Skip to main content

Tag: Levitikus

Levitikus 17 – Aan God alleen word geoffer en gehou by die verbod op die eet van bloed

Levitikus 17 begin die tweede hoofdeel van die boek, die Heiligheid Gedragskode.  Vier dinge sal in hierdie tweede hoofdeel van die boek aan die orde kom, ‘n heilige lewe (Lev. 17-20), aanbidding (Lev. 21-25), seën en straf (Lev. 26) en geloftes en tiendes (Lev. 27).  ‘n Heilige lewe sal veral gedefinieer word deur offers wat net vir God geslag word, sowel as om nie bloed te eet nie (Lev. 17), en deur hoë moreel-etiese standaarde in hulle seksuele verhoudings in familieverband te handhaaf (Lev. 18-20).

Daar word ‘n totale verbod geplaas op die offers van diere op enige ander plek as by die Tabernakel in die teenwoordigheid van die Here.  Op dié manier is nie net gesorg dat al die voorskrifte nougeset nagekom is nie, maar het die verdeling van die offer gesorg dat die Here sy voorgeskrewe deel gekry het (vet en bloed) sowel as die priesters (vleis).

Continue reading

Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde

Die eerste vers van Levitikus 16 verbind die opdragte rondom die jaarlikse Groot Versoendag – Yôm Kipper – aan die tragedie van Levitikus 10 waar die twee seuns van Aäron, Nadab en Abihu, gesterf het toe hulle ‘n ongeoorloofde offer aan die Here gebring het.  Die Here wil Aäron nou leer hoe om op die regte manier versoening vir homself, die priesters en die hele geloofsgemeenskap van Israel te doen sodat hulle van hulle sonde gereinig kan word. Die hoofstuk sluit dan ook af met die opdrag om dit as ‘n vaste jaarlikse instelling te onderhou.

Levitikus 11-15 het alreeds ‘n groot rol gespeel om die rituele reinheid uit te spel wat nodig is in terme van dieet, geboorte, bloedvloeiing en ander afskeidings sowel as velsiektes wat toegang tot die Tabernakel verleen het.  Hierdie reinheidsvoorskrifte het vir almal gegeld.  Levitikus 16 fokus egter nou op die voorskrifte vir die hoëpriester om sy groot taak om jaarliks versoening vir die volk te doen, uit te voer.  Daarom is die hoofstuk ‘n gepaste afsluiting van die eerste hoofdeel van Levitikus, die Priesterlike en Levitiese Gedragskode.  Dit verskaf ook die basis vir die tweede hoofdeel, die Heiligheid Gedragskode, wat hierna sal volg.

Continue reading

Levitikus 15 – Rituele reiniging weens seksuele afskeidings

Die voorskrifte vir reinheid wat nou al vir kos (Lev. 11), geboortes (Lev. 12), velsiektes (Lev. 13), gebruiksartikels en huise (Lev. 14) gegee is, word afgesluit met voorskrifte rondom afskeidings wat met genitalieë verband hou (Lev. 15).  Daarmee het die Here gewys dat normale seksualiteit binne die huwelik sy seën wegdra, maar dit nie iets is wat binne die ruimte van die Tabernakel hoort nie.

Daarom het normale seksuele aktiwiteit ‘n mens onrein in terme van die toegang tot die Tabernakel gemaak.  Uiteraard het dit enige abnormale afskeidings ingesluit soos dit hier uitgespel word.  Hierdie voorskrifte wys dus ook eksplisiet enige seksuele aktiwiteit by die heiligdom af soos dit wydverspreid in die ander godsdienste beoefen is, bv. verskillende vorme van prostitusie (vgl. Deut. 23:17-18). Seks het geen geestelike konnotasie gehad soos wat dit in ander godsdienste die geval was.

Continue reading

Levitikus 13-14 – Rituele reiniging ná onreinheid deur velsiektes, brandwonde, skimmel of swamme

Die onderskeid rein en onrein word in Levitikus 13 tot 14 ook in terme van verskillende soorte velsiektes of brandwonde en skimmel of swamme beskryf.  Dit het ‘n effek op mense, klere (wol of katoen), artikels van leer, of mure van huise gehad.  Die Here gee in die twee hoofstukke riglyne vir die hantering en herstel daarvan.  Die deel oor die huise is waarskynlik later bygevoeg ná die Intog, omdat hulle hier in tente gebly het.

Die reinheid en onreinheid word volgens beide die polariteit van normaal en abnormaal as dié van lewe en dood beoordeel.  Veral die velsiektes was weens die moontlike aansteeklike en dodelike aard daarvan iets wat ‘n baie strenger optrede genoodsaak het.  Die voortbestaan van die geloofsgemeenskap was op die spel aangesien daar geen effektiewe mediese hulp daarvoor bestaan het nie.

Die woord wat gebruik word vir velsiekte – ṣārǎʿǎṯ – dui waarskynlik nie op melaatsheid nie.  Wat ons vandag as melaatsheid ken – tegnies staan melaatsheid vandag as Hanson se siekte bekend – het in antieke tye as elephantiasis bekend gestaan, en word as siekte eers baie later in die antieke wêreld beskrywe.  Só ‘n siekte sou ‘n mens natuurlik ook onrein gemaak het, maar wat Levitikus beskrywe is eerder velsiektes soos psoriase, dermatitis, ekseem, pitiriasis rosea en erger verwante siektes soos sere en dergelike velaandoenings.  Gelukkig het haarverlies of skurfheid as sodanig nie as ‘n onrein velsiekte gedien nie!

Continue reading

Levitikus 12 – Rituele reiniging ná geboorte weens bloedvloeiing

Die polariteit van rein en onrein word ook in terme van geboorte, besnydenis, en bloedvloeiing beskryf met die gepaste offers wat as brandoffer en sondeoffer gebring moet word.  Let wel dat dit nie op ‘n intrinsieke onreinheid dui in terme van die vrou of haar kinders se menswees nie, maar net op die rituele onreinheid wat deur die offers herstel word op die voorgeskrewe wyse.

Sy mag dus nie aan die verrigtinge by die Tabernakel deelgeneem het voor die offers die weg daarheen oopgemaak het nie.  Die feit dat dié offers nie ‘n jaaroud lam hoef te gewees het nie, maar net twee duiwe, wys dat dié onreinheid van ‘n kleiner aard was as in die geval van konkrete sondes.  Dat dieselfde offers gebring is vir seuntjies en dogtertjies beteken dat beide geslagte as gelykwaardig beskou is.

Die onreinheid het met die uitskeidings van beide die geboorte as die bloedvloeiing te make, soos dit ook met menstruasie en ander uitskeidings die geval was (bv. Lev. 15:19 wat oor menstruasie gaan).  Die feit dat die tydperk van onreinheid verdubbel met die geboorte van ‘n dogter word egter nie verklaar nie.  Die besnydenis moes op die agste dag gedoen word, soos dit alreeds aan Abraham beveel is (Gen. 17:12).  Daarmee word kinders van die begin af ingesluit in die verbond met God.

Continue reading

Onlangse kommentaar