Levitikus 22:1-16 handel oor ‘n vierde riglyn vir die priesters, naamlik hoe hulle die kos wat vanaf die offers aan hulle toegedeel is, moes hanteer en wie dit mag eet. Die gedagte was dat die priesters nougeset sorg dat die offers vir die Here aanneemlik is, en dat die priesters se lewenskoste daaruit voorsien word. Levitikus 22:17-33 handel oor die voorskrifte vir die offers wat die aanvaarbaarheid al dan nie van diere met allerlei gebreke gereël het. God se heiligheid moes ten alle koste beskerm en bevestig word.
Waar Levitikus 18 meer op families gerig was, Levitikus 19 op ‘n uitleg van die Tien Gebooie en Levitikus 20 meer op die gemeenskap, vervolg die Here met twee verdere stelle voorskrifte rondom heiligheid.
Die eerste is die voorskrifte waaraan alle priesters hulleself moet hou om heilig voor God te kan lewe en bedien, in terme van die dood en die huwelik, waarin die hoëpriester spesiaal uitgesonder word – 21:1-15.
Die tweede is die voorskrifte waaraan die hoëpriester homself moet hou in terme van homself – strenger voorskrifte rondom die dood en die huwelik – en sy nageslag en opvolgers – voorskrifte rondom gestremdheid – om nie die Tabernakel in die teenwoordigheid van die Here te ontheilig nie – 21:16-24.
Families en die gemeenskap is alreeds opgeroep om in alles heilig te lewe. Die verantwoordelikheid van die priesters en hoëpriester om heilig te lewe, was selfs nog groter en meer omvattend.
Levitikus 20 sit die uitleg van die Tien Gebooie voort in die eerste agt verse met spesifieke verwysing na afgode, (voorvader)geeste en waarsêers – 20:1-8. Daarna keer dit terug na die seksuele oortredings wat in Levitikus 18 genoem is – 20:9-21. Dit sluit af met ‘n opsommende opmerking oor al die wette van Levitikus 18-20 dat dié voorskrifte gehoorsaam en uitgevoer moet word sodat die Israeliete nie in dieselfde strik val as die Kanaäniete wat weens hulle sondige seksuele en afgodiese gebruike uit die land gedryf is nie – 20:22-27.
Waar die voorskrifte oor seksuele gedrag in Levitikus 18 egter meer pastoraal van aard was met die oog daarop dat elke familie hulle daaraan sou hou, wil dit voorkom asof Levitikus 20 baie meer formeel gerig is op die hele gemeenskap van Israel om hulle nie net te waarsku teen ongeoorloofde seksuele gedrag nie, maar ook die publieke hantering daarvan deur steniging, verbranding of verbanning uit te spel.
Levitikus 18 was dus meer vir die families bedoel. Levitikus 20 was meer vir die gemeenskap bedoel. Waar dit in ‘n familie nog moontlik was om hierdie dinge geheim te hou, was dit in die gemeenskap onmoontlik. Almal het die verantwoordelikheid gehad om te waak oor die seksuele gedrag in die gemeenskap en was ook verplig om by die uitvoering van die strafmaatreëls betrokke te raak.
Dit is insiggewend dat Levitikus 19 ingebed is tussen die voorskrifte oor allerhande ongeoorloofde seksuele verhoudings in Levitikus 18 en die soortgelyke ongeoorloofde seksuele verhoudings met hulle strawwe in Levitikus 20. Dit dra die betekenis dat heiligheid in die huwelik van onskatbare belang is vir die geloofsgemeenskap in die lig van die volle boodskap van die Tien Gebooie uit Eksodus 20, want ons vind elke enkele een van die Tien Gebooie hier gereflekteer. Daarom begin Levitikus 19 met die oorhoofse beginsel: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.”
Die hele uitleg van die Tien Gebooie in hierdie hoofstuk word dus op God se heiligheid gebaseer. Die voorskrifte word egter nie in die volgorde van die Tien Gebooie gegee nie. Trouens, dit is baie moeilik om die hantering van die voorskrifte in ‘n sinvolle struktuur te orden.
Dit wil voorkom asof daar ‘n losserige tematiese samehang is rondom voorskrifte vir:
aanbidding – eerste tafel van die wet rondom afgode, sabbat en die skuldoffers van Levitikus;
verhoudings – tweede tafel van die wet rondom steel, leuens, bedrog, berowing, haat, wraak, armes, vreemdelinge, en selfs landbou;
regspraak – wat onpartydig, regverdig, en billik moet wees (Hartley).
Maar selfs in só ‘n indeling is dit eintlik die verbintenis aan die Tien Gebooie wat deurslaggewend is, soos gesien kan word dat die regspraak eintlik ook met die tweede tafel van die wet te make het.
Die voorskrifte oor seksuele oortredings in Levitikus 18 word ingelei deur ‘n waarskuwing dat die Israeliete vanweë God se verhouding met hulle nie op seksuele gebied volgens die gebruike van óf Egipte vanwaar hulle getrek het, óf Kanaän waarheen hulle op pad is, mag optree nie. Die gebruike en bepalinge van die Egiptenare en Kanaäniete rondom seksuele verhoudings, vrugbaarheidsgebruike en alternatiewe patrone van familieverbintenisse mag hulle nie navolg nie, net dié wat die Here vir hulle as voorskrifte gaan gee.
Die maatstaf van rein en onrein word gebruik binne beide die polariteit van lewe en dood, normaal en abnormaal. Seks hoort in die huwelik tussen man en vrou. Dit is die normale plek waar dit beoefen moet word. Dit bring lewe. Enige seks buite die huwelik is dus abnormaal, maak ‘n mens onrein en word afgekeur. Dit bring die dood.
Trouens, dit is juis vanweë die onsedelike praktyke van die Kanaäniete wat die Here hulle uit die beloofde land gedryf het en die Israeliete daar sou vestig, dinge soos dié waaraan Sodom en Gomorra hulle skuldig gemaak het (Gen. 19). Die Here het die land beveel om die heidene uit te spoeg, omdat hulle skandelike, afstootlike en afskuwelike seksuele praktyke beoefen het. Dieselfde lot sou die Israeliete tref as hulle hulleself ook skuldig sal maak aan hierdie seksuele praktyke: “Hou julleself rein. Ek is die Here julle God.” (Lev. 18:30).
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar