wat in Hom glo. God is ’n Vader vir sy kinders.
5. Lees Heidelbergse Kategismus 26 se
antwoord op die vraag: Wat is die Vader?
Vraag: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God
die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan (f) en ook as ‘n getroue Vader wil doen (g).
(a) Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38,
39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7. (b) Hebr 1:3; Ps 104:27-30; 115:3;
Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps 55:23;
Matt 6:25, 26; Luk 12:22. (e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32,
33; 7:9-11.
Is dit hoe jy oor God as Vader dink en wat
jy ook van Hom glo?
‘n Simbool vir die Trinitariese karakter van die Geloofsbelydenis van Nicea
Lees vandag die hele brief van Judas. Dit is ‘n kosbare verdediging van die oorgelewerde geloof, die enigste fondament van ‘n gesonde geloof.
Inleiding op Judas
Die brief van Judas word geskryf deur die: “dienskneg van Jesus Christus en broer van
Jakobus.” Daarmee kies Judas om sy geloofsbande
met Jesus te beklemtoon eerder as sy familiebande.
Sy verwantskap met Jakobus maak dit egter tog
duidelik dat hy familie van Jesus
is. Saam met die brief van Jakobus het ons dus briewe van twee van Jesus se
broers in die NT.
Judas se klem op temas uit die Joodse
geskiedenis en sy aanvaarding dat dit bekend sal wees vir sy lesers, beteken
dus waarskynlik dat hulle Joodse
Christene was, anders as wat die geval was met die geloofsgemeenskap
waaraan Petrus sy briewe gerig het.
Die verband tussen Judas en 2 Petrus 2
Daar is redelike verskil van mening oor hoe
die verband tussen hoofstuk 2 van die 2de brief van Petrus en die brief van
Judas verklaar moet word. Vyftien verse uit die brief van Judas se vyf en
twintig verse kom in sy geheel of gedeeltelik ook in hierdie tweede hoofstuk
van Petrus voor.
Die beste verklaring is waarskynlik dat Petrus
en Judas onafhanklik van mekaar ‘n ander en gemeenskaplike bron gebruik, bv ‘n
bestaande stuk kategetiese onderrigmateriaal, maar elkeen op sy eie manier.
Judas val direk weg met die aanleidende rede
van sy brief. Hy wil aan die een kant die leringe van dwaalleraars bestry wat
verdeeldheid en onsekerheid onder hulle gesaai het. Aan die ander kant skryf hy
om hulle op te roep om hulle lewe te bou op hul heiligste geloof.
Judas noem dié dwaalleraars goddeloses – praktiese ateïste, mense wat sê hulle glo in God, maar leef asof Hy nie bestaan nie – en losbandiges wat nie net God se genade misbruik het tot hulle eie voordeel nie, maar die gesag van die Here Jesus Christus verwerp het. Petrus noem hulle vals leraars – soortgelyk aan die vals profete van die OT – wat die Here Jesus verloën. Hy is ook duidelik daaroor dat dit tot hulle eie skade en ondergang is.
‘n Simbool vir die Trinitariese karakter van die Geloofsbelydenis van Nicea
1. Lees die aanhalings uit die Geloofsbelydenis
van Nicea en die Heidelbergse Kategismus 22-25 wat ook die Apostoliese
Geloofsbelydenis (12 artikels) insluit. Wat leer jy oor geloof uit hierdie twee
belydenisse? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?
Geloofsbelydenis van Nicea 1-12
1) Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge.
2) En in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore.
3) Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.
4) Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe.
5) Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan.
6) En Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader.
7) En Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
8) Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek.
9) Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
10) Ons bely een doop tot vergifnis van sondes.
11) Ons verwag die opstanding van die dooies.
12) En die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.
Heidelbergse Kategismus 22-25
22 Vraag: Wat moet ‘n Christen glo?
Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.
(a) Joh 20:31; Matt 28:19; Mark 1:15.
23 Vraag: Hoe lui die artikels?
Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10) die vergewing van sondes; (I1) die opstanding van die liggaam (12) en ‘n ewige lewe.
24 Vraag: Hoe word hierdie artikels
ingedeel?
Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
25 Vraag: Terwyl daar maar tog net een,
enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en
Heilige Gees (a)?
Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het (b) dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.
(a) Deut 6:4; Ef 4:6; Jes 44:6; 45:5; 1 Kor
8:4, 6. (b) Jes 61:1; Luk 4:18; Gen 1:2, 3; Ps 33:6; Jes 48:16; Matt 3:16, 17;
28:19; 1 Joh 5:7; Jes 6:1, 3; Joh 14:26; 15:26; 2 Kor 13:13; Gal 4:6; Ef 2:l8;
Tit 3:5, 6.
2. Loof die Here in gebed vir die
spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor geloof.
Hannes.onHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
Chris van ZylonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
Doreen SnydersonPsalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
originalblizzard19aaa84c56onPsalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
sparklybc467b2e69onPsalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
originalblizzard19aaa84c56onPsalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
sparklybc467b2e69onPsalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
sparklybc467b2e69onPsalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
sparklybc467b2e69onPsalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
Loading Comments...
We use cookies and similar technologies to improve your experience on our website.
Read our Privacy Policy.
Onlangse kommentaar