Skip to main content

Tag: Beloftes

Lukas 23:1-25 – Jesus, die onskuldige Christus, dra die skuld van die wêreld aan die kruis

8 April

Lukas 23:1-25 – Jesus, die onskuldige Christus, dra die skuld van die wêreld aan die kruis

1Toe het die hele menigte opgestaan en Hom na Pilatus gelei. 2Hulle het Hom begin aankla en gesê: “Ons het vasgestel dat hierdie man ons volk op ‘n dwaalweg lei, en hulle daarvan weerhou om belasting aan die keiser te betaal, terwyl hy van homself gesê het hy is die Gesalfde – ‘n koning.” 3Pilatus vra toe vir Hom: “Is u die koning van die Jode?” En Hy antwoord: “U sê dit.” 4Daarop sê Pilatus aan die leierpriesters en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie mens nie.” 5Maar hulle het aangedring: “Hy sweep die volk dwarsdeur die hele Judea op met sy lering, vandat hy in Galilea begin het tot hier.” 6Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man ‘n Galileër is; 7en toe hy besef dat Hy afkomstig is uit die magsgebied van Herodes, het hy Hom na Herodes gestuur, wat self juis in daardie tyd in Jerusalem was. 8Toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy wou Hom al ‘n geruime tyd te siene kry, omdat hy van Hom gehoor het en gehoop het om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen word. 9Hy het Hom uitvoerig ondervra, maar Jesus het hom glad nie geantwoord nie. 10Die leierpriesters en die skrifkenners het daar gestaan en Hom hewig beskuldig. 11Herodes, en ook sy soldate, het Hom met minagting behandel en Hom bespot. Hulle het vir Hom ‘n deftige kleed aangetrek en Hom na Pilatus teruggestuur. 12Juis op dié dag het Herodes en Pilatus, wat vroeër vyandiggesind teenoor mekaar was, vriende geword. 13Pilatus het die leierpriesters, die volksleiers en die volk bymekaargeroep 14en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as iemand wat die volk op ‘n dwaalweg lei. En kyk, ek het hom in julle teenwoordigheid verhoor, en kon hierdie man nie skuldig bevind op enige van die aanklagte wat julle teen hom inbring nie. 15En Herodes kon ook nie, want hy het hom na ons teruggestuur. Hy het inderdaad niks gedoen wat die dood verdien nie. 16Ek gaan hom dus laat gesel en dan vrylaat.” 18Maar hulle het almal saam geskreeu: “Weg met hom! Laat Barabbas vir ons vry!” 19Hy is in die tronk gegooi as gevolg van ‘n oproer in die stad, en vir moord. 20Pilatus het hulle weer aangespreek, omdat hy Jesus wou vrylaat. 21Maar hulle het aanhou skreeu: “Kruisig, kruisig hom!” 22Vir ‘n derde maal het hy vir hulle gesê: “Watter kwaad het hy dan gedoen? Ek het niks gevind waarvoor hy die dood verdien nie. Ek gaan hom dus laat gesel en dan vrylaat.” 23Maar hulle het luidkeels aangehou om te eis dat Hy gekruisig word, en hulle geskreeu het die oorhand gekry. 24Pilatus het daarom besluit om aan hulle eis te voldoen. 25Hy het die man laat gaan wat vir oproer en moord in die tronk gegooi is, die een vir wie se vrylating hulle gevra het. Maar Jesus het hy aan hulle wil oorgelewer.

Die môre vroeg word Jesus na Pilatus gestuur, nadat die volle Joodse Raad Hom uitgelewer het. Die Jode het Jesus voor Pilatus beskuldig dat Hy die Jode mislei het. Die doel van die valse beskuldigings is om met die leuens die beskuldigde – Jesus –  en die besluitnemer – Pilatus – te probeer mislei. Deur só ‘n aantal onsinnige redes op te stapel waarom iemand kwansuis skuldig is, het die effek dat daar ‘n wolk van wantroue rondom die karakter van die aangeklaagde geskep word, sodat al kan die klagtes weerlê word, die suggestie van skuld steeds aan die aangeklaagde kleef. Dit is waarom Jesus nie op die valse stellings reageer nie, want dit dien geen doel nie. Net dié dinge wat met sy missie te make het – dat Hy die Christus is, dat Hy die Koning van die Jode is, al is dit op ‘n ander manier as wat Pilatus noodwendig sal verstaan – dié antwoord Hy. Let ook op hoe kort en saaklik Hy dit antwoord. Goeie raad in situasies van aanvegting om te volg.

Herodes ondervra Jesus, omdat hy hoop dat Jesus een of ander wonderwerk sou doen. Jesus antwoord hom egter glad nie. Herodes het kans gehad om die regte ding te doen met Jesus se voorloper, Johannes die Doper, en dié kans heeltemal verbeur. Herodes het sy kanse gehad om tot inkeer te kom. Johannes die Doper het ‘n groot impak op hom gehad, maar Herodes het hom op dwase manier vermoor. Jesus se verhale het hom geïnteresseer, maar hy het nie die moeite gedoen om vir homself die waarheid te gaan uitvind nie. Nou word Jesus na hom toe gestuur, maar hy verspeel ook dié kans om tot insig te kom. Dit bly die ongemaklike waarheid van die evangelie. Daar is net soveel kanse om tot inkeer te kom. Genadetyd gaan uiteindelik verby, as ‘n mens dit nie aangryp nie.

Jesus word uiteindelik gevonnis, want Pilatus se onderhandeling met die leiers slaag nie, en hy lewer Jesus oor om gekruisig te word. Hierdie onskuldigbevinding deur Pilatus, en voor hom deur Herodes, is ‘n baie belangrike deel van die boodskap van Jesus. Jesus is inderdaad die onskuldige Lam van God wat die skuld van die wêreld dra aan die kruis. Dit is sy onskuld wat hierdie gewillige offer aan die kruis so waardevol maak in die oë van God. Soos deur een – Adam – die sonde almal in wêreld verslaaf het, só word die sonde deur Een – Jesus – uitgewis sodat elkeen wat in Hom glo vergifnis en die ewige lewe kan beërf. Dat Jesus onskuldig gekruisig word, staan dus onbestrede, in die eerste plek deur die getuienis van Pilatus, maar ironies genoeg, ook in die tweede plek juis deur die optrede van die aanklaers, die Jode. Hy, die Onskuldige, sterf vir ons, die skuldiges.

Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Lukas23_1-25.docx

Lukas 22:39-71 – Van nou af sal die Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige

7 April

Lukas 22:39-71 – Van nou af sal die Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige

39Hy het vertrek en, soos gewoonlik, na die Olyfberg gegaan. En die dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy by die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” 41Hy het toe ‘n entjie van hulle af weggestap, ongeveer ‘n klipgooi ver, gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied.” 43Daar het ‘n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk. 44Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval. 45Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na sy dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap. 46En Hy het vir hulle gesê: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” 47Jesus was nog besig om te praat, toe kom daar skielik ‘n menigte aan, en die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. 48Maar Jesus sê vir hom: “Judas, is dit met ‘n soen dat jy die Seun van die Mens oorlewer?” 49Toe diegene wat saam met Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?” 50Daarop het een van hulle die slaaf van die hoëpriester getref, en sy regteroor afgekap. 51Maar Jesus het gesê: “Hou op daarmee!” Hy het die oor aangeraak en die man genees. 52Jesus het toe vir die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels uitgetrek soos teen ‘n rower? 53Ek was daagliks saam met julle op die tempelterrein, en tog het julle nie ‘n hand op My gelê nie; maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis.” 54Nadat hulle Jesus gevange geneem het, het hulle Hom weggelei en die hoëpriester se ampswoning binnegelei. Petrus het op ‘n afstand gevolg. 55Hulle het ‘n vuur in die middel van die voorhof aangesteek en daar by mekaar gaan sit, met Petrus tussen hulle. 56Toe ‘n sekere diensmeisie hom daar in die lig van die vuur sien sit, het sy na hom gekyk en gesê: “Hy was ook saam met Hom.” 57Maar hy het dit ontken: “Ek ken Hom nie, vrou!” 58‘n Rukkie later het iemand anders hom opgemerk en gesê: “Jy is ook een van hulle.” Maar Petrus sê: “Man, ek is nie!” 59Ná ongeveer ‘n uur het iemand anders daarop aangedring en gesê: “Sowaar, ook hy was saam met Hom, want hy is ook ‘n Galileër!” 60Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie.” En dadelik, terwyl hy nog besig was om te praat, het ‘n haan gekraai. 61Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk, en Petrus het die woorde van die Here onthou, dat Hy vir hom gesê het: “Voordat ‘n haan vandag kraai, sal jy My drie maal verloën.” 62En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil. 63Die manne wat Hom gevange gehou het, was besig om die spot met Hom te dryf en Hom te slaan. 64Hulle het Hom geblinddoek en vir Hom gesê: “Toe, profeteer! Wie is dit wat u geslaan het?” 65En hulle het aangehou om Hom nog baie ander beledigende dinge toe te voeg. 66Teen dagbreek het die Raad van Familiehoofde byeengekom, die leierpriesters en skrifkenners, en hulle het Hom na hulle Sanhedrin weggelei. 67Hulle het gesê: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy sê vir hulle: “As Ek dit vir julle sê, sal julle My beslis nie glo nie. 68En as Ek ‘n vraag vra, sal julle beslis nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal ‘die Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige.’ ” 70Toe vra hulle almal: “Is jy dus die Seun van God?” En Hy antwoord hulle: “Dit is julle wat sê dat Ek is.” 71Daarop sê hulle: “Waarom het ons enige verdere getuienis nodig? Want ons het dit self uit sy mond gehoor!”

Die intensiteit van Jesus se lyding neem toe, met die worsteling in Getsemane. Die stryd is nie net swaar weens dít wat vir Hom voorlê nie, maar ook omdat dié wat Hy gekies het om saam met Hom te wees, nie in staat is om Hom by te staan nie, en Hy diep alleen en eensaam in sy stryd voel. Daarom dring Hy aan by sy dissipels dat hulle bid dat hulle nie in versoeking kom om Hom te verlaat in sy uur van grootste nood nie. Jesus se gebed in Getsemane illustreer vir ons wat onsself te doen staan in groot uitdagings. Soos die Hebreërskrywer sê: “Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God.” (Hebr 5:7 – 2020-vertaling). Gebed is dus onverhandelbaar deel van ons eie volharding. En ons moet vashou aan die feit dat Jesus in sy grootste uitdaging nie teruggedeins het nie, maar tot die einde volhard het. Dit is daardie volharding van Jesus wat die ruggraat vir ons gee in ons eie uitdagings. As Hy daardeur kon gaan, kan Hy ons ook daardeur dra.

Jesus se gebedsworsteling het Hom gereed gemaak vir die volgende fase van sy lyding wat begin met die verraad van een uit sy reisgenote, Judas. Let op hoe Jesus met sy reaksie Judas ‘n geleentheid gee om tot inkeer te kom deur Judas te vra of hy weet wat hy doen deur die Seun van die mens te verraai met ‘n soen. Let ook op hoe Jesus selfs die leiers van hierdie onreg wat hulle Hom aandoen, geleentheid gee om te besin oor wat hulle doen. Hulle kom na Hom met swaarde en stokke asof Hy ’n rower is. Hy was egter die hele week in die tempel saam met hulle, maar hulle het Hom nie toe gearresteer nie. Hy antwoord self hoekom hulle dit doen. Hulle het die donkerte van die nag uitgekies hiervoor, want hulle is deel van die mag van die duisternis. Dit is nou hulle uur, hulle tyd, soos die Vader aan hulle gegee het (vgl Luk 4:13; 22:3). Hoe jammer dat Judas en die leiers nie hulle geleenthede tot bekering gebruik  het nie.

Met Petrus se verloëning van Jesus sien ‘n mens hoe moeilik dit is om in die openbaar vir iets op te kom vir dit wat jy in die privaatheid van jou huis of by goeie vriende sonder probleme kan doen. Waar die onreg wat die Joodse leiers pleeg teenoor Jesus ons sin vir regverdigheid laat opvlam, laat die wyse waarop Petrus Jesus hier in die steek laat, ‘n mens egter net hartseer. Ook, omdat dit ’n wekroep vir onsself is om ons lojaliteit aan Christus Jesus nie in ons eie krag te soek nie, maar in die krag van die Gees wat Jesus gee. Soos Paulus later vir Timoteus sou bemoedig: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim 1:7). Dit is die ontbrekende element in Petrus se mondering wat hy eers met Pinkster sou ontvang. Dit is gerusstellend om Jesus se helder greep op die Een wat eintlik die agenda van die wêreld bepaal, te sien in hierdie interaksie tussen Jesus en die Joodse leiers met hulle vals agenda. Al kan hulle Hom aardse leed aandoen, selfs al is Hy onskuldig, beteken dit niks in die groter prentjie van God se beheer van alles en almal wat leef en beef nie. Trouens, God bewerk, deur die kwaad wat hulle bedink, redding vir hierdie wêreld. Die Een wat die Joodse leiers verwerp, neem deur hierdie proses sy regmatige plek in aan die regterhand van die Een wat absolute mag het en is.

Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Lukas22_39-71.docx

Lukas 22:14-38 – Ek bemaak aan julle ‘n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het

6 April

Ons lees die volgende vier dae die lydensweg van Jesus soos Lukas dit vertel. Let op dat hierdie leeswerk nie soseer fokus op individuele beloftes nie, maar op die Een waarvan Paulus sê: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ‘ja’; daarom sê ons deur Hom ‘amen’ aan God, tot sy eer.” (2 Kor 1:20). Volgende week sal ons op soortgelyke wyse Johannes se weergawe verspreid oor twee dae lees.

Lukas 22:14-38 – Ek bemaak aan julle ‘n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het

14Toe die uur aanbreek, het Hy en die apostels saam met Hom vir ete aangeleun. 15Toe sê Hy vir hulle: “Ek het van harte begeer om hierdie Pasga saam met julle te eet voordat Ek ly. 16Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die koninkryk van God nie.” 17Daarna het Hy ‘n beker geneem, en nadat Hy gedank het, gesê: “Neem dit, en deel dit onder mekaar. 18Want Ek sê vir julle, van nou af sal Ek beslis nie weer van die vrug van die druiwestok drink, totdat die koninkryk van God gekom het nie.” 19En Hy het brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, en gee dit vir hulle, en sê: “Dit is my liggaam, wat vir julle gegee word. Doen dit om My in herinnering te bring.” 20So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker, wat ter wille van julle uitgegiet word, is die nuwe verbond deur my bloed. 21Maar kyk, die hand van die een wat My gaan verraai, is saam met My aan tafel.22Want met die Seun van die Mens sal dit gaan soos wat dit bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word.” 23Hulle het mekaar toe begin afvra wie van hulle dit tog sou wees wat so iets sou doen. 24Daar het toe ‘n twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.25Maar Hy sê vir hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en diegene wat gesag oor hulle het, word weldoeners genoem. 26Julle is egter nie so nie. Maar laat die belangrikste onder julle wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos iemand wat dien. 27Want wie is belangriker, die een wat aan tafel aanleun, of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie? Ek, egter, is tussen julle soos iemand wat dien. 28“Julle is die mense wat deur al my beproewinge steeds by My gebly het. 29Ek bemaak aan julle ‘n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het, 30sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om reg te spreek oor die twaalf stamme van Israel.” 31“Simon, Simon! Kyk, Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32Maar Ek het vir jou gebid, sodat jou geloof nie sal wankel nie. En wanneer jy eendag tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” 33Petrus het egter vir Hom gesê: “Here, ek is bereid om saam met U die tronk en die dood binne te gaan.” 34Maar Jesus sê: “Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vandag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.” 35Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie, reissak en sandale, het julle iets kortgekom?” “Niks nie!” antwoord hulle. 36Toe sê Hy vir hulle: “Wie nou egter ‘n beursie besit, moet dit saamneem, en so ook ‘n reissak. En wie nie ‘n swaard het nie, moet sy bokleed verkoop en een koop.37Want Ek sê vir julle, hierdie Skrifwoord moet in My vervulling vind, ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Want die woorde wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek.” 38Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dit is genoeg.”

Jesus stel die nagmaal die Donderdagaand in met die brood as sy liggaam en die wyn as sy bloed. Daarmee stel Hy die nagmaal in as die mees betekenisvolle maaltyd waaraan ons op aarde kan deelneem. Want, dit is nie net ‘n fees van herinnering wat die boodskap van Jesus lewend hou nie. Dit is ook nie net ‘n viering van ons gemeenskap met God en mekaar nie. Dit is ook ‘n viering van ons toekomsverwagting, die feesmaal van die Lam in die koninkryk van God. Die nagmaal waarborg vir ons in die geloof die belofte van die ewige lewe, die reg om te kan aansit aan die tafel wat God vir ons voorberei. Dit is waarom ons dit so veel as moontlik moet vier. Dit is die sakrament wat ons telkens weer herinner aan wie ons in Christus Jesus is.

Die aankondiging dat Judas Hom sal verraai, verkondig aan ons die wrede waarheid dat verraad veral verskriklik is tussen vriende. God se bedoeling is om van vyande vriende te maak, maar helaas, daar is sommige mense wat die hand van vriendskap in aktiewe vyandskap wegklap. Daarteenoor leer Jesus hulle om mekaar te bedien soos Hy dit gedoen het. Dit keer eintlik ons Westerse waardesisteem op sy kop om. Ons is baie bewus van die eer wat met status en posisie kom. En het ‘n intuïtiewe sug daarna en verering daarvan. Jesus is egter duidelik daaroor dat as Hy wat die Leier is, kies om te dien, moet sy volgelinge Hom daarin navolg. Tog belowe Jesus vir hulle ‘n wonderlike toekoms wat ‘n heersersposisie in die koninkryk insluit. Dit is ‘n groot motivering om wel getrou en lojaal aan Hom en sy opdrag te bly. Let ook op hoe anders Jesus vir Petrus hanteer. Hy tree vir hom vooruit in dat hy die geloof sou behou en tot inkeer sou kom. ‘n Voorbeeld wat ons gerus ook kan navolg in ons eie voorbidding vir gelowiges wat in aanvegting kom. Ons weet immers hoe anders Petrus hierna kon optree toe hy met die Heilige Gees vervul is. En hy aanvaar tronkstraf (Hand 12) en sterf uiteindelik ‘n marteldood in navolging van die Here.

Let ook op dat Jesus ons hier leer om nie enige opdrag in die Skrif sommer so direk op jouself van toepassing te maak nie. Jy moet die konteks waarbinne iets gesê is, in ag neem, vóór jy dit op jouself en jou eie situasie van toepassing maak. Die dissipels was met die vorige sending nie in lewensgevaar nie. Daarom was ‘n swaard onnodig. Die komende krisis was egter ‘n totaal ander situasie. Hulle sou nie net gevaar loop om dieselfde lot as Jesus self te tref nie, maar hulle sou uitmekaar gejaag word waarin hulle voorrade sou nodig hê. Vandaar die opdrag daarvoor. Die feit dat Hy hulle beveel om ‘n swaard saam te neem, is gemik daarop dat hulle hulle self kan verdedig. Dit het egter nie ingesluit dat hulle tot die aanval kon oorgaan nie, soos Hy Petrus dan ook aanspreek as hy Malgus se oor afkap net hierna (Luk 22:50-51).

Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Lukas22_14-38.docx

Filippense 2:5-11 – Elke knie sal buig, elke tong bely: “Jesus Christus is die Here!”

5 April

Filippense 2:5-11 – Elke knie sal buig, elke tong bely: “Jesus Christus is die Here!”

5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees: 6Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, 7maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het, 8het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis. 9Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, 10sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – 11en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader.

Hierdie gedeelte is die hart van die boodskap van Paulus aan die gemeente van Filippi. Dit is ‘n teks waaroor ‘n mens nooit uitgepraat kan raak nie, en oor en oor moet lees, en oor moet nadink, tot dit deel raak van die praktyk van jou lewe. Ná die opdrag in vers 5 om die gesindheid van Christus Jesus te vertoon, word (waarskynlik) ‘n vroeë Christelike lied in vers 6-11 aangehaal wat verduidelik wat dié gesindheid behels. Die lied word in twee dele verdeel. Die eerste deel fokus op Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8). Die tweede deel op sy verhoging (vers 9-11). In beide gevalle word die beweging trapsgewys beskryf. Jesus het Hom ontledig (kenosis) deur eerstens nie aan sy Goddelike gestalte (morphe) vas te klem nie, tweedens dié van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis. Omgekeerd word die verhoging in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets, tweedens as die verkryging van ’n Naam bo elke naam, en derdens met die kosmiese erkenning dat Hy Here is van alles en almal in die hemel, en op die aarde, en onder die aarde, dws orals.

Let op dat Christus se ontlediging nie iets is wat van buite af aan Hom gedoen word nie. Dit berus op sy eie keuse. Maar, let ook op dat sy ontlediging en menswording nie ’n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid is nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is! Hy wys daarmee vir ons ook hoe ons moet leef. Met dieselfde gesindheid; dat ons moet fokus daarop om te gee, nie om iets te ontvang nie: “not getting but giving” (Moule). Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mense, anders as wat Adam gedoen het wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het, en gekies het om saam met Eva op ‘n selfsugtige wyse die vrug van die boom van goed en kwaad te eet: “om soos God te wees.”

Let verder op dat die verhoging gekoppel is aan die ontlediging. Omdat Christus Homself ontledig het: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog!” En aan dié verhoging word die belofte gekoppel hierdie verhoging sal uitmond in ‘n verheerliking in die hele heelal, dat: “in die Naam van Jesus elke knie sal buig … en elke tong sal bely, ‘Jesus Christus is die Here!’ tot eer van God die Vader.” Wat met Christus gebeur het, en veral wat nog sál gebeur, is dus die aanmoediging vir ons om met dieselfde gesindheid as Hy in elke situasie waarin ons is, op te tree. Om die belange van ander op die hart te dra; om alles wat jy het, te gee tot voordeel van ander. En terselfdertyd vas te gryp aan die belofte dat God dit nie net raaksien nie, maar sal deel maak van die uiteindelike bevestiging van die reg en heerlikheid van Christus Jesus self. En dat jy met groot vrymoedigheid aan die einde van die tyd voor Hom sal kan neerbuig en sy Naam met oortuiging sal kan bely.

Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-25-30-jesus-se-selfontlediging-inspireer-ons-as-ligdraers-in-die-wereld/

Jesaja 50:4-11 – Die Here beur vermoeides met ‘n boodskap op

4 April

Jesaja 50:4-11 – Die Here beur vermoeides met ‘n boodskap op

4Dit is my Heer, die Here, wat aan My ‘n vaardige tong gegee het, sodat Ek kan weet hoe om vermoeides met ‘n boodskap op te beur. Elke oggend maak Hy My wakker; Hy wek my oor om soos ‘n leerling te luister. 5My Heer, die Here, het my ore oopgemaak, en Ek, ja, Ek was nie opstandig nie; teruggedeins het Ek nie. 6My rug het Ek gehou vir hulle wat slaan, en my wange vir hulle wat baard uitpluk. My gesig het Ek nie verberg vir beledigings en spuug nie. 7Dit is my Heer, die Here, wat My te hulp kom; daarom voel Ek nie verneder nie; daarom het Ek my gesig soos vuurklip gemaak. Ek het geweet dat Ek nie beskaamd sou staan nie. 8Hy wat my reg handhaaf, is naby. Wie sal teen My ‘n regstryd voer? Laat ons saam plek inneem! Wie is die teenstander in my saak? Laat hy naderkom! 9Kyk, my Heer, die Here, kom My te hulp. Wie is dit wat My skuldig sal verklaar? Kyk, hulle sal almal soos ‘n kleed verslyt, motte sal hulle wegvreet. 10Wie is daar onder julle wat ontsag het vir die Here, wat luister na die stem van sy Dienskneg? Hy wat in duisternis verkeer, wat geen lig het nie, moet op die Naam van die Here vertrou, moet op sy God steun. 11Kyk, julle almal wat vure aansteek, wat julle met brandpyle bewapen, loop dan in die gloed van julle vuur, ja, tussen die brandpyle wat julle aangesteek het! Deur my hand het dit met julle gebeur; in ‘n plek van pyniging sal julle lê.

In die eerste drie verse van hoofstuk 50 verklaar Jahwe aan die ballinge dat hulle straf net tydelik is, en dat hulle binnekort verlos sal word. Hy is egter baie bewus van die feit dat hulle twyfel aan sy krag om te verlos. Dié verklaring word daarom opgevolg met ‘n selfgesprek van die Dienskneg van die Here – vers 4-9, waarna Hy ‘n boodskap van bemoediging gee aan gelowiges sowel as ‘n boodskap van oordeel aan goddeloses – vers 10-11.

In die selfgesprek van die Dienaar van die Here dink Hy na oor die ervaringe in sy bediening. Hy dink na oor sy toerusting wat Hom in staat gestel het om dié wat moeg is, moed in te praat, ‘n vaardige tong. Die belangrikste manier waarop dit gebeur het, was dat Hy “elke oggend” na God geluister het en dat dít sy bediening gestruktureer het. Die Here is immers bekend daarvoor dat Hy vermoeides met ‘n boodskap opbeur. Daarom kon die Dienskneg van die Here self volhard in die ontsettende lyding wat Hom in die uitvoering van sy bediening te beurt geval het. Só het die Here Hom gehelp om staande te bly in die aangesig van uitmergelende fisiese leed – op sy rug geslaan, sy baard uitgepluk, op Hom gespuug (alles dinge wat Jesus by sy kruisiging ervaar het) – en onregverdige aanklagtes. Hy het egter nie opstandig geraak nie en nie teruggedeins daarvoor nie, want die Here het Hom daardeur gedra. Hy het immers geweet dat God uiteindelik sy reg sal handhaaf en sy teenstanders sal uitwis. Elkeen wat dus na dié dienaar luister, en sy voorbeeld volg, sal op soortgelyke wyse die lig sien aanbreek in sy lewe, en die donker kan ontwyk; sal ervaar dat God hulle uit hulle eie vermoeienis en beproewings sal opbeur (vgl Joh 1:1-14).

In vers 10-11 bemoedig die Dienskneg van die Here dus geteisterde en vermoeide gelowiges, om op dieselfde wyse as Hy in ontsag te lewe vir God; om te luister na God, sowel as na Hom as Dienskneg van die Here. Die Here sal sy lig, sy boodskap, vir hulle stuur. Daarop kan hulle staatmaak (en in hoofstuk 51 sal Hy verder gaan om die vreugde en blydskap wat Hy vir hulle bedoel, uit te spel). Maar, terselfdertyd waarsku die Dienskneg van die Here dié wat hulle eie lig aansteek, hulle eie boodskap formuleer, en weier om in God se lig te wandel. Hulle sal verbrand word deur die einste vure en brandpyle wat hulle vir hulleself aansteek. Hulle sal beland in ‘n plek van pyniging en verwoesting.

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-49-50-die-dienaar-van-die-here-praat-die-wat-moeg-is-moed-in/

Onlangse kommentaar