Skip to main content

Tag: Beloftes

Johannes 12:1-8 – Maria salf Jesus se voete met die oog op sy begrafnis

3 April

Johannes 12:1-8 – Maria salf Jesus se voete met die oog op sy begrafnis

1Ses dae voor die Pasga het Jesus na Betanië gegaan. Dit was die tuiste van Lasarus, wat Jesus uit die dood opgewek het. 2Daar het hulle vir Hom toe ‘n maaltyd voorberei, en Martha het hulle bedien. Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria ‘n litra egte, uiters kosbare nardusolie geneem, die voete van Jesus gesalf en met haar hare sy voete afgedroog. En die huis is deurtrek met die geur van die olie. 4Toe sê Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir driehonderd denarius verkoop en die geld aan die armes gegee nie?” 6Hy het dit gesê, nie omdat hy vir die armes omgegee het nie, maar omdat hy ‘n dief was – hy het die geldbeurs gedra en het van die bydraes gevat. 7Daarop het Jesus gesê: “Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. 8Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Dit is ‘n baie ryk gedeelte; ‘n gedeelte wat nie ‘n belofte bevat nie, maar ‘n aanmoediging om die Here te dien met alles wat jy het. Aan die een kant is daar die liefde wat Marta en Maria aan Jesus bewys. Marta versterk Hom met ‘n feesmaal vir die uiterlike uitdagings op die pad na die kruis. Maria bederf Hom met ‘n 300 ml fles egte, uiters kosbare nardusolie (waarskynlik ingevoer van Nepal in die noorde van Indië) vir die innerlike uitdagings nie net op pad na die kruis nie, maar ook vir stryd wat Hy moet voer in die oorwinning van die dood. Sy salf daarmee Jesus se voete, met haar kosbaarste besitting, waarna sy sy voete met haar hare afgedroog het. Die hele huis het lekker geruik van die olie, ‘n simbool van die wyse waarop die boodskap van Jesus uiteindelik regdeur die wêreld sou versprei.

Aan die ander kant is daar die verraad van ‘n Judas. Een wat só naby aan Jesus gelewe het, en tog só ver van Hom geëindig het. Sy gierigheid het Hom blind gemaak vir die Messias al het hy die voorreg van sy nabyheid vir meer as drie jaar kon geniet. Judas maak beswaar – uit gierigheid uit – teen Maria se – in sy oë – vermorsing van die olie. Judas is baie bewus van die waarde van die olie en vra hoekom dit nie verkoop is vir driehonderd denarii nie – die jaarlikse loon van ‘n gewone arbeider – sodat die armes daarby kon baat vind nie. Johannes ontbloot egter sy skynheiligheid. Judas was bekend as ‘n dief en wou doodgewoon self by die olie gebaat het. Al die dissipels het geweet dat hy in die gewoonte was om in die geheim die geld in hulle geldkassie vir homself te vat (vgl Joh 13:29).

Jesus kom egter op vir Maria. Dit was immers haar eie olie wat sy gebruik het om sy voete te salf. Hy beveel dat sy gelos word om daarmee te doen wat sy self besluit het daaroor. Jesus bemoedig haar deurdat Hy “dit” – die olie wat sy so pas gebruik het – koppel aan die gebeure by sy begrafnis. Sy het Hom “vooruit” gesalf vir die dag van sy begrafnis. Trouens, Jesus sou opstaan uit die graf vóór die ander vroue Hom die Sondagmôre kon gaan salf het! Die salwing sou eers die Sondagmôre plaasvind (Mrk 16:1-5; Luk 23:55-56), hoewel Nikodemus wel die Vrydagaand geurmiddels – 30 liter mirre en aalwyn – gebring het vir die linnedoeke waarmee Jesus se liggaam toegedraai is (Joh 19:39-40). Sy het dus gedoen wat die ander uiteindelik nie kon doen nie. Jesus verklaar daarby dat die dissipels die armes altyd by hulle het. Hulp aan die armes sal altyd moontlik wees. Hy is egter nog net ‘n klein tydjie fisies by hulle. Daarom maak dit sin dat Maria Hom geseën het met haar opofferende olie, terwyl Hy nog daar was. Dit het Hom voorberei vir sy komende dood en was die teken dat sy boodskap die hele wêreld sou aanraak, die geur van die lewe in Christus. Wat ‘n mens laat besef, elke gawe wat jy gee in jou liefde vir die Here, word deur Hom gebruik om hierdie wêreld aan te raak met sy boodskap.

Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-1155-1250-die-koringkorrel-moet-sterf-om-vrug-te-dra/

Jakobus 2:1-13 – Ontferming triomfeer oor die oordeel

2 April

Jakobus 2:1-13 – Ontferming triomfeer oor die oordeel

1My broers, julle geloof in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie. 2As daar ‘n man met goue ringe en pragtige klere by julle samekoms aankom, en daar kom ook ‘n arm man met vuil klere aan, 3en julle kyk na die een met die pragtige klere en sê, “Sit u hier op ‘n goeie plek,” en vir die arm man sê julle, “Staan jy daar!” of, “Sit jy hier onder by my voetbank!” 4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak, en regters met slegte oorwegings geword nie? 5Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie? 6Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam belaster wat oor julle uitgeroep is nie? 8As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. 9As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde, en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel. 10Want wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig. 11Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy ‘n oortreder van die wet. 12Praat so, en tree so op, asof julle deur die wet van vryheid geoordeel gaan word. 13Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.

As God vrygewig is, as Hy genadig is, en as Hy die beste voorsien, veral wanneer mens van hom wysheid vra (Jak 1:5), dan is dit net logies dat Hy kan verwag dat ’n mens sal doen wat Hy sê. Die wysheid wat Hy gee, is bedoel vir optrede en gehoorsaamheid. Jakobus pas hierdie waarheid oor God nou toe op ’n aantal praktiese maniere waarin dit opmerklik is hoe die liefdesgebod – om God lief te hê en jou naaste soos jouself – verweef word daarmee. Een praktiese uitvloeisel van die liefdesgebod is om niemand volgens die uiterlike te beoordeel nie; om onpartydig en in deernis met ander te leef, soos dit in Jakobus 2:1-13 uitgespel word (vgl Sag 7:9-10 waar God se barmhartigheid ook verbind word aan omgee vir armes, insluitend weduwees, wese en vreemdelinge).

Dit is só belangrik om hieraan gehoorsaam te raak, omdat in die proses om die Woord van God te doen en daaraan gehoorsaam te word, kan juis dié deernis met mense in gedrang kom as ‘n mens verlei word om met slegte oorwegings, dws vooroordele of partydigheid, na ander te kyk. Dan kom jou naasteliefde in gedrang. Wanneer ‘n mens onderskeid tref tussen rykes en armes net op grond van hulle uiterlike, stel jy jouself boonop as ‘n regter oor hulle aan. Die oordeel is immers iets wat net God toekom. Jakobus begrond hierdie lering in die feit dat Jesus Christus die Here van die heerlikheid is. Hy is die kurios, die Here, die soewereine God, die een wat baie hoër in status is as die aardse kurios, die keiser. Jesus se heerlikheid bestaan egter, anders as die keiser, in diens aan en deernis met sy naaste. Dieselfde diensbaarheid en deernis moet dus die praktiese geloofslewe van die geloofsgemeenskap kenmerk. Ryk mense mag nie bevoordeel word bó armes nie.

