Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat is die Seun? – Galasiërs 4:3-7

Toe ons nog geestelik minderjarig was, het ons die magte van die wêreld soos slawe gedien. Maar in die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore, onder die wet, sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop, ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word. En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe. Die Gees in ons roep voortdurend na God: “Abba!” – wat die Aramese woord is vir “Vader”. Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind. En as sy kind het God jou sy erfgenaam gemaak! (NLV)

1. Paulus tref hier ‘n onderskeid tussen geestelik minderjariges wat soos slawe lewe, en kinders in wie God se Gees lewe. In die Grieks word die onderskeid met die woorde nēpioi (onvolwasse kinders) en huioi (volwasse kinders) weergegee. Wat is die uitstaande kenmerke hier van minderjarige en volwasse kinders, en hoe verskil dit volgens die teks?

2. Dink goed na dat God die Gees van sy Seun gestuur het om in jou te lewe. Wat is jou ervaring daarvan en hoe kan jy dit meer ervaar?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se uitnemende gawe aan jou deur sy Gees, dat Hy jou sy kind noem en jou sy erfgenaam maak.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Galasiërs 4 sowel as my bydrae daaroor: Galasiërs 3:1-4:20 – VRYSPRAAK: dié wat glo, is kinders van Abraham.

Wat is die Seun? – 1 Johannes 5:20

Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe. (NLV)

1. Johannes onderstreep drie keer die feit dat Jesus ons die vermoë gegee het om die “ware Een”, die “ware God” te herken. Waarom is dit só belangrik en wat beteken ‘n hegte verhouding met Jesus vir jou?

2. In die konteks waarsku Johannes teen die sonde, teen die wêreld wat in die mag van die Bose lê, en teen die afgode. Hoekom is dit so belangrik om onsself daarteen te bewaar en hoe doen jy dit?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner om in ‘n hegte verhouding met Jesus Christus, die Seun van God, te leef.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 1 Johannes 5 sowel as my bydrae daaroor: 1 Johannes 5 – Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe.

Wat is die Seun? – 1 Timoteus 3:16

Sonder enige twyfel is dít die geopenbaarde waarheid van ons geloof: Christus het as mens verskyn en is deur die Gees as regverdig bewys. Hy het aan engele verskyn en is aan die nasies verkondig. Hy is in die wêreld geglo en is opgeneem in heerlikheid. (NLV)

1. Paulus bemoedig Timoteus met hierdie fundamentele waarheid oor Christus. Dink na oor die betekenis van elke aspek daarvan.

2. Waarom is dit so belangrik om hierdie waarheid te glo en te beskerm?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat Jesus in heerlikheid opgeneem is ter wille van jou ewige saligheid.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 1 Timoteus 3 en my bydrae daaroor: 1 Timoteus 3:14-4:16 – Die gemeente as draer en beskermer van die waarheid.

Wat is die Seun? – Filippense 2:9-11

God het Hom tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam. Só sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig, en elke tong sal bely: “Jesus Christus is Here!” En só sal God die Vader verheerlik word! (NLV)

1. Hierdie teks moet in samehang met Filippense 2:5-8 gelees word, die beskrywing van Jesus se selfontlediging. Fokus egter op die beskrywing van Jesus as Here in Filippense 2:9-11. Wat tref jou van sy status ná sy opstanding uit die dood?

2. Wat beteken Jesus as Here vir jou? En vir hierdie wêreld?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat God in Jesus Christus jou Here is.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Filippense 2 lees en my bydrae daaroor: Filippense 2:5-30 – Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld.

Vraag 27: Wat is die Seun?

1. Hoe dink jy oor God die Seun? Hoe sou jy Hom beskryf?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

 Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Hy is die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore, God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.

3. Lees die bekendstelling van God as Seun in Johannes 1:1-18. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God. Alles het deur Hom ontstaan. In Hom was daar lewe. Dié lewe het gedien as die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie! Johannes het van die lig getuig. Die Woord het mens geword en by ons kom woon. Hy is die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid. Aan almal wat Hom aanvaar, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

5. Lees Heidelbergse Kategismus 29 en 31 se antwoord op die vraag: Wat is die Seun?

Vraag 29: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).

(a) Matt 1:21; Hebr 7:25. (b) Hand 4:12; Joh 15:4, 5; 1 Tim 2:5; Jes 43:11; 1 Joh 5:11.

Vraag 31: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).

(a) Ps 45:8; Hebr 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18. (b) Deut 18:15; Hand 3:22; 7:37; Jes 55:4. (c) Joh 1:18; 15:15. (d) Ps 110:4. (e) Hebr 10:12, 14; 9:12, 14, 28. (f) Rom 8:34; Hebr 9:24; 1 Joh 2:1; Rom 5:9, l0. (g) Ps 2:6; Sag 9:9; Matt 1:5; Luk l:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11.

Is dit hoe jy oor God as Seun dink en wat jy ook van Hom glo – Profeet, Priester, Koning?

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…