Skip to main content

Tag: Handelinge

Handelinge 5:1-6:7 – Die kerk groei in heiligheid en helende krag

5:1-11

Die storie van Ananias en Saffira is erg ontstellend. Veral die feit van hulle dood, en dat in die geval van Saffira Petrus letterlik vir haar sê dat die dood haar straf sal wees. Dat hulle probeer het om die gelowiges en vir God mislei, is skreiend, en tugwaardig, maar die doodstraf onthutsend. Die gevolg is vrees onder die gelowiges sowel as die gemeenskap, waarskynlik in die sin van ontsag.

Dit illustreer iets van God se heiligheid wat ons vandag nie na waarde skat nie.  Ons dink dat sy geduld met ons swakhede gelyk is aan ’n oorsien- en laat-maar-staan houding. Oral waar Hy regtig gedien word, en die koninkryk in Sy krag kom, word die standaard vir die gelowiges gelig, juis omdat hulle nader aan Hom leef en daarom met groter verantwoordelikheid en ontsag moet lewe vir wat God wil en doen.  Niemand lieg vir God en kom uiteindelik daarmee weg nie.

Continue reading

Handelinge 4:1-37 – Die Heilige Gees maak die eerste gemeente vrymoedig en vrygewig

4:1-22

Dit tref my hoe ’n belangrike rol die wonders en tekens speel in die eerste fase van die gemeente van Jerusalem se getuienis na hulle Joodse gemeenskap.  Dit konfronteer die mense en veral die leiers met die aktiewe teenwoordigheid van God in die voortgang van die bediening van Jesus deur die kragtige werking van die Heilige Gees.  Daarop reageer ’n hele paar duisend Jode met oorgawe deur hulle tot die Here te bekeer en deel van die gemeenskap van gelowiges te word.

Dit is egter nie die geval met die Joodse leiers nie.  Hulle reageer met onthutste woede en sluit die apostels op.  Wanneer die apostels egter vir hulle verduidelik met Wie se krag hulle die wonders en tekens doen, en hulle nie juis kan ontken dat daar iets wonderliks gebeur het nie, probeer hulle die impak daarvan omseil deur hulle te dreig om nie verder in die Naam van Jesus te preek en werk nie.

Continue reading

Handelinge 3:1-26 – God gee geloof sodat ons kan glo

3:1-10

Dit is opmerklik dat die eerste fase van die dissipels se bediening steeds in die tempel plaasvind, dié tempel wat Jesus self “gereinig” het en in die laaste week van sy aardse bediening die mense geleer het (Luk 19-21).  Die tempel is dan ook die plek waar die eerste wonder plaasvind in die bediening van die apostels.  Let op hoe die verlamde man vir Petrus en Johannes sien  – die normale woord vir kyk eidoo – en hulle hom dan stip aankyk – ’n woord wat die betekenis van toegespitste aandag oordra antenizoo (attentive).  Hulle vra hom dan om na hulle te kyk – nog ’n Griekse woord blepoo wat ook die metaforiese betekenis kan dra om met begrip te kyk.  Dit is wanneer hy só reageer, dws met verwagting, dat hulle hom die gawe van gesondheid in die Naam van Jesus gee.

Hierdie wonder het beteken dat hulle boodskap nou nie net deur die wonder van die Heilige Gees se uitstorting gerugsteun is nie, maar nou ook deur dieselfde wonders wat Jesus gedoen het.  Binne dae het hulle bediening onder almal se aandag gekom, wat aan die een kant as teken gedien het dat Jesus se bediening voortgesit word deur die apostels in dieselfde krag waarmee Hy opgetree het.  Maar aan die ander kant ook skerp teenstand van die godsdienstige leiers uitgelok het, iets wat natuurlik toenemend in Jesus se eie bediening gebeur het en tot sy dood gelei het, en wat hierna so fel sou toeneem dat daar ’n grootskaalse vervolging van die Christene sou uitbreek.

Continue reading

Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies

Die uitstorting van die Heilige Gees – 2:1-13

Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na Sy hemelvaart.  Pinksterfees was ’n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus.  Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor.  Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.

Continue reading

Handelinge 1:1-26 – Wag op die gawe van die Heilige Gees

Die verspreiding van die goeie nuus oor Jesus begin uiteraard in Jerusalem, die plek waar God Homself deur die eeue geopenbaar het.  Let op hoe die fondasie van die kerk se werk verbind word aan 1) die lewe van Jesus, alles wat Hy gedoen en geleer het, 2) die lyding, sterwe en opstanding van Jesus, 3) die nuwe lewe van Jesus wat Hy met “baie onbetwisbare bewyse” aan hulle gedemonstreer het, 4) die belofte en gawe van die Heilige Gees waarsonder hulle die werk nie kan aanpak nie, 5) die beskrywing van die binnekring dissipels as apostels – dws gestuurdes, en 6) die verkiesing van ’n 12de apostel om simbolies die 12 stamme van Israel te verteenwoordig.

Let ook op dat hulle nou in huise begin bymekaarkom, die begin van die skuif van die teenwoordigheid van God nie net in die tempel nie, maar in elke huis waar Hy gedien word.  Hoewel die eerste fase van hulle werk steeds gereeld by die tempel sal plaasvind, sal dit toenemend in huise wees regdeur die Romeinse ryk.

Continue reading

Onlangse kommentaar