Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe
Die reeks opdragte van God uit die tabernakel aan Moses en nou ook aan Aäron (Lev. 10:8; Lev. 11:1) oor die offers (Lev. 1-7) en die priesterlike orde (Lev. 8-10) word nou opgevolg met die beskrywing van rituele reinheid geïllustreer in terme van reinheid en onreinheid soos dit in hulle dieet, geboortes, siektes, uitskeidings sowel as die hantering van die tabernakel gehandhaaf moet word – Levitikus 11-15. Die eerste deel van die Levitiese Kodeks sal met die beskrywing van die Groot Versoeningsdag in Levitikus 16 afgesluit word.
Onthou dat heiligheid aan die een kant die betekenis gehad het van afgesonder of gewyd teenoor algemeen of gewoon (ongewyd). Hoe nader jy aan die Here – die volmaakte Heilige – gekom het, hoe groter was die voorskrifte vir jou afsondering of heiliging aan Hom.
Heiligheid was soos konsentriese sirkels vanaf die Allerheiligste deel van die Tabernakel wat uitkring van volmaak heilig na volledig onheilig. Heiligheid is dus gedefinieer in terme van die nabyheid of afstand van die Heilige, Jahwe.
Gekoppel hieraan was die onderskeid tussen rein en onrein. Iets wat rein was, was iets wat in die breë aan sy normale funksie of riglyne voldoen het, ‘n staat van heelheid en volmaaktheid, sonder gebreke of siektes. Iets wat onrein was daarenteen, was iets wat in die breë abnormaal, gebroke of onvolmaak geword het deur siekte, misbruik of sonde.
Rein en onrein was daarom ‘n polariteit van normaal of abnormaal, heel of gebroke, volmaak of onvolmaak, in orde of buite orde, hetsy deur intrinsieke eienskappe (bv. velsiektes soos in Lev. 13) of ekstrinsieke eienskappe (bv. deur God se bevel soos hier in Lev. 11).
Onlangse kommentaar