Hoe Saulus gedink het dat hy al die Christene wat verstrooi is – deur sy eie Jodegenote! – in Damaskus (240 Noord van Jerusalem) kon gevange neem en in Jerusalem kon kom stilmaak deur hulle daar in die gevangenis te gooi, weet net hy alleen. Dit was ‘n desperate poging wat nooit kon slaag nie.
Wat sy aksies wel laat gebeur, is dat Jesus self ingryp, en van die besete Saulus ‘n begeesterde apostel maak. Let op dat dit Jesus self is, en nie die Gees nie, wat vir ons wys dat Jesus steeds aktief hier op aarde is, al is Hy na sy liggaam by God.
Die verhaal van Filippus en die Etiopiër is belangrik om verskeie redes:
Dit gee ons ‘n prentjie van hoe God, spesifiek Jesus en die Gees, aktief is onder ons. Jesus, die Here, gee deur ‘n boodskapper, die engel, leiding. In die OT was dié engel van die Here een van die maniere waarop Sy teenwoordigheid op aarde ervaar is (dink aan Abraham en die drie besoekers in Gen 18). God doen dit ook deur die Gees wat opdragte gee. Die Gees neem selfs vir Filippus fisies na ‘n ander plek aan die einde van hierdie verhaal.
Ons lees vandag twee verhale: 1) dié van Saulus wat soos ’n besetene die vervolging teen die Christene aanpak en hulle in die gevangenis laat gooi, en 2) dié van Filippus wat juis besetenes verlos van hulle gevangenskap en groot blydskap bring in Judea en Samaria.
8:1-3
Die godvresendes (vromes, godsdienstiges) waarvan Lukas hier praat was waarskynlik Jode wat simpatiek was met die lot van Stefanus en die Christene. Dieselfde woord word gebruik om Simeon te beskryf by Jesus se geboorte (Luk 2:25) sowel as vir die Jode wat op Pinksterdag na Petrus geluister het (Hand 2:5). Daar is ook ’n oorlewering dat Gamaliël, net soos Josef van Arimatea met Jesus gedoen het, vir Stefanus in sy eie graf laat begrawe het (de Villiers), hoewel dit nie met historiese sekerheid gesê kan word nie.
Vandag se leeswerk fokus op die stimulus vir, aan die een kant, die vervolging van die Christene en, aan die ander kant, vir die uitbreiding van die evangelie. En die hoofkarakter is Stefanus wat gevang word weens sy impak op die volk, kans kry om op omvattende wyse te getuig van hoe Jesus in die hele geskiedenis van die volk van Israel ingebed is, en uiteindelik vir Hom gestenig te word.
Let weereens op hoe Stefanus se bediening met die woorde wonders en tekens beskryf word, net soos nou al ’n refrein in die boek Handelinge geword het. Dit getuig van die werklikheid van God se werk in die lewe van Sy dissipels.
Verandering kom nie sonder pyn nie, en ook nie sonder dat ’n mens oor grense uitreik nie. Daar is ’n wonderlike aanhaling van Stanley Kunitz wat dit vir my treffend uitbeeld: “The heart breaks and breaks and lives by breaking. It is necessary to go through dark and deeper dark and not to turn” (The Testing-Tree). Hoewel hy dit meer persoonlik bedoel, dink ek dit is net so van toepassing op die kerk se lewenstyl. Dit sê iets van die pyn asook iets van die deurdruk, die aanhou en uithou totdat God sy doel met ons bereik het. Die donker van lyding moet getrotseer word sonder om om te draai of terug te deins, die oog gevestig op die Leidsman van die geloof wat nie net vir ons ’n voorbeeld gelaat het om na te volg nie, maar saam met ons die pad stap.
Ons gaan dié week lees oor die pyn van vervolging en ontworteling, van mense wat in die tronk gegooi word vir hulle geloof, en uitgedryf word weg van hulle eie omgewing … en in die proses sin en betekenis vind in die uitreik met die evangelie. En die eenvoudige boodskap aan ons is dat verandering nie op ’n ander manier kom nie en dat ons net moet aanhou en moedhou en vashou aan die Een wat met ons saamgaan, die Here Jesus deur die werking van Sy Gees.
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar