Skip to main content

Tag: Handelinge

Handelinge 25:1-26:32 – Paulus verkondiging die evangelie aan koning Herodes Agrippa

Festus se regering het in 60 nC begin, en die hantering van Paulus se saak, wat nou al 2 jaar in die tronk is, neem baie dieselfde verloop as onder Felix se regering.  Die Jode probeer konkel om Paulus te vermoor, maar dit word gefnuik.

Wat anders is hierdie keer, is dat die koningshuis van Juda betrek word (soos dit ook met Jesus was – Luk 23:8), en Paulus die evangelie aan (Markus Julius) Agrippa II, een van die Herodes konings, en ook aan sy suster Bernice, kan verkondig. Sy oupa Herodes Antipas (Luk 9:9; 23:8) het baie belanggestel in Jesus self, hoewel sy pa, Agrippa I, weer verantwoordelik was vir die dood van Jakobus (Hand 12:1-2).  Hy is op bonatuurlik wyse dood (Hand 12:23 – deur ’n engel van die Here).

Continue reading

Handelinge 23:1-24:27 – Paulus verkondig die evangelie aan die Romeinse goewerneur Feliks

Voor die Joodse Raad

Waar Paulus met sy aanvanklike gevangeniskap nog die volk probeer oortuig het van die waarheid van die evangelie, en hy selfs die kommandant op sy regte gewys het as Romeinse burger om ’n regverdige verhoor te kry, wat natuurlik voorkom dat die kommandant sy eie wette oortree, is dit duidelik dat Paulus vreesloos is vir die Joodse Raad.  Hy lewer ’n sterk getuienis vir beide sy onkreukbaarheid in terme van sy Joodse agtergrond sowel as sy keuse vir die evangelie van Jesus Christus, en gooi die spreekwoordelike kat in die hoenderhok met sy opmerking oor sy geloof in die opstanding, wat die faksies in die Joodse Raad ontbloot en teen mekaar laat draai.

Let op dat die Here Jesus weereens persoonlik aan Paulus verskyn om hom moed in te praat en die belofte/opdrag te gee dat Paulus hierdie getuienis tot in Rome sal bring.

Continue reading

Handelinge 21:1-22:30 – Die Gees se woorde moet in die lig van jou roeping interpreteer word

Hierdie twee hoofstukke vertel van Paulus se reis na Jerusalem en die gebeure wat aanleiding tot die drie hofsake sal gee wat hom uiteindelik tot in Rome sal neem.

Hoe om die Gees se woorde te interpreteer

Die rol van die Heilige Gees in hierdie gedeelte, en die wyse waarop die gelowiges Hom ervaar, is baie interessant en insiggewend vir ons eie verstaan van Hom en vir ons onderskeidingsprosesse.

  • Dat die Gees vir Paulus voorberei vir ’n pad van lyding wat vir hom wag, is duidelik, soos Paulus vir die ouderlinge van Efese in Milete reeds gesê het (20:22-24) en soos die Here Jesus self vir Ananias opdrag gegee het om vir Paulus reg aan die begin van sy roeping te sê: “Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” (9:16) Dit was immers nie anders in die lewe van Jesus nie – Hy moes ly om die wil van God te vervul!  Lyding sou deel van die roeping van Paulus wees.  Dit was duidelik reeds reg aan die begin van sy roeping.
  • Die gelowiges in Tirus het ook hierdie boodskap van lyding van die Gees gehoor, maar wil Paulus dit spaar en raai hom aan om nie Jerusalem toe te gaan nie (21:4).  Dit sou egter Paulus se lewensroeping en die persoonlike woord van die Gees in sy lewe dwarsboom (20:2-24).  Hy kan dus nie inval met hulle goedbedoelde, maar misplaaste raad nie, en gaan, nadat hulle saamgebid het, verder op die reis, juis na Jerusalem.
  • Netso kom die profeet Agabus in Sesarea met die waarskuwing aan Paulus dat hy aan die heidene uitgelewer sal word, weereens onder leiding van die Heilige Gees (21:10-11).  Die waarskuwing is egter vir Paulus ’n bevestiging dat hy nie moet terugdeins van die lyding wat vir hom wag nie, maar juis moet volhard in sy voorneme om Jerusalem toe te gaan.  Tot Agabus se krediet volstaan hy met Paulus se reaksie op sy woord.
  • Hieruit sien ’n mens die gevaar wat altyd in geestelike onderskeiding bestaan.  ’n Mens hoor dieselfde woord van die Heilige Gees – ’n waarskuwing byvoorbeeld – maar maak afleidings daaroor in terme van ’n mens se eie denke – ’n mens moet gevaar vermy byvoorbeeld.  Paulus daarenteen doen die regte ding, en verbind die woord van die Gees aan sy lewensroeping – lyding gaan deel wees van jou pad – en loop die pad van lyding met blymoedige dapperheid.

Continue reading

Handelinge 19:21-20:38 – Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang

Paulus besluit om terug te gaan na Griekeland – Masedonië (met die stede Filippi en Tessalonika) en Agaje (met hoofstad Korinte)  – en dan na Jerusalem en uiteindelik ook Rome te gaan.  Hy stuur Timoteus en Erastus vooruit en bly nog ’n ruk lank in Efese (Turkye).  Daarmee word die breë lyne van die verhaal wat hom gaan afspeel na die einde van die Handelinge getrek.

Die botsing tussen die Christelike godsdiens (die leer van die Here) en die heidense godsdienste van Efese bereik nou ’n hoogtepunt, met veral die vakmanne wat beswaar maak teen die effek wat die Christelike geloof op hulle beroepsbeoefening het.  Demetrius stook die onrus aan vanuit sy persoonlike situasie, maar spel ook die gevolge uit wat die evangelie op die publieke respek vir die godin Artemis het, en haar aanhang sal laat kwyn, en natuurlik hulle inkomste dan sal bedreig.

Continue reading

WEEK 10: Handelinge 19:21-28:31

Ons begin hierdie week aan die laaste hoofstuk in die verhaal van die evangelie van Jesus Christus lees wat ons van Jerusalem tot in die hartjie van die hoofstad van die Romeinse ryk neem.  Paulus word verhoor deur dieselfde 3 trubinale as Jesus:
  • die Joodse Sanhedrin (Hand 22 – soos in Luk 22)
  • die Romeinse goewerneur (Hand 25 – soos in Luk 23)], en
  • een van die Herodes konings (Hand 25 – soos in Luk 23 – in hierdie geval Julius Markus Agrippa)

Die resultaat is dat Paulus op ’n nuwe reis gaan, dié keer na Rome toe, waarmee die evangelie tot in die hart van die Romeinse ryk versprei.  Daarmee word bevestig dat die goeie nuus van God se redding vir alle mense is:

Continue reading

Onlangse kommentaar