Skip to main content

Tag: Levitikus

Levitikus 5:14-6:7 – Die skuldoffer as restitusie en regstelling van konkrete sondes

Die vyfde en laaste offer is die skuldoffer wat steeds ook tot vergifnis lei, maar meer klem lê ook op die restitusie en regstelling van die skade wat die persoon aangerig het.  Dit kon gebeur het deur sy troueloosheid teenoor die heilige dinge van God (5:14-16 – dinge wat met die heiligdom geassosieer is), of deur sy onnadenkendheid teenoor God se gebooie (5:17-19) of deur die skade wat hy ‘n ander volksgenoot skade berokken het wat in wese as troueloosheid teenoor die Here beskryf word (6:1-7).

Dit gaan oor skade wat sonder opset aan bv. die seremoniële reëls van die heiligdom of aan die besittings van ‘n volksgenoot gedoen is, bv. deur belediging, nalatigheid of berowing, waarvoor restitusie – die skade plus 20 % – gedoen moes word.  Daarom praat sommige van die skuldoffer as ‘n hersteloffer.  Uiteraard gaan dit ook oor die oortreding van God se gebooie.

Continue reading

Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes

Waar die brandoffer gehandel het met die sondigheid van die Israeliete van nature, handel die sondeoffer oor die meer konkrete sondes wat – let wel – onopsetlik, onnadenkend of nalatig gepleeg word.  Dit gaan hier oor die oortreding van God se gebooie soos dit in die Skrif vir hulle opgeteken is, of hulle nou bewus was daarvan of nie.

En vir elkeen van dié oortredings moet daar versoening en vergifnis gesoek word as dit bekend word, maak nie saak hoe dit gebeur het of wat die intensie daarvan was nie.  Sonde het ‘n mens skuldig gemaak of jy nou daarvan geweet het of nie.  “Ignorance of the law is no excuse!

Daarom vertaal sommige hierdie sondeoffer as ‘n reinigingsoffer of vergifnisoffer wat die klem op die effek van die offer plaas.  Die offer reinig en bring vergifnis.  Die woord wat in die Hebreeus gebruik word is egter ḥǎṭ·ṭā(ʾ)ṯ wat “sonde” beteken, so “sondeoffer” is die vertaling wat naaste is aan die oorspronklike.  Ek hou dus daarby.

Daar word verder ‘n duidelike onderskeid gemaak in hierdie gedeelte tussen:

  1. sondes wat ‘n groot impak op die hele volk het, d.w.s. publieke sondes (4:1-21), en
  2. sondes wat ‘n kleiner impak het as gevolg van die meer persoonlike aard daarvan (4:22-35),
  3. sondes wat ‘n nog kleiner impak het as gevolg van die kleiner belang daarvan (5:1-13).

Continue reading

Levitikus 3 – Die maaltydoffer as gemeenskap met God en mekaar

Waar die brandoffer versoening gebring het tussen God en sy mense (vgl. die riglyne oor bloed en verbranding), en die graanoffer die verbond met God bevestig het (vgl. die riglyne oor suurdeeg en sout), het die maaltydoffer die gemeenskap met God en mekaar gevier.  Daarom is die vet van die binnegoed verbrand vir God en die vleis geëet deur die familie.  Selfs die priesters het daarin gedeel (Lev. 7).  Almal kon deel in die gemeenskap wat die verbond tussen hulle tot stand gebring het.

Die beskrywing van die maaltydoffer is aan die hand van die tipe dier wat geoffer word, ingedeel, telkens afgesluit met die beskrywing daarvan as ‘n vuuroffer: ‘n bees – vers 1-5; ‘n skaap – vers 6-11; ‘n bok – vers 12-16.  Vers 17 rond dit af met die opmerking dat dit vir altyd só in die geslagte nagekom moet word.

Hierdie offers is by die ingang van die tent van ontmoeting geslag, want dit is waar die grootste deel van die offer deur die deelnemers gekook en geëet sou word.

Continue reading

Levitikus 2 – Suurdeeg word verbied en sout gebied by die graanoffer

Die tweede hoofstuk vervolg met die tweede tipe offer aan die Here, die graanoffer van koring (nie van gars nie).  Weereens word nieseksistiese taal gebruik in die eerste vers: “Wanneer iemand vir die Here ’n graanoffer wil aanbied.”  Die vertaling “iemand” word in die vers gebruik vir die Hebreeuse něp̄ěš wat in hierdie konteks ook met “persoon” vertaal kan word.

Die graanoffer kon uit rou meel bestaan (met olie en wierook daarop), of in die vorm van gebakte broodringbrood in ‘n oond (keramiek pot), of roosterkoeke/platbrode van ‘n bakplaat of rooster af – of gebraaide vorm – diepgebraai, soos met oliebolle, of gerooster in ‘n bakpan, soos met gebraaide koring – aangebied word.

Die graanoffer moes sonder suurdeeg voorberei word, ook sonder heuning – hierdie heuning is waarskynlik eerder die “mos” van bv. druiwe wat gegis het.  Die suurdeeg was ‘n simbool vir die sonde soos ons uit die NT gebruik van hierdie metafoor aflei (vgl. hieronder).  Die suurdeeg van die sonde moes dus vermy word.

Dit kan ook wees dat die verbod op suurdeeg en heuning by die offers ‘n poging is om heidense rites te vermy, want die twee bestanddele was baie in die omringende volkere se rituele gebruik.  Die enigste uitsondering was vir die eerstelingoffer uit die eerste graan of vrugte van die oes waarby suurdeeg en heuning (“mos”) wel gevoeg kon word (Eks. 23:16).

Die graanoffer moes wel met sout voorgesit word. Die sout was weer die herinnering aan die krag van die verbond met God wat heeltemal beslag gelê het op hulle (vgl. ook Num. 18:19).

Continue reading

Levitikus 1 – Almal moes volmaakte en aanneemlike brandoffers bring vir die Here

Die eerste hoofstuk gee die raamwerk waarbinne die hele boek van Levitikus verstaan moet word.  Dit is Jahwe wat uit die Tabernakel, die tent van ontmoeting, met Moses praat.  Hy is die Bevelvoerder en Wetgewer.  Sy woorde gaan die deurslag gee in die wyse waarop Hy aanbid en gehoorsaam moet word in die geloofsgemeenskap.  Dit is ook opmerklik hoe nieseksistiese en nierassistiese taal gebruik word wat beteken mans en vroue kon offer, sowel as Israeliete en vreemdelinge.  Daar is selfs vir arm mense voorsiening gemaak.  Die offers moes uiteraard aan Jahwe alleen geoffer word en volmaak en aanneemlik aangebied word.

Continue reading

Onlangse kommentaar