Johannes 4:1-26 – Jesus gee jou lewende water as jy Hom vra
Johannes 4:1-26 – Jesus gee jou lewende water as jy Hom vra
1Toe Jesus verneem dat die Fariseërs gehoor het Hy werf en doop meer dissipels as Johannes – 2hoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels – 3het Hy Judea verlaat en weer na Galilea vertrek. 4Hy moes egter deur Samaria gaan. 5Hy kom toe by ‘n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Dit is waar die fontein van Jakob was. Uitgeput van die reis, het Jesus net daar by die fontein gaan sit. Dit was ongeveer die sesde uur. 7Daar kom toe ‘n vrou uit Samaria om water te skep, en Jesus sê vir haar: “Gee vir My water om te drink.” 8Sy dissipels was reeds weg dorp toe om kos te koop. 9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?” Jode meng immers nie met Samaritane nie. 10Jesus het haar geantwoord: “As jy van die gawe van God geweet het, en wie dit is wat vir jou vra, ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” 11Die vrou sê vir Hom: “Meneer, u het nie eers ‘n skepding nie, en die put is diep. Waarvandaan kry u dan die lewende water? 12U is tog nie belangriker as ons vader Jakob nie, hy wat die put aan ons gegee het, en self daaruit gedrink het, en ook sy seuns en sy vee?” 13Jesus het haar geantwoord: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, 14maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.” 15Die vrou sê vir Hom: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie dors word en hierheen hoef te kom om te skep nie.” 16Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” 17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie ‘n man nie.” Jesus sê vir haar: “Jy sê tereg, ‘’n Man het ek nie,’ 18want jy het vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” 19Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u ‘n profeet is. 20Ons voorvaders het op hierdie berg aanbid, maar julle sê, ‘Jerusalem is die plek waar aanbid moet word.’ ” 21Jesus sê vir haar: “Vrou, glo My, daar kom ‘n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid. 22Julle aanbid dit wat julle nie verstaan nie; ons aanbid dit wat ons verstaan, want die verlossing kom uit die Jode. 23Daar kom egter ‘n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. 24God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” 25Die vrou sê vir Hom: “Ek weet die Messiaskom wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” 26Jesus sê vir haar: “Ek Is, is die Een wat met jou praat.”
Jesus gaan sit by die put wat gegrawe is by ‘n antieke fontein. Hy is dors, maar het nie ‘n skepding om water uit die put te haal nie. Die vrou is egter verras dat Jesus vir haar iets vra om te drink. Hy was immers ‘n Jood en sy ‘n Samaritaan. En sy is baie bewus dat die onmin tussen die Jode en die Samaritane ‘n lang pad kom. Maar, Jesus se antwoord aan haar skuif die gesprek na ‘n geestelike dimensie, want Hy kontrasteer sy behoefte aan water met haar behoefte aan die geskenk van lewende water wat God sal gee aan dié wat Hom vra. Die behoefte aan lewende water (Jesus gebruik dieselfde metafoor ook in Joh 7:38-9 op die huttefees) kom in verskeie Ou-Testamentiese gedeeltes voor, waar die dors na God vergelyk word met ‘n dors na water (Ps 42:2; Jes 49:10; 55:1; 58:11; Jer 2:13; Sag 13:1). God word self ook dikwels die bron (=fontein) van lewe genoem (Ps 36:10; Jer 2: 13; 17:13). Daarmee sê Hy dat gewone water jou dors net vir ‘n tyd kan les. Lewende water gee jou egter die ewige lewe waarin jy dors na God vir ewig geles word. Jesus gebruik hier ‘n besondere vorm van die werkwoord drink, wat op ‘n eenmalige handeling dui. Sy bedoeling is dus: wie eenmaal drink van die water wat Ek hom gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. In dié verband skryf Calvyn: “Die woorde van Christus weerspreek nie die feit dat gelowiges tot die einde van hulle lewe oorvloediger genade vurig begeer nie. Hy bedoel immers nie dat ons so drink dat ons van die eerste dag af volkome versadig is nie, maar wel dat die Heilige Gees ’n altyd vloeiende fontein is. Daar is dus geen gevaar van ‘droogte’ in die lewe van iemand wat van die geestelike water gedrink het nie”.
Die vrou kom agter dat Jesus ‘n profeet is, en skuif die gesprek na die konflik tussen die Jode en die Samaritane waar God aanbid moet word. Jesus se antwoord aan haar is van groot betekenis. Hy dui aan dat ‘n nuwe tydvak, ‘n nuwe uur aangebreek het. Die ou vetes en grense gaan deurbreek word met ‘n nuwe tyd met nuwe reëls, nie meer die ou plekke van aanbidding nie – Jerusalem en die berg Sion nie – maar aanbidding deur die Gees. Nie dat Jesus daarmee vir haar gelyk gee dat die Samaritane reg is nie. Of sê dat die Jode verkeerd is nie. Die gesag lê steeds in die Joodse tradisie soos dit in die OT vasgelê is en op Hom van toepassing is. Maar, ook die Jode sal die tyd wat Jesus inlei God in gees en waarheid aanbid sonder die beperking van die tempel in Jerusalem. God sal oral en deur alle ware aanbidders in gees en waarheid aanbid word.
Daar is ‘n interessante woordspel tussen die uitsprake van die vrou oor die aanbidding wat haar Samaritaanse voorvaders voorgeskryf het (vers 20), en Jesus wat die regte aanbidding aan sy Vader koppel (vers 21, 23; vgl Jes 9:6, 63:16; 64:8; Jer 31:9). Let op dat Jesus dié dinge vir haar sê en haar oproep om in Hom te glo: “Glo My, Vrou …” Dít waarop sy hele kommunikasie met haar gerig is, dat sy in Hom sal glo. Nie op grond van wonderwerke – soos die geval tot hier was met die meeste van die Jode – maar op grond van die gawe wat Hy vir haar sal gee. Dit lei daartoe dat die vrou haar waterkruik by die put los en terug gaan huis toe en interessant genoeg van die Messias wat die waarheid oor haar en haar mans vertel! Dit is die ware aanbidding wanneer ons Christus ontdek vir wie Hy is, en ons in die gemeenskap met Hom eerlik raak oor onsself en ons ware self. Sy, ‘n Samaritaanse vrou, raak so ook die eerste getuie van Jesus naas Johannes die Doper. Verrassend betekenisvol! Soos Ephraem, die Siriese kommentator, opgemerk het: “At the beginning of the conversation he did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all the Messiah. She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ” (Beasley-Murray).
Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-41-42-die-samaritaanse-vrou-aanbid-jesus-en-bring-n-hele-dorpie-na-hom-toe/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar