Lukas 13:1-9 – God se beskerming wil jou tot die vrug van bekering beweeg
Lukas 13:1-9 – God se beskerming wil jou tot bekering beweeg
1Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het. 2Hy het hulle geantwoord en gesê: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? 3Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom! 4Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem? 5Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” 6Hy het toe die volgende gelykenis vertel: “Iemand het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Hy het vrugte daaraan gaan soek en niks gevind nie. 7Toe het hy vir die tuinier gesê, ‘Kyk, dis al drie jaar wat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek en niks kry nie. Kap dit uit. Waarom moet dit die grond langer uitput?’ 8Maar hy antwoord en sê vir hom, ‘Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het. 9En as dit dan volgende jaar vrugte dra, goed. Maar as dit nie gebeur nie, kan u dit uitkap.’ ”
Lukas vertel vir ons hier Jesus se reaksie op die ontstellende verhaal van die politieke geweld van Pilatus wat Galilese pelgrims doodgemaak het terwyl hulle die offerdiere vir die Pase geslag het. Sommige van die mense in die skare het Jesus daarvan vertel om sy reaksie te hoor. Jesus erken wel die gewelddadigheid daarvan, maar koppel dan ‘n ewige waarheid aan die geweld van hierdie eeu. Hy sê enersyds dat die feit daarvan nie op enige skuld aan die gestorwenes se kant dui nie, maar andersyds ’n boodskap is dat só iets ook met jou kan gebeur. Dat só iets moontlik is in hierdie gewelddadige wêreld, moet jou oortuig om tot bekering te kom voor só iets ook met jou gebeur. Hy brei sy antwoord uit met ’n geval van ’n onvoorsiene ramp van die toring in Siloam wat onverwags in mekaar gestort het en agtien mense gedood het – in die omgangstaal bekend as “an act of God”. Dieselfde geld sulke mense. Hulle is nie meer skuldig as die ander mense van Jerusalem nie. Só iets kan met enigiemand gebeur, ook met hulle. So, bekeer jou voor só iets met jou gebeur. Let op hoe Jesus hier die onvoorspelbaarheid van die dood gebruik om mense tot bekering te roep. Heel anders as die valse profete van vandag wat net werk met die liefde van God sonder om ooit enigiemand tot bekering te roep nie. Die dood bring nie net ‘n einde aan jou lewe nie, maar ook aan die tyd wat jou gegun word om jou saak met God reg te maak.
Jesus sit die gesprek voort oor die noodsaak van bekering. Hy gebruik ‘n gelykenis wat net in Lukas voorkom, die gelykenis van die onvrugbare vyeboom. Die gelykenis toon egter duidelike ooreenkomste met die ware verhaal van Jesus wat ‘n onvrugbare vyeboom vervloek, ‘n beeld van die onbekeerlike Jode (Matt 21:18-19; Mrk 11:12-14). Jesus is dus besig om met die gelykenis na die Jode te verwys (vgl Jes 5:1-7 waar Israel met ‘n wingerd vergelyk word). Die vyeboom was in ‘n man se wingerd geplant en hy het gekom om vrug te soek, maar niks gekry nie. Die man het gekla by die tuinier dat hy al drie jaar lank kom en vrug soek aan die vyeboom, maar verniet. Trouens, vyebome het eers na drie jaar begin vrug dra, só die man verwys waarskynlik net na die drie jaar wat hy al gekom het om vrug te soek. Die boom was waarskynlik al ses jaar geplant. Die punt is die boom het genoeg tyd gehad, maar sonder enige vrug. Die man het daarom besluit om die boom nou uit te kap, want hy put eenvoudig die grond uit. Die tuinier het egter geskerm vir die vyeboom en aangebied om ekstra moeite te doen in die volgende jaar, om die grond om die boom om te spit, en mis as bemesting in te werk. As dit dan vrug afwerp, is dit goed so. Anders kan die man sy boom uitkap oor ‘n jaar.
Jesus onderstreep twee dinge met hierdie gelykenis. 1) Dat God die vrugte van bekering soek by sy mense. 2) Dat God geduldig is en genoeg kanse en insette gee dat mense tot inkeer kom, voordat sy oordeel in werking tree. Dit is in die loop van die eerste eeu nC geïllustreer met die ongeveer veertig jaar wat die Jode van Jerusalem ná Jesus se dood en opstanding gegun is om tot inkeer te kom, totdat die oordeel oor hulle met die verwoesting van Jerusalem in 70 nC gevel is. Dieselfde geld alle mense, ook vir ons. God soek die vrug van bekering in ons lewe. Vertroue en gehoorsaamheid. Hy gee ons genoeg tyd. En Hy maak genoeg insette in ons lewens. Moet niks in jou pad laat staan om Hom te vertrou en Hom te gehoorsaam nie. In alles.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-121-1335-god-sorg-vir-sy-kinders-in-gevaar/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar