Skip to main content

Tag: wederkoms

Die wederkoms en die wegraping

Ek het ‘n navraag gekry oor die wederkoms en die wegraping. Hier is ‘n paar gedagtes daaroor.

Jesus praat van een wederkoms aan die einde van die tyd (Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot Verdrukking; Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens; Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid; Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid; Lukas 21:1-38 – Volhard in waaksaamheid en gebed).

Sy uitverkorenes moet die groot Verdrukking deurstaan, en Hy belowe dat Hy hulle sal beskerm in daardie tyd (Matt 24:22). Hy roep ons op om waaksaam te wees en altyddeur te bid dat ons die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn (Luk 21:36).

Paulus stem uiteraard hiermee saam en skryf oor een wederkoms reg deur al sy briewe. Aan die einde van die tyd verskyn die Here Jesus en ons saam met Hom (Kol 3:4). By dié wederkoms verskyn ons voor Hom (1 Tes 2:19). Sommige bly lewe tot daardie wederkoms (1 Tes 4:15). Ander staan uit die dood uit op daarvoor. Ons almal word herenig met Hom (2 Tes 2:1). Hierdie wederkoms kom soos ‘n dief in die nag (1 Tes 5:1).

Petrus doen dieselfde (1 Pet 1:7, 13) en voeg by dat dit ‘n tyd van groot vreugde sal wees (1 Pet 4:13). Hy verwys ook na die berg van verheerliking wat ‘n voorsmakie was van wat in die wederkoms vir ons wag (2 Pet 1:16). Daarop moet ons met geduld daarop wag (2 Pet 3:4).

Johannes verwys ook na een wederkoms in sy eerste brief (1 Joh 2:28), en brei meer uit oor wat in daardie tyd sal gebeur. Lees veral my bydrae oor Openbaring 20 daaroor.

Ek brei in my bydrae uit oor verskillende idees oor die wegraping. Ek kies vir ‘n wegraping wat met die wederkoms saamhang, want dit is na my mening wat in 1 Tessalonissense 4 staan.

Tong in die kies, as ek egter verkeerd is, sal ek in elk geval saamgaan, want dít is wat die Here Jesus in sy Woord aan my en ander gelowiges beloof.

2 Tessalonisense 2:1-12 – Wetteloosheid se mag sal gebreek word

Dit is duidelik dat die gemeente in Tessalonika Paulus verkeerd verstaan het.  Sy boodskap in sy eerste brief (hfst. 5) dat Jesus onverwags sou kom, is deur hulle geïnterpreteer dat Jesus moontlik reeds gekom het óf binnekort sou kom.  Dit kan ook moontlik wees dat daar iemand was wat valslik in sy naam ’n brief geskryf het (2:2) en sommige verwar het met ’n verkeerde interpretasie van sy vorige boodskap oor die wederkoms.

Paulus versoek hulle egter om nie so gou van stryk gebring te word deur misleidende interpretasies oor die wederkoms nie, maak nie saak of dit in ’n profetiese uitspraak gedoen word of deur ’n brief nie.  Daarom bevestig Paulus heel moontlik in 2 Tess 3:17 die egtheid van hierdie brief, deur die groete met sy eie handskrif te skryf.

Die wettelose mens (Antichris?) waarvan Paulus praat wat eers moet verskyn, kan óf met ’n demoniese mag óf ’n despotiese leier verbind word, iemand soos bv. die Siriese koning Antiogus Epifanes (175-164 vC – vgl Dan 11:31-39; 12:11 en 1 Makkabeërs 1:54,59) of die Romeinse keiser Gajus (37-41 nC – hy het probeer om ’n standbeeld van hom in die tempel in Jerusalem op te rig, maar is dood voor dit gebeur het), wat albei van hulle onderdane vereis het om hulle te aanbid as gode. Jesus verwys heel moontlik ook na dié wettelose een in sy profetiese rede in Markus 13:14.

As dit ’n despotiese leier sou wees, kan dit miskien dui op keiser Titus wat in 70 nC Jerusalem ingeneem het en die tempel ontheilig het.  As dit ’n demoniese mag sou wees, verwys Paulus se uitsprake na die Antichris in die eindtyd net voor die wederkoms van die Here Jesus.  Dit is ook moontlik om albei betekenisse te aanvaar, en ’n eerste vervulling met keiser Titus en ’n tweede vervulling aan die einde van die tyd hierin raak te sien (vgl 1 Joh 2:18 – daar is eintlik sprake van ’n hele paar antichriste).

Hoe dit ook al sy, die Tessalonisense het die lering verstaan, want hy het dit blykbaar die vorige keer met hulle deurgepraat.  Dit bly egter vir ons onseker presies wat hy bedoel, omdat die NT nie baie meer detail hieroor gee nie.  Dit geld ook die betekenis van die “geheime krag wat hom teëhou”.  Dit is  bv. al met die Romeinse ryk, wat op plekke die evangelie goedgesind was, verbind; ook met die evangelie verkondiging, dws dat deur die verspreiding van geloof, die wettelose teruggedryf word; ook met engele of met die Heilige Gees of God self, hoewel dit nie sin maak dat die Gees eers “uit die weg (moet) wees” nie (vers 7).

Selfs die grote Augustinus het hieroor gesê dat dit vir hom ’n onopgeloste raaisel is (City of God) … en ek dink hy het ’n punt beet! Miskien is William Hendriksen egter reg wat sê dat ons hier met ’n beskrywing van die algemene handhawing van reg en orde deur regerings en ander instansies te make het.  Wanneer dit verdwyn, sal die wetteloosheid oorneem, en is dit die einde.

Terloops, dan was daar al tye wat dit byna gebeur het: dink maar net aan die twee Wêreldoorloë van die vorige eeu, en wat tans in soveel dele van die wêreld gebeur: Afganistan, Pakistan, Iran, Irak, en baie dele van Asië en Afrika, selfs in die Amerikas en Europa …  Is daar ’n plek waar wetteloosheid nie dreig om oor te neem nie, wonder ek skielik?!

Wat wel seker is, is dat dit die Satan is wat agter die wettelose en die wetteloosheid sit.  Let egter op dat hy dit net regkry om dié te mislei wat reeds nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.  Die veroordeling kom dus nadat hulle reeds hulle keuse teen God se boodskap in Jesus Christus gemaak en Hom verwerp het.

Die Satan se werk, in die lig van wat die res van die Bybel ook daaroor skrywe, kan in 4 woorde opgesom word: versoeking (Matt 4), misleiding (1 Kon 22:21-22; Ef 6), teenspoed (Open 2:10) en aanklag (Job 1; Open 12:10).  Sy werk word daarom ook nie uitgewis deur “duiwel-uitdrywing” in die eerste plek nie, maar deur die waarheid te soek en te leef (Joh 8:31 vv; Ef 6:14,17 – hier word dit met die Bybel verbind) en getuienis te lewer (2 Kor 10:4-5; Ef 6:15,16) en biddend te lewe (Matt 6:13; Ef 6:18).

As ek al die inligting hierbo so beskou, is dit maklik om benoud te raak.  Hoe meer jy weet van wat in die wêreld aangaan, hoe meer weet jy van die mag van wetteloosheid.  Dan is die woorde waarmee Paulus hierdie perikoop begin en eindig ook vir my bedoel:

Jesus kom weer en Hy sal my met Hom herenig na Hy die wetteloosheid uit die weg geruim het!

En ek moet waak teen wetteloosheid in my eie lewe – ek kan nie ’n norm vir myself word nie, dat wat ek dink goed en sleg is, my lewe bepaal nie.  Dié voorreg behoort net aan die Here.

2 Tessalonisense 1 – God is regverdig en betroubaar

Paulus is dankbaar om te hoor van die gemeente in Tessalonika dat hulle geloof en liefde sterk toeneem (skaars Griekse woord huperauxano wat supergroei beteken!) ten spyte van vervolging en lyding.  Paulus dank God daarvoor, en praat met trots daarvan in al die ander gemeentes.  En dan bemoedig hy hulle om te volhard daarin deur na 2 eienskappe van God te verwys:

  1. God se regverdigheid, wat nie sal toelaat dat die lyding wat hulle verduur ongestraf sal verbygaan nie.  Die mense wat hulle nou laat ly, sal gestraf word met die ewige verdoemenis.[1] Let op hoe die verdoemenis geteken word as “altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here” (vers 9).  Calvyn het gepraat van ’n “onsterflike dood”.
  2. God se betroubaarheid, wat nie net sal straf nie, maar ook sal sorg dat hulle daar is om te deel in die verheerliking.  Let op dat God verheerlik sal word deur hulle standvastige geloof én dat hulle deur Hom verheerlik sal word (vers 12).

Paulus sluit dié hoofstuk met ’n gebed dat God hulle waardig sal maak vir dié lewe waartoe Hy hulle geroep het, dat Hy hulle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome sal maak – woorde wat herinner aan die eerste brief (1:3; 5:8).

Die boodskap bevredig my eie sin vir regverdigheid – lyding is nie maar toevallig of verniet nie – en gee my hoop – God sal my waardig maak vir die lewe waartoe Hy my geroep het.  Ek kan op sy regverdigheid en betroubaarheid staatmaak, in my bediening en lewe.


[1] Vers 8 praat nie soseer oor twee groepe mense nie, maar oor een.  Die tweede frase: “die wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” verduidelik die eerste frase: “die mense … wat nie vir God ken nie”.  En dit dui hier op die vervolgers van die gelowiges in Tessalonika.

1 Tessalonisense 5 – Onverwags maar nie onverwag nie

Paulus sluit duidelik in hierdie hoofstuk aan by dinge wat hy hulle met sy eerste besoek al geleer het.  Wat uitstaan van sy lering hier oor die wederkoms van die Here is die skielike onverwagse aard daarvan.  Die Here sal soos ’n dief in die nag verskyn.

Op ’n baie kunstige wyse beskryf hy die gelowiges egter as mense van die lig, wat beteken dat hulle wakker sal wees as Jesus weer kom, en dié dag dus nie hoef te vrees nie.

Die wederkoms is dus onverwags, maar nie onverwag nie!

Maar hy moedig hulle ook aan om steeds nugter en wakker te bly, interessant genoeg met dieselfde woorde waarmee hy die brief begin het: geloof, liefde en hoop (ook weer in dieselfde volgorde).  Let op die oorlogsterminologie, waarop hy later in die brief aan die Efesiërs sal uitbrei (hfst. 6).

Sy laaste woorde het met respek vir leiers, wat moontlik nog onervare sou wees, en omgee vir mekaar te make.  Die omgee sluit teregwysing sowel as bemoediging in, opkom vir die regte van mense wat kwaad aangedoen word en die beywering vir die belange van nie net medegelowiges nie, maar ook die mense van die gemeenskap.

Let op hoe hy blydskap, gebed en dankbaarheid aan mekaar verbind as die lewenstyl wat hulle moet ten toon stel. Die volgende storie illustreer iets van hoe hierdie dankbaarheid werk, en inspireer my om ook dankbaar te lewe:

Corrie ten Boom in The Hiding Place vertel van ’n insident wat haar geleer het om altyd dankbaar te wees.  Sy en haar suster, Betsy, is pas oorgeplaas na een van die ergste Duitse tronke, Ravensbruck.  Die barakke waar hulle moes slaap, was oorvol en vol vlooie. Hulle lees een oggend vers 18: “Wees in alle omstandighede dankbaar” waarop Betsy Corrie aanmoedig om die Here ook te dank vir elke detail van hulle kwartiere.  Corrie het eers geweier om vir die vlooie dankie te sê, maar op Betsy se aandrang het sy ingegee en die Here ook vir die vlooie gedank.  Met tyd het hulle agter gekom dat hulle ongehinderd kon Bybelstudie hou en bid sonder dat die wagte tussenbeide gekom het.  Dit was eers na ’n paar maande dat hulle besef het dat die wagte nie daar wou kom nie, as gevolg van die vlooie!

Hy moedig die gemeente aan om die werk van die Heilige Gees toe te laat, heel moontlik veral in die vorm van profesieë, maar met ’n onderskeidende gees.  Profesieë moet getoets word.

Hy sluit af met ’n verwysing na God wat in staat is om hulle te bewaar.

Onlangse kommentaar