Johannes 7:37-39 – Hy wat in My glo, strome lewende water sal uit sy binneste vloei
Johannes 7:37-39 – Hy wat in My glo, strome lewende water sal uit sy binneste vloei
37En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! 38Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ ” 39Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.
Gedurende die huttefees was daar ’n spesiale ritueel waarin water uit die Siloam poel by die altaar uitgegooi is as teken van die water wat God uit die rots in die woestyn gegee het (Eks 17). Met hierdie simboliek het die Jode teruggedink aan die gawe van water in die woestyn, ‘n paar keer spesifiek uit ‘n rots. Hulle het ook vir God dankie gesê vir die reën wat Hy vir hulle gee en die bede uitgespreek dat Hy sal aanhou om hulle so te seën. Jesaja 12:3 is in die oggend-liturgie gebruik: “Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding.” Jesus se lering op die laaste dag van die fees (die 8ste dag – Lev 23:36) staan dus in direkte verband daarmee. Hy gee ‘n ope uitnodiging aan almal wat dors het om na Hom te kom en te drink. Jesus sluit hierby aan met sy lering oor die Gees wat strome lewende water uit gelowiges sal laat vloei (Jes 44:3; 58:11 – vgl Joh 4:10). Soos God toentertyd gewone water gegee het, só gee Jesus geestelike water vir dié wat in Hom glo (Jes 55:1; vgl Open 22:17). Letterlik: Uit sy binneste (maag/binnekant – figuurlik gebruik: binneste) sal lewende (vars, verkwikkende) water vloei.
Dit is eintlik ongelooflik wat hier gesê word. Waar Jesus begin het met die Jode se eie dors wat Hy vir hulle kan les – soos Hy immers ‘n paar dae te vore ook vir die Samaritaanse vrou gesê het, sy moet by Hom die lewende water kom drink, dws die water wat die ewige lewe gee – vervolg Jesus met die radikale gedagte, dat dié wat in Hom glo, wat die ewige lewe hét, kanale van lewende water sal wees wat ‘n impak in die wêreld sal maak! Ons drink nie net in geloof van die lewende water wat Jesus gee nie. Ons eie dors word nie net geles nie. Ons word self kanale van lewende water vir ‘n dors wêreld! Uit ons binneste raak die Heilige Gees mense aan met die lewende water van God. En soos Johannes dit verklaar, dit verwys na die Heilige Gees wat God binnekort aan elkeen sou gee wat in Jesus glo.
John Taylor noem die Heilige Gees, die “Go-between-God” in sy boek met dieselfde naam. Die Heilige Gees is die een wat tussen ons en Jesus staan, die een wat in ons bly sodat ons aan Jesus verbind kan bly. John noem die Gees die koppelteken in die U-ek verhouding, die een wat sy hand op God lê en op my en ons aan mekaar verbind. Maar, omdat Hy tussen ons staan en sy doel eintlik is om ons by Jesus en by God uit te bring, is Hy natuurlik ook die onsigbare God, die deus absconditus, die verborge God. Lossky, ‘n ander teoloog, sê: “The Holy Spirit, as Person, remains unmanifested, hidden, concealing Himself in His very appearing.” (aangehaal in Michael Welker se The Work of the Spirit). Daarom is God se Gees die Een wat anoniem is: “working anonymously and on the inside; the beyond in the midst.” ‘n Mens raak dus van die Gees bewus wanneer jy stil word en aan die verborge dinge dink, dinge waarvoor jy waardering het (troos), of dinge wat jou ontstel (ruk). ‘n Mens kan terugdink aan die dinge waaroor jy dankbaar is – dít is “heilige momente” in jou lewe waarin jy God se seënende hand in jou lewe kan raaksien. Of jy kan terugdink oor dié dinge wat jou ontstel het, wat jou binneste op hol jaag. Só raak ‘n mens bewus van jou behoefte aan God … en van hoe Hy daardie behoefte kan bevredig. En in dié terugdink – begin die Gees met jou praat! Les Jesus jou dors. “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”
Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-71-52-wie-is-jesus-vir-jou/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Liztha Luttig
Op watter maniere kan ek help om Lewende Water te gee
Chris van Wyk
Hi, dit is gewoonlik op drie maniere: gebed, gee, gaan. Jy kan bid vir mense. Jy kan ondersteuning gee. Jy kan betrokke raak by mense wat oor jou pad kom. Die Here gebruik sulke geleenthede om sy lewende water na mense te laat vloei.