Psalm 63:1-12 – God se troue liefde is beter as die lewe
Psalm 63:1-12 – God se troue liefde is beter as die lewe
1‘n Psalm. Van Dawid. Toe hy in die woestyn van Juda was. 2God, U is my God, na U soek ek; my siel dors na U, my liggaam smag na U in ‘n droë, uitgeputte land sonder water. 3So het ek uitgesien na U in die heiligdom, om u krag en glorieryke teenwoordigheid te ervaar, 4want u troue liefde is beter as die lewe. My lippe sal U roem; 5so sal ek U prys in my lewe; in u Naam sal ek my hande ophef. 6Asof van binnevet en die vetste dele word ek versadig; en met jubelende lippe bring my mond lof 7as ek aan U dink op my slaapplek, as ek in die nagwake oor U prewel. 8Want U was vir my tot hulp, en in die skadu van u vlerke jubel ek. 9My diepste wese is aan U verknog; u regterhand ondersteun my. 10En daardie mense wat daarop uit is om my lewe te verwoes, hulle sal die onderste dele van die aarde binnegaan. 11Hulle sal aan die mag van die swaard uitgelewer word, die prooi van jakkalse sal hulle word. 12Die koning sal hom in God verbly; elkeen wat by Hom sweer, sal in Hom roem. Want hulle wat leuens verkondig se monde sal gesnoer word.
Hierdie Psalm is vir baie van ons bekend deur die lied van Rhe Janse soos onder andere opgeneem deur Willie Joubert en Louis Brittz (FLAM 22). Ek plaas dit aan die einde as jy dit wil sing of bid. Die Psalm word in die eerste vers geassosieer met Dawid se verblyf in die Judawoestyn, die onherbergsame reënlose gebied tussen Jerusalem in die middel van die land en die Dooie See aan die oostekant. Saul is steeds besig om hom aktief te vervolg (1 Sam 23-24). Dit is egter ook die plek waar Moses se skoonfamilie, die Keniete, vroeër saam met die stam van Juda kom bly het en die bergland ingeneem het met die Intog in die land Kanaän (Rigt 1:16). Dit is dus ook ’n plek waar God sy teenwoordigheid in die verlede aan sy voorsate laat blyk het.
Let op die diep behoefte wat Dawid aan God het wat hy uitdruk met werkwoorde soos soek¸ dors, en smag. Die woestyngebied waar hy is, raak vir hom ’n metafoor van sy lewe – sonder God is die lewe sonder enige fut en genot. Hy wil eerder die hele lewe leef in die teenwoordigheid van die Here, uitgedruk met die metafoor van die heiligdom. Hy wil God se mag en grootheid ondervind, want God se troue liefde (gêsêd) is meer werd as enigiets anders wat die lewe kan bied. Sy hele lewe moet ’n verheerliking van die Here wees, uitgedruk met die metafoor van sy hande wat saam met die geloofsgemeenskap opgehef word om God se naam te prys. Hy wil van dié God sing wat sy goeie gawes met almal deel. Dié gedagtes bring ’n groot berusting by hom in die verlatenheid van die woestyn, selfs as hy in die nag op sy bed aan God en sy plan vir sy lewe nadink. Want, selfs daar, ondervind hy dat God vir hom ’n hulp en beskerming is, uitgedruk met die metafoor van die vleuels van die gerubs wat in die heiligdom beskerming bied, iets wat uiteindelik ook ‘n fisiese werklikheid geword het met die inbring van die ark in die tabernakel in Jerusalem (vgl 2 Sam 6). Daarom bly Dawid altyd naby God, onder die vleuels van sy teenwoordigheid, waar hy niks anders as God nodig het nie.
Vanuit die ondersteuning wat Dawid beleef in sy meditasie oor God se liefde, hulp en beskerming, bid hy dat die mense wat sy ondergang soek, sal wegsink in die dieptes van die aarde, dat hulle aan die swaard oorgegee en aas vir die jakkalse sal word – ’n gebed wat in Saul se geval uiteindelik beantwoord is (1 Sam 31). Daarteenoor bid hy dat die Here hom as koning – hy is op dié stadium gesalf, maar nog nie gevestig as koning nie – sal toelaat om hom in God te verbly, trouens dat almal hierdie voorreg om God te prys, sal kan beleef. Trouens, sy gebed is dat: “elkeen wat by Hom sweer” – hulle op Hom verlaat – uiteindelik op God sal kan roem, omdat God hulle teenstanders se monde gesnoer het. Dawid herinner God dus aan die belofte dat hy koning sal word, maar dit gaan nie vir hom soseer oor die koningskap as sodanig nie. Dit gaan oor die diep behoefte om in vryheid God se naam saam met ander te mag prys. Na alles is dít immers die hoofdoel van die mens: “om God te verheerlik en vir ewig te geniet”, soos die Westminster Kategismus dit in sy eerste vraag en antwoord so diepsinnig stel. Dit gee ons ook ’n perspektief op Dawid se gebed vir die dood van sy teëstanders. Dit is nie dat hy per se wraakgierig is en hulle uit die weg wil ruim, omdat hulle hom bedreig nie, maar omdat hulle die vrye aanbidding van die Here bedreig en niks in die pad daarvan mag staan nie. Nogal iets om oor na te dink!
Die Psalm herinner ons dus daaraan dat daar ’n verhouding met God moontlik is wat só diep is, só bevredigend, só vervullend, dat dit die beste wat jy in die lewe kan ervaar, oortref en dat selfs die slegste wat met jou kan gebeur, dié verhouding met God nie kan versteur nie. Dra met die woorde van die lied hierdie Psalm saam met jou vandag.
- Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees. - As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.
Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-63-ek-bly-altyd-naby-u/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar