Matteus 10:34-42 – Jesus beloon dié wat Hom bó alles en almal lief het
Matteus 10:34-42 – Jesus beloon dié wat Hom bó alles en almal lief het
34“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 35Want Ek het gekom om ‘n wig in te dryf, “ ‘tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, en tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder; 36en ‘n mens se vyande sal sy eie huismense wees.’ 37“Wie sy vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie, en wie sy seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. 38En wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie waardig nie. 39“Wie sy lewe behou, sal dit verloor, en wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit behou.” 40“Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die beloning van ‘n profeet kry, en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die beloning van ‘n regverdige kry. 42En wie aan een van hierdie geringes ‘n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy ‘n dissipel is – Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis sy beloning nie kwyt wees nie.”
Jesus gaan voort om sy dissipels te onderrig vir hulle sendingtaak. As sy boodskapdraers moet hulle verwag dat dieselfde lot hulle sal tref as vir Hom, want Jesus het nie gekom om vrede op aarde te bring nie, eerder die swaard. Die swaard verwys na publieke vervolging en vernietiging, maar ook na private verdeeldheid in families – ‘n man teen sy vader, ‘n dogter teen haar moeder, ‘n skoondogter teen haar skoonmoeder (vgl Miga 7:6). Trouens, ‘n mens se familielede sal sy vyande wees. Daar is ‘n moontlike band tussen hierdie beskrywing van die verdeeldheid wat in families kan kom rondom die evangelie en die beskrywing van die priesters en Leviete wat eerder aan die Here gehoorsaam was as aan hulle families om Israel die wil van God te leer. Moses het daarom vir hulle in die woestyn gebid dat hulle die moed van hulle oortuiging sal hê om in hulle Godgegewe taak te volhard, kom wat wil (Deut 33:8-11). Soos Jesus dan nou ook sy dissipels leer. Hulle moet onbevreesd in hulle getuienis wees, maak nie saak wat die gevolge is nie. Die Here sal hulle getuienis gebruik al beteken dit dat daar onvrede kan kom tussen gesinslede en familielede oor die boodskap van Jesus.
Jesus gaan verder om die dissipels te staal teen die verdeeldheid wat hulle in families kan ervaar, en verklaar dat wie pa of ma “meer liefhet” (phileō) as vir Jesus, Hom nie werd is nie. Dieselfde geld ouers wat hulle seun of dogter meer liefhet as vir Jesus. Hulle is Hom ook nie werd nie. Om Jesus te volg, is ‘n kruispad. Wie sy kruis nie opneem en agter Jesus aan gaan nie is Hom nie werd nie. Hy wat die kruispad probeer vermy om sy lewe te behou – hetsy deur martelaarskap te vermy, of verdeeldheid in families – sal dit juis verloor. Dit is net dié wat bereid is om hulle lewe ter wille van Jesus te verloor, wat op paradoksale wyse hulle lewe sal behou. Soos in boekhou is daar egter nie net ‘n debiet kant aan dissipelskap nie. Ook ‘n krediet kant! Jesus sluit hierdie gesprek af deur hulle te bemoedig dat hierdie “kruisdra” ‘n duidelike boodskap vir die wêreld sal inhou dat hulle regtig Jesus se verteenwoordigers is. En waar hulle as sy boodskappers ontvang word – dit verwys na mense se huise sowel as hulle boodskap (vgl Matt 10:11-14) – sal die luisteraars die voorreg ontvang om in Jesus se teenwoordigheid, en die Een wat Hom gestuur het, sy Vader, te kom. God se teenwoordigheid vergesel dus die dissipels se sendingwerk. Dit is die ontvangers se hulle beloning.
Dieselfde geld die ontvangs van profete en regverdiges. Want hulle verteenwoordig ook die Here God. Die agtergrond hiervoor kan moontlik die verhale van Elia en Elisa wees waar die weduwee van Sarfat se meel en olie nie opgeraak het nie (1 Kon 17:8-24), en die vrou van Sunem ‘n kind van die Here ontvang het (2 Kon 4:7-37). Ontvanklikheid vir God se boodskap het nie net geestelike waarde nie, maar ook ‘n aardse seën. Dieselfde geld die ontvangs van “hierdie geringes (kleintjies)”. Dit is verwys duidelik na die dissipels, soos die verwysing “net omdat hy ‘n dissipel is” uitspel (vgl Matt 25:40, 45). Wie ook al vir ‘n dissipel ‘n koppie koue water gee, net omdat hy ‘n dissipel is, sal ook sy loon nie verloor nie. Normaalweg was ‘n koppie koue water ‘n vanselfsprekende deel van gasvryheid in die Midde-Ooste. Jesus belowe egter om selfs só ‘n normale vanselfsprekende hulp aan ‘n dissipel te beloon. Jesus vra dus nie van ons dat ons liefdeloos raak nie. Hy vra van ons ‘n bereidheid om vir Hom te kies as die keuse tussen lojaliteit aan Hom en lojaliteit aan familie, of enige ander belang wat hy het, op die spits gedryf word. En Hy koppel daaraan die belofte dat God dié mense sal seën wat jou en jou boodskap ontvang. Jy kan daarop staatmaak.
Lees meer: https://bybelskool.com/matteus-10-jesus-motiveer-en-rus-die-twaalf-dissipels-toe-om-sy-bediening-voort-te-sit/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar