Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat beteken Jesus Christus se menswording vir jou? – Galasiërs 4:3-5

Toe ons nog geestelik minderjarig was, het ons die magte van die wêreld soos slawe gedien. Maar in die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore, onder die wet, sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop, ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word. (NLV)

1. Paulus kontrasteer hier ‘n lewe as ‘n slaaf met dié van ‘n kind. ‘n Slaaf is uitgelewer aan die magte van die wêreld. Dit is sondige leringe en praktyke wat jou van God af weghou. Wat is daar in jou lewe wat jou verbintenis met God belemmer, en jou ‘n slaaf van die wêreld maak?

2. Selfs die wet kan jou nie vrymaak om God waarlik te ken as kind nie. Want die wet beboet elke sonde met die dood. Net God se Seun wat as mens gebore is, kan jou vrymaak van jou skuld, sodat jy deur geloof in Hom ‘n kind van God kan word. Het jy al die vryheid van kindskap ten volle beleef? Wat beteken dit vir jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner om in ‘n hegte verhouding met jou Vader te leef. Dit is waarom Jesus jou vrygemaak het van jou sonde en skuld. Sodat jy in God se teenwoordigheid kan floreer.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Galasiërs 4 sowel as my bydrae daaroor: Galasiërs 3:1-4:20 – VRYSPRAAK: dié wat glo, is kinders van Abraham.

Wat beteken Jesus Christus se menswording vir jou? – Romeine 9:4-5

4Hulle is tog Israeliete, bevoorreg tot kindskap. God het sy heerlikheid aan hulle bekendgemaak. Hy het verbonde met hulle gesluit en sy wet vir hulle gegee. Hulle is bevoorreg om Hom te aanbid en Hy het wonderlike beloftes aan hulle gemaak. 5Hulle het eerbiedwaardige voorvaders gehad en uit hulle is Christus as mens gebore – Hy wat tegelyk God bo alles is en aan wie die lofprysing vir altyd en altyd toekom! (NLV)

1. Paulus beskryf in vers 4 ses voordele wat die Israeliete as uitverkore volk gehad het. Wat is die betekenis daarvan vandag vir jou as uitverkore kind van God?

2. Paulus gaan in vers 5 aan om nog twee voorregte by te voeg.  Die afkoms uit die eerbiedwaardige voorvaders (Abraham, Isak en Jakob) en die wonder van die God-mens se geboorte in Christus. Die Israeliete het egter ten spyte van al hierdie voorregte nie in die Here Jesus Christus geglo nie. Hoekom nie en hoe spreek dit jou aan?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat God sy heerlikheid aan jou bekend gemaak het in Christus Jesus. Dat al hierdie dinge ook aan jou behoort: kindskap; God se heerlikheid; die verbonde; die wet; die aanbidding; die beloftes; die voorvaders; die Christus.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Romeine 9-11 en my bydrae daaroor: Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word.

Wat beteken Jesus Christus se menswording vir jou? – Lukas 1:26-38

Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, ’n dorp in Galilea, gestuur na ’n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef, ’n afstammeling van koning Dawid. Gabriël het aan haar verskyn en gesê: “Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!” Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken. “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën! Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!” Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.” Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word. Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand, want niks is onmoontlik vir God nie.” Maria het geantwoord: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.” Toe het die engel weggegaan. (NLV)

1. God kom hier nader aan Maria as aan enige mens voor haar. Die Heilige Gees sal oor haar kom, die krag van die Allerhoogste sal haar soos ‘n skaduwee bedek … en dan sonder om verder uit te brei, word oor die geboorte van Jesus gepraat, die Heilige, die Seun van God. Wat beteken dit vir jou?

2. Maria se gehoorsaamheid gee haar nie net die uitverkore posisie as moeder van Jesus nie, maar maak haar die eerste volgeling, trouens dissipel, wat gekenmerk word deur ‘n absolute verbintenis dat God se wil in hulle lewens sal geskied: “Laat met my gebeur volgens u woord.” Wat vra dit van jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat Jesus as mens die Seun van God is. Hy is ons verbinding met God self. Hy vra van ons dieselfde tipe lojaliteit wat Maria bereid was om te gee.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Lukas 1 lees en my bydrae daaroor: Lukas 1:1-56 – Twee Godsmanne word vir twee Godsvroue belowe.

Die Seun is die Woord van God

1:1-2 Johannes maak reg aan die begin van sy evangelie vier verklarings oor die wese van die Woord, die Logos.

  1. Dat die Logos van die begin af is.
  2. Dat die Logos die Woord van God is.
  3. Dat die Logos God self is.
  4. Dat die Logos van die begin af by God is.

1:3-5 Johannes volg dit op met vier verklarings oor die werk van die Woord van God.

  1. Alles het deur Hom ontstaan. Letterlik alles. Daar is niks wat nie deur Hom ontstaan het nie. Niks nie. Hy is dus die Een wat God gebruik het om te skep. Die Joodse lesers sou onmiddellik aan die skeppingstradisie gedink het in die OT dat God “deur die woord [dabar] van die Here” geskep het (Ps 33:6). Dat God aan die begin geskep het deur eenvoudig te praat: “God het gesê …” (Gen 1:3). Dit word nou hier van die Logos bely.
  2. Dit wat ontstaan het deur Hom, was lewe. Hy was en is die bron van lewe vir alles. Dit dui dus op meer as net dat alles wat lewe hulle ontstaan het deur Hom. Dit ook. Maar, wat Johannes hier sê, is dat die hele beginsel van lewe van die Woord af kom. Sonder Hom is daar geen lewe moontlik nie. Soos hy talle kere in sy evangelie sal herhaal. Die Grieke sou in hierdie gebruik van die woord iets gehoor het van wat die filosoof Heraklitus van Efese reeds in die 6de eeu vC geskryf het, dat die logos die beginsel is waardeur orde uit chaos geskep word. Dit is nou aan hierdie Logos verbind.
  3. Dit is waarom die lewe, die lewe in die Woord, die lig vir die mense kon wees, hulle die wil van God kon leer, as hulle net daarop sou ag slaan.
  4. Dit is egter ook van die begin af duidelik dat die lig in die duisternis geskyn het, en dat die duisternis die lig nie begryp het nie. Die Griekse woord katelaben wat met “begryp” vertaal word, het hier ‘n dubbele betekenis. Dit dra ook die betekenis dat die duisternis die lig nie kon “oorwin” of “bemeester” nie.  Daar is dus van die begin af ‘n skeiding tussen lig en duisternis, soos die skeppingsverhaal ook vertel (Gen 1:2). Aan die een kant kan die duisternis die lig nie begryp nie. Aan die ander kant kan die duisternis die lig ook nie oorwin nie. Een kers verdryf die donker, by wyse van spreke.

Die Woord bring lewe

Hiermee begrond Johannes die ander uitsprake oor Jesus in sy evangelie in die lewe wat die Woord skep. Jesus is immers die Lig vir die wêreld, die Brood van die lewe, die Lewende water, die Goeie Herder. Selfs iets soos die verandering van water in wyn in Kana dra hiermee die betekenis van oorvloedige lewe.

Dit is hierby wat Johannes ook in sy eerste brief aan Efese aansluit en ons uitnooi om gemeenskap met die Woord van die lewe te hê. Dit is die bron van ons blydskap:

“Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe — en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is — wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. En ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (1 Joh 1:1-4).

Johannes sal later ook oor die ander kant van hierdie Lewegewende Een praat. In Openbaring word Christus ook as die Woord van God beskryf. Maar daar kom ‘n ander aspek van die Woord van God na vore, Die Woord van God is ook die Een van die finale oordeel, die Getroue en Betroubare Een, die Een met die swaard in die mond wat alle teenstand met die toorn van God tref (Open 19:13). Hy neem ook die lewe weg van dié wat dit verwerp.

1:6-8 Johannes die Doper, sê Johannes die apostel, het die opdrag gekry om van die lig te getuig wat hierdie Woord aan die wêreld bring. Hy was nie die lig nie, maar moes van die lig getuig, sodat almal deur hom sou glo.

1:9-11 Die ongemaklike realiteit was egter dat die wêreld, wat deur Hom tot stand gekom het, Hom nie herken het nie. Selfs van sy eie mense, die Jode, het Hom nie aangeneem nie.

1:12-13 Dié wat Hom dus wel aanneem, dié wat van “bo-af” gebore is, soos Jesus vir Nikodemus net hierna sal leer (Joh 3), hulle het die reg ontvang om kinders van God te wees, dié wat in sy Naam glo. Hulle kindskap kom egter nie uit die regte afkoms (bloed), die regte begeertes (wil van die vlees) of die regte besluite (wil van ‘n man) nie. Hulle is uit God gebore.

Hierdie kinders van God is daarom van meet af aan in stryd met dié wat Hom nie aanneem nie.  Die vreugde van kindskap word dus getemper met die wete dat almal wat in die duisternis lewe, die lig verwerp en dit wil uitdoof. Al is die hoop ook daar dat die duisternis dit nie sal regkry nie, sê Johannes.

1:14 Die krag van hierdie openbaring lê in die feit dat Jesus se menswording in vers 14 met twee woorde beskrywe wat baie betekenisvol is. Hy het “vlees” geword (sarks) en “onder ons kom woon” (eskênôsen – tabernakel opgeslaan). Die eerste woord roep die skeppingsverhaal van Adam in herinnering en die tweede die tabernakel in die woestyn.

Daarmee sê Johannes dat Jesus volledig mens geword het. Hy het ons vlees aangetrek, en ’n menslike bestaan aanvaar. En let op dat dit iets is wat van hierdie punt af deel van Sy bestaan geword het.  Sy menslike natuur is nie iets wat Hy ooit weer gaan uittrek nie.  Hy IS nou ook mens.

Maar Hy IS ook God onder ons. Hy is die tabernakel van God onder ons. Hy is God self. Ons sien dus nou die heerlikheid van God in ’n mens van vlees en bloed.

Daarmee onderstreep Johannes die dubbele natuur van Jesus dat Hy ‘n menslike (vlees) en ‘n goddelike (tabernakel) natuur het. En dit is hierdie God-mens wat die krag het om die duisternis te oorwin.

1:15-18 Dit is waarom Jesus die gawe van die wet kan oortref, want in die vereniging van sy Godheid en mensheid sien ons die genade en die waarheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het. Kan ons deel in die werklikheid daarvan. Hy het God self aan ons kom openbaar. Dit is waarom sy bediening groter is as Johannes die Doper s’n. Johannes die Doper was die stem. Jesus was die Woord.

Jesus se genade gaan wys in die tekens van voorsiening (water in wyn, vermeerdering van brood) en verwondering (loop op water), van genesing (siek seun, siek man, en blinde man) en oorwinning (opwekking uit die dood), soos ons in die res van die evangelie van Johannes gaan sien. Hierdie sigbare genade gaan ons uitnooi om Hom te vertrou vir die genade wat ons ook in die lewe nodig het.

Jesus se waarheid gaan wys in die beskrywings van die verhouding met God wat beleef kan word in die feit dat die Gees ons “van-bo-af” wederbaar (Joh 3), wat vir ons lewende water gee wat in ons ‘n fontein van lewe word (Joh 4; Joh 7) en die Woord wat ons in God se waarheid heilig (Joh 17).

Daar was baie genade in die wet van Moses, maar dit kon nooit ‘n standhoudende fontein in ons word om ons te heilig voor God nie. Dit, sê Johannes, het nou moontlik geword in die Here Jesus Christus. Hy het vir ons die unieke en volkome openbaring van God self geword.

Betekenis en boodskap

Hierdie inleiding van Johannes is só diepsinnig. ‘n Mens wil elke woord daarvan in jou gedagtes omdraai en elke faset daarvan oordink. Dat Jesus groter is as wat ons ooit kan dink. Woord. Skepper. God. Dat Hy nader is as wat ons dink. Vlees. Tabernakel. Dat Hy dieper werk as wat ons dink. Lig. Lewe. Genade. Waarheid. Dat Hy ons visie op God kom herstel het. Dat ons kinders van God kan wees deur in Jesus te glo. Uit God gebore. Kies een van dié gedagtes om deeglik te deurdink en met die Here in gesprek te tree daaroor.

Wat is die Seun? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Apostoliese Geloofsbelydenis 2, die Geloofsbelydenis van Nicea 2-3, die Geloofsbelydenis van Athanasius 31-37, die Nederlandse Geloofsbelydenis 10 en 18, sowel as die Heidelbergse Kategismus 19,29,31,36 en 47 wat ‘n uitleg van onder andere die Apostoliese Geloofsbelydenis 2-3 is. Wat leer jy oor God die Seun uit hierdie belydenisse? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Apostoliese Geloofsbelydenis 2

2. Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria.

Geloofsbelydenis van Nicea 2-3

2. Ons glo in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore.

3. Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.

Geloofsbelydenis van Athanasius 31-37

31. Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;

32. volkome God, volkome mens met ‘n redelike siel en menslike vlees,

33. na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.

34. En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.

35. Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God.

36. Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon.

37. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,

Nederlandse Geloofsbelydenis 10

DIE GODHEID VAN JESUS CHRISTUS

Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy ‘n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb. 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Fil. 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word: Moses sê dat God die wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen. 1:1 en Joh. 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb. 1:2 en Kol. 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: ‘Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid’ (Miga 5:1), en sê die apostel: ‘Hy is sonder begin van dae of lewenseinde’ (Hebr. 7:3). Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.

Joh. 1:18, 34 en 49; 1: 14; Kol 1:15; Heb. 1:3; Matt. 3:17; 17:5; Joh. 8:24; 10:30; 9:36; Hand. 8:34; Jes. 7:14; Rom. 9:5; 1 Tess. 3:11; Fil. 2:11; 2 Kor 5:19; Hand. 20; Ef. 3:9; Rom. 14; Tit. 2; 1 Kor. 8:6; Heb. 1:1; 3:4; Joh. 1:3; 1 Joh.5:7, 14, 20; Op. 1-6; Joh. 8:58; 17:5; 1 Kor. 10:9,. Gal 4:4; Miga 5:2; Kol 1:15; Ps. 2:7, 12; Heb. 13:8.

Nederlandse Geloofsbelydenis 18

DIE MENSWORDING VAN JESUS CHRISTUS

Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Fil. 2:7) deur werklik ‘n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van ‘n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie maar ook ‘n egte menslike siel om so ‘n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om al twee te red, aangesien beide verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb. 2:14), dat Hy wat die vlees betref, ‘n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand. 2:30 en Rom. 1:3), ‘n vrug van die moederskoot van Maria (Luk. 1:42), gebore uit ‘n vrou (Gal. 4:4), ‘n spruit van Dawid (Jer. 33:15), ‘n loot uit die wortels van Isai (Jes. 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb. 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom. 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte – maar sonder sonde – aan sy broers gelyk geword het (Heb. 2:17 en Heb. 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Emmanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt. 1:23).

Fil. 2:7; 1 Tim. 3:16; Luk. 1:55; Gen. 26:4; 2 Sam. 7:12; Ps. 132:11; Hand. 13:23; 1 Tim. 2:5; 1 Kor. 12:3; Deut. 29:2; Ps. 119:34; Rom. 7:19; Jer. 33:15; Heb. 7:14; Rom. 9:5; Gal. 3:16; Heb. 2:16; Matt. 1:16.

Heidelbergse Kategismus 19

19 Vraag: Waaruit weet jy dit (dat Jesus die Middelaar is)?

Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b) en profete (c) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld; (d). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (e).

(a) Gen 3:15: (b) Gen 22:18; 12:3; 49:10. (c) Jes 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6, 22, 23; Jer 23:5, 6; 31:32, 33; 32:39-41, Miga 7:18-20; Hand 10:43; 3:22-24; Rom 1:2; Hebr 1:1. (d) Hebr 10:1, 7; Kol 2:7; Joh 5:46. (e) Rom 10:4; Gal 4:4; 3:24; Kol 2:17.

Heidelbergse Kategismus 29

29 Vraag: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).

(a) Matt 1:21; Hebr 7:25. (b) Hand 4:12; Joh 15:4, 5; 1 Tim 2:5; Jes 43:11; 1 Joh 5:11.

Heidelbergse Kategismus 31

31 Vraag: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).

(a) Ps 45:8; Hebr 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18. (b) Deut 18:15; Hand 3:22; 7:37; Jes 55:4. (c) Joh 1:18; 15:15. (d) Ps 110:4. (e) Hebr 10:12, 14; 9:12, 14, 28. (f) Rom 8:34; Hebr 9:24; 1 Joh 2:1; Rom 5:9, l0. (g) Ps 2:6; Sag 9:9; Matt 1:5; Luk l:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11.

Heidelbergse Kategismus 36

36 Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).

(a) Hebr 7:26, 27. (b) 1 Pet 1:18, 19; 3:18; 1 Kor 1:30, 31; Rom 8:3, 4; Jes 53:11; Ps 32:1.

Heidelbergse Kategismus 47

47 Vraag: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?

Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie (b), maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie (c).

(a) Matt 28:20. (b) Hebr 8:4; Matt 26:11; Joh 16:28; 17:11; Hand 3:21. (c) Joh 14:18; Matt 28:20.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor God as Seun.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…