Trouens, Jakobus gee ‘n verdere rede waarom dit belangrik is. Hy verwys na die uitspraak in die Bergrede van Jesus waar Hy hulle geleer het: “Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt 5:3). Of soos Jesus dit in sy Vlakterede weergee: ““Gelukkig is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle.” (Luk 6:20). Jakobus lê hierdie saligspreking uit as ‘n aanduiding van God se “keuse” vir armes – armes van gees, sowel as armes van besittings – om ryk in die geloof te wees. Sy belofte is dat hulle erfgename sal wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Rykes daarenteen is baie keer juis dié mense wat armes uitbuit en voor die gereg sleep. Daardeur word nie net die goeie Naam van die Here belaster wat oor hulle uitgeroep is nie. Partydigheid of voortrekkery dwarsboom daarby God se wet van naasteliefde. En dit is nie iets wat ongestraf sal bly nie. Jakobus is duidelik daaroor dat God se oordeel: “immers sonder ontferming is oor hulle wat nie ontferming betoon het nie.” Wanneer ‘n mens nie God se ontferming (oor armes van gees, sowel as oor letterlike armes) verstaan nie, is jy meesal geneig om self nie met ontferming te lewe nie. Jakobus se belofte aan die einde van hierdie praktiese lering is egter dat: “Ontferming oor die oordeel triomfeer.” Dit beteken dat dié wat in deernis lewe die genade en ontferming van God self sal geniet. Soos Jesus ook die Ons Vader gebed afgesluit het met die belofte dat as ons ander vergeef, sal die hemelse Vader ons ook vergeef. As ons egter nie vergeef nie, sal die Vader ons ook nie vergeef nie (Matt 6:14-15).

Lees meer: https://bybelskool.com/jakobus-119-226-doen-wat-die-woord-se/

Jakobus 1:2-8 – God gee wysheid sonder voorbehoud en verwyt aan almal wat in die geloof vra

1 April

Jakobus 1:2-8 – God gee wysheid sonder voorbehoud en verwyt aan almal wat in die geloof vra

2Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, 3omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. 4Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie. 5As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. 6Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. 7Want so ‘n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. 8Hy is ‘n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen.

Vandag lees ons wat Jakobus geskryf het, die ander broer uit Jesus se aardse gesin wat ‘n brief geskryf het, en wat in die NT opgeneem is. Jakobus val weg met sy besorgheid daaroor dat gelowiges van die waarheid in Jesus sal afdwaal, veral wanneer hulle aan allerhande versoekings (beproewings) blootgestel word. Daarom moedig hy hulle aan om uit ’n ander perspektief daarna te kyk: “Beskou versoekings (beproewings) as ’n groot vreugde …” Hoekom? In die eerste plek: “Omdat julle weet dat as julle geloof getoets word, dit volharding bewerkstellig.” Versoekings en beproewings bewerk beproefdheid. In die tweede plek: “Julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom.” Geestelike volwassenheid ontwikkel in die hantering van die uitdagings van die lewe, nie deur dit te vermy nie. Sonder geestelike volwassenheid sal hulle altyd te kort skiet en gebrek ervaar.

Jakobus weet egter dat gelowiges wysheid nodig het om die uitdagings te hanteer, en daarom bemoedig hy hulle met die belofte dat God meer as bereid is om hulle daarmee te help. Soos beproefdheid en volwassenheid eintlik geskenke uit God se hand is, só is wysheid dit ook. Daarom spoor hy hulle aan om wysheid van God te vra: “wat aan almal gee sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Gebed is die geheim van ’n wyse lewe – soos hy nog twee keer sal beklemtoon (Jak 4:1-10; 5:13-18).

God vra nie vrae nie, by wyse van spreke, soos ons so baie keer geneig is om te doen! Hy wil ons op die regte pad kry. Daarom spandeer Hy nie tyd aan verwyte nie, en gee wysheid sonder voorbehoud. Hy is vrygewig (sonder voorbehoud) en genadig (sonder verwyt). Wat Hy wel soek, is geloof en vertroue, sowel as die bereidheid om sy wysheid te aanvaar en na te volg. Anders sal ’n mens soos ’n golf van die see deur wind rond geruk en voortgesleep word. En Jakobus waarsku, só ’n weifelende mens, een wat twyfel in God en sy wysheid, sal onbestendig wees in alles wat hy doen.

Lees meer: https://bybelskool.com/jakobus-11-18-volhard-in-beproewing/

Judas 20-25 – God het die mag om jou van struikeling te bewaar

31 Maart

Judas 20-25 – God het die mag om jou van struikeling te bewaar

20Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid, 21julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus, met die oog op die ewige lewe, verwag. 22Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel, 23maar red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Oor nog ander moet julle julle met eerbied ontferm, terwyl julle selfs die onderkleed verafsku wat deur die liggaam besoedel is. 24Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, 25aan die enigste God, ons Verlosser, deur Jesus Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag – van voor alle tye, en ook nou, en tot in alle ewigheid. Amen.

