Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat beteken die vergifnis van al jou sondes vir jou? – Lukas 5:22-24

Jesus het geweet wat hulle dink, en vra toe vir hulle: “Wat redeneer julle so by julleself? Wat is makliker om te sê: ‘Jou sondes is vergewe’ of ‘staan op en loop’? Ek sal vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die mag het om op aarde sondes te vergewe.” Jesus draai toe na die verlamde man en sê: “Ek sê vir jou, staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.” (NLV)

1. Jesus verklaar in hierdie gedeelte dat die belangrikste behoefte wat ons het die vergifnis van ons skuld en sonde is. Dat dit belangriker is as om genesing of voorspoed te ervaar. Hoe dink jy daaroor?

2. Jesus genees wel die man as getuienis dat Jesus werklik sy sondes vergewe het. Wat wil jy vir die Here sê in terme van jou eie behoeftes aan vergifnis en genesing?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan Jesus se mag om nie net te genees nie, maar ook te vergewe.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Lukas 5 sowel as my bydrae daaroor: Lukas 4:14-5:39 – Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes.

Wat beteken die vergifnis van al jou sondes vir jou? – Psalm 103:11-12

So ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. (NLV)

1. Daar is min gedeeltes wat die werklikheid van die vergifnis van sondes só helder verwoord as juis Psalm 103. Ons sondes verdwyn letterlik in die vergetelheid in. Hoe laat dit jou voel?

2. Psalm 103 sê onomwonde dat God genadig is. Dat sy troue liefde eksponensieel groter is as ons sonde en sondeskuld. Dat Hy vir dié wat vir Hom ontsag het (vertikale as) hulle sondes ligjare ver verwyder (horisontale as). ’n Verskuilde manier om die kruis van Golgota in spel te bring!  Watter wonderlike wete! Wat wil jy vir God in respons hierop sê?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat God jou sondes regtig ligjare van jou af verwyder het – so ver as die hemel van die aarde af is, en die ooste van die weste.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Psalm 103 sowel as my bydrae daaroor: Psalm 103 – Ek wil die Here loof met alles wat in my is.

Wat beteken die vergifnis van al jou sondes vir jou? – Hebreërs 10:14-18

Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig. Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer Hy in die eerste plek verklaar: “Dít is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel gaan sluit, verklaar die Here: Ek sal my opdragte inskryf in hulle harte en Ek sal dit in hulle verstand graveer.” Dan voeg Hy daarby: “Ek sal aan hulle sondes en hulle oortredings nooit weer dink nie.” Inderdaad, waar sondevergifnis ’n werklikheid is, is geen verdere offer vir die sonde nodig nie. (NLV)

1. Jesus het met sy kruisdood nie net al ons sondes vergewe nie, maar ons vir altyd volmaak geheilig. Dink na oor die betekenis daarvan vir jou. Nie net vandag nie, maar vir altyd.

2. God belowe dat Hy nooit weer aan jou sondes en oortredings sal dink nie. Hy belowe ook dat Hy sy opdragte inskryf in jou hart en ingraveer in jou verstand. Wat beteken dit vir jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die vryheid en volmaaktheid wat vergifnis van al jou sondes vir jou gebring het.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Hebreërs 10 en my bydrae daaroor: Hebreërs 9:23-10:18 – Jesus Christus verskyn in die heiligdom voor God ter wille van ons.

Wat beteken die vergifnis van al jou sondes vir jou? – Kolossense 1:19-20

God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. (NLV)

1. Jesus het deur sy kruisdood die alles op die aarde en in die hemel met God versoen. Dit sluit die vergifnis van al jou sondes in. Hoe laat dit jou voel?

2. In die res van die gedeelte moedig Paulus die gelowiges aan om vas te bly staan in hierdie vertroue en hulle nie te laat losruk van die hoop op verlossing, soos wat sou kon gebeur deur die mense wat hulle met verkeerde idees mislei. Hoe kan jy daaraan gehoorsaam wees?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die vrede wat daar tussen jou en God gekom het met die vergifnis van al jou sondes, sodat jy in dié vertroue kan vasstaan.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Kolossense 1 lees en my bydrae daaroor: Kolossense 1:15-23 – Jesus die Here van die Skepping en die Herskepping.

Vraag 30: Wat beteken die vergifnis van al jou sondes vir jou?

1. Wat beteken die vergifnis van al jou sondes vir jou?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Deur Jesus Christus se kruisdood het Hy my vir altyd met God versoen. God sal nooit weer aan my sondes dink nie. Christus het volkome voldoen aan God se geregtigheid, selfs al moet ek weens my sondige aard my lewe lank nog daarteen stry. Uit genade gee God aan my die geregtigheid van Christus sodat ek nooit in die oordeel van God sal kom nie.

3. Lees die verhaal van die eenheid wat Jesus deur sy kruisdood bewerk het in Efesiërs 2:11-22. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

Ons is met God versoen en het nou deur een Gees toegang tot die Vader

Deur Christus se dood aan die kruis het Hy vrede tussen Jode en nie-Jode gebring. Deur sy liggaam aan die kruis te gee, het Hy die twee groepe één gemaak. Hy het in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid omskep. Deur sy dood aan die kruis het Hy die vyandskap beëindig. Só het Hy albei groepe in een liggaam met God versoen. Dit is aan Hom te danke dat albei groepe deur een Gees toegang tot die Vader het. Ons is dus medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, ’n gebou waarin God deur sy Gees woon. God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

5. Lees die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 56 oor die vergewing van die sondes en dink na oor die betekenis daarvan vir jou?

56 Vraag: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?

Antwoord: Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer (a) wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk (b) sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie (c).

(a) 1 Joh 2:2; 1:7; 2 Kor 5:19. (b) Rom 7:23-25; Jer 31:34; Miga 7:19; Ps 103:3, 10, 12. (c) Joh 3:18; 5:24.

Is dit hoe jy oor die vergifnis van sondes dink en wat jy ook van God glo?

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…