Lees Levitikus saam met my van 12 April af
Watter boek in die Bybel bevat die meeste direkte woorde van God? Jy sal waarskynlik verbaas wees dat dit die boek Levitikus is! Dit verklaar die geweldige betekenis wat die Jode aan die boek geheg het. Dit was die “go-to” boek as jy wou weet hoe jy met God en met jou naaste moes leef.
Jy sal waarskynlik nog meer verbaas wees as jy agterkom dat daar kwistig uit Levitikus in die NT aangehaal word. Jesus haal daaruit aan. Paulus haal daaruit aan. Petrus haal daaruit aan. Trouens, die tema van sy eerste brief is geskoei op die frase uit Levitikus: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Die skrywer van Hebreërs baseer bykans sy hele boodskap op die boek Levitikus. Daar is dus eintlik nie ‘n NT boek wat nie uit Levitikus aanhaal of verwysings daarheen het nie.
Hoekom? Want Levitikus is ‘n boek oor verhoudings, die verhouding met God en die verhouding met jou naaste. Dit lê die dubbele liefdesgebod van die Tien Gebooie van Eksodus 20 in presiese detail uit, sodat daar geen onsekerheid kan bestaan oor wat pas en wat nie pas nie beide in die verhouding met God sowel as in die verhouding met jou naaste.
Uiteraard is daar dinge wat nie meer op jou van toepassing is in die nuwe bedeling nie. Jy kan maar kreef en barber eet as dit jou smaakkliere kielie! Jesus het immers alle kos rein verklaar (Mark. 7:19). Dieselfde geld mense wat om verskillende redes as kulties onrein en onheilig geag is in Levitikus. God het vir Petrus: “gewys dat (hy) geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.” (Hand. 10:28).
Maar jy maak ‘n fout as jy dink dié boek het net daarmee te make. Of as jy dink dit is nie meer deel van die Bybel as die Woord van God nie.
Onlangse kommentaar