Die brief van Judas word geskryf deur een van Jesus se broers uit sy aardse gesin. Hy skryf eerstens om die verdeeldheid en onsekerheid wat dwaalleraars onder gelowiges gesaai het, te bestry (vers 4). Judas herinner ons daarmee hoe maklik ‘n mens kan afdwaal weens losbandigheid en hebsug. Sy voorbeelde is bedoel om te skok en ons versigtig te maak aan die een kant vir dwaalleraars, maar aan die ander kant ook vir ons eie begeertes wat ‘n wig tussen ons en God kan indryf. Hy skryf tweedens om gelowiges op te roep om hulle lewe te bou op hul allerheiligste geloof (vers 3). Hierdie twee temas bepaal dan ook die indeling van sy boodskap in die res van die brief. Die tema van vers 4 word eerste behandel in vers 5-19 (lees gerus meer by die skakel hieronder), en dié van vers 3 tweede in vers 20-25, die deel wat ons vandag lees.

Sy belangrikste boodskap is die positiewe oproep om die verhouding met God ‘n absolute prioriteit te maak. Judas help ons verstaan dat dit ‘n drie-stap proses is. 1) “Bou julle lewe op julle allerheiligste geloof, terwyl julle deur die Heilige Gees bid.” Ons geloof in God word gebou op gebed deur die Gees. Dit is iets wat ons altyd en voortdurend moet doen. ‘n Mens herroep die opdrag van Paulus dat die Gees ons juis in ons swakheid bystaan en vir ons pleit met sugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Rom 8:26). Dit is iets wat ons altyd moet doen (Ef  6:18). 2) “Bewaar julleself in die liefde van God, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus met die oog op die ewige lewe verwag.” God se liefde is regtig soos ‘n jas wat ons moet aantrek, sodat ons daarin kan bly en dit ons kan bewaar. Dit is iets wat vir hierdie lewe betekenis het, asook vir die toekoms. 3) “Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel.” God se ontferming vir ons is ook die basis vir ons ontferming oor dié wat twyfel. Ons moet dit versigtig doen, maar nooit terugdeins daarvan nie. Let op hoe mense wat “twyfel” van naby af omhels moet word, maar dié wat verder afgedwaal het, meer drastiese stappe verg. Sommige moet ons daarom: “red deur hulle uit die vuur te ruk”. Nog ander het weer ‘n “eerbiedige ontferming” nodig. Dit wil sê, ‘n mens moet hulle met groot respek hanteer, terwyl jy hulle steeds sonder kompromie op hulle dwaling wys. Die gevaar van besoedeling is egter in alle gevalle groot. Daarom moet ‘n mens baie versigtig wees met sulke vermanings en teregwysings dat dit nie jouself laat sondig nie. Hetsy deur woede of minagting. Of deur die waarheid te kompromitteer.

Judas sluit sy brief af met ‘n soortgelyke lofprysing op God se bewaring as wat Paulus in sy Romeinebrief doen (Rom 16:25-27). Hy loof God dat Hy die mag het om hulle van struikeling te bewaar. Nie net dít nie, maar hulle ook onberispelik en jubelend te laat triomfeer. Veral laasgenoemde verbly my hart! Judas loof God verder dat Hy ewig is: “van voor alle tye en ook nou en tot in alle ewigheid.” Dít is die God wat ons aanbidding en toewyding die moeite werd maak!

Lees meer: https://bybelskool.com/judas-bestry-dwaalleer-en-bou-julle-lewe-op-julle-heiligste-geloof/

Filippense 3:1-16 – Jesus Christus gee die opstanding uit die dood aan elkeen wat Hom ken

30 Maart

Filippense 3:1-16 – Jesus Christus gee die opstanding uit die dood aan elkeen wat Hom ken

1Verder, my broers, wees bly in die Here. Om dieselfde dinge aan julle te skryf, is nie vir my moeite nie, en aan julle gee dit vastigheid. 2Waak teen die honde! Waak teen die kwaadstokers! Waak teen die afsnyding! 3Want ons is die besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op Christus Jesus beroem, en nie op die liggaamlike dinge vertrou nie, 4al het ek self rede om op menslike dinge te vertrou. As iemand anders dink dat hy op menslike dinge kan vertrou, ek nog meer – 5Ek is besny op die agtste dag, afkomstig uit die volk Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër, 6wat ywer betref, ‘n vervolger van die kerk, wat geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. 7Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. 8Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my ‘n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, 9en in Hom bevind kan word – nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – 10en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, 11en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik. 12Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. 13Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. 14Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom. 15Laat ons, wat geestelik volwasse is, so hieroor dink; maar as julle anders hieroor dink, sal God dit wel aan julle bekend maak. 16In elk geval, laat ons die pas volhou in ooreenstemming met dit wat ons bereik het.

Ons het twee weke terug die tweede helfte van Filippense 3 gelees, vanaf vers 17. Vandag lees ons die eerste helfte van Filippense 3, vers 1-16. Ek herinner julle daaraan dat Paulus hier skryf teen die agtergrond van die konflik wat die legaliste (tradisionalisties / wetties) en die libertyne (vrysinniges – ons sal hulle vandag liberaliste noem) veroorsaak het. Die libertyne was gelowiges wat geen morele beperkinge aanvaar het nie en hulle eie lewensreëls aangehang het in terme van die bevrediging van allerlei liggaamlike behoeftes (“skande” het waarskynlik ’n seksuele konnotasie – vers 19).  Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-wêrelds, laat aanpas by die kultuur van die dag. Die legaliste was weer gelowiges wat klem gelê het op die Joodse godsdienstige tradisies, veral dié rondom die besnydenis. Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-Joods, en nie net aan Christus verbind nie. Nie een van dié twee maniere van leef was egter korrek nie. Gelowiges kan nie self die koers en styl van hulle lewe bepaal nie. Dit is net Christus en sy Woord wat daardie voorreg het. Die libertyne en die legaliste was egter albei bang vir die opoffering wat dit vra as jy doen wat Christus en sy Woord van jou vra. Die libertyne was bang vir die haat van die wêreld. Die legaliste was bang vir die haat van die Jode. Die enigste weg vir die geloofsgemeenskap was om die kruis as paradigma vir hulle lewe te aanvaar. Want dit is net dié wat sterf aan hulleself en hulle toevlug neem tot die Here Jesus Christus wat die opstanding uit die dood as ‘n geskenk uit sy hand sou ontvang.

Paulus se raad aan die gemeente is daarom om nie afgeskrik of geïntimideer te word deur óf die legaliste óf die libertyne nie, maar vas te bly staan in die geloof, en volkome eensgesind die Here Jesus Christus beter te leer ken. Hulle sekerheid moes nie in hulle afkoms of die onderhouding van uiterlike reëls gesoek word nie – juis die voordele wat Paulus laat vaar het ( gebore Israeliet, Benjaminiet soos koning Saul, egte Hebreër [ma en pa was Jode], nougesette Fariseër) – of in die toegewings aan die kultuur van die dag nie, maar in die vashou aan en vertroue op die Een wat deur sy Woord en Gees sekerheid bring. Die enigste hoop lê in die geregtigheid wat deur geloof in Christus ons deel is. Want dit is die geregtigheid wat God self gee. Wanneer ons Christus ken in die dood aan ons self, soos sy voorbeeld aan die kruis ons geleer het, sal ons Hom ook ken in die krag van sy opstanding wat sal eindig in die opstanding uit die dood. Nie dat ons hierdie belofte al verkry het, of reeds volmaak is nie, maar ons streef daarna om dit ons eie te maak, omdat Christus Jesus ons reeds sy eie gemaak het. Ons vergeet die dinge wat agter is, en strek ons uit na wat voorlê. Ons beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom. En God se belofte is dat selfs as ons hiermee sukkel – beide weens die versoeking wat die libertyne bring, en die verwarring wat die legaliste bring – sal God ons aan die hand vat, want ons behoort aan Christus.

Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-31-41-om-christus-jesus-te-ken-oortref-alles-in-waarde/

Onlangse kommentaar