1 Johannes 1:5-10 – As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig
1 Johannes 1:5-10 – As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig
5Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het, en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 6As ons sê dat ons aan Hom verbonde is, en tog in die duisternis leef, lieg ons, en leef ons nie volgens die waarheid nie; 7maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.8As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. 9As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. 10As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
Die Heidelbergse Kategismus se tweede vraag lui soos volg: “Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?” Die antwoord is drie dinge (Matt 11:28-30; Ef 5:8): Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (Joh 9:41; Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh 1:9;10); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (Joh 17:3; Hand 4:12 10:43) en ten derde hoe ek God vir so ‘n verlossing dankbaar moet wees (Ef 5:10; Ps 50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15). Die teks uit 1 Johannes 1:9-10 by die eerste punt begrond eintlik ook die tweede punt en bevat ‘n wonderlike belofte van vergifnis en reiniging.
Die hart van die boodskap van die vleesgeworde Seun van God is dat God lig is en dat daar in Hom geen duisternis is nie. Dit is tegelyk die inhoud van die boodskap aan die geloofsgemeenskap asook die maatstaf wat aangelê kan word om die valse profete se boodskap te beoordeel. Jy kan nie met God in gemeenskap leef en die duisternis lief hê nie, sê Johannes, anders bedrieg jy net jouself en ander. Maar, waar in verbondenheid met God en die geloofsgemeenskap geleef word, vergewe Jesus nie net van alle sonde nie, maar reinig Hy ons van alle kwaad (ongeregtigheid).
Daarmee verbind Johannes heiligheid direk aan God se genade wat binne die geloofsgemeenskap werk. Reinheid is nie iets wat ’n mens net êrens op jou eie beleef nie, maar iets wat binne die geloofsgemeenskap gestalte kry. Dit beteken dat ’n mens déél van die geloofsgemeenskap moet bly; dat jy nie jouself moet mislei deur aan ander te verkondig dat jy sondeloos is nie en eerder eerlik jou sondes erken sodat die reinigende werk van die Here Jesus binne die geloofsgemeenskap ons van alle kwaad kan suiwer. Dit is die belofte van die Here: “Hy is getrou en regverdig” en sal “ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig”. Waar ons egter ons sonde ontken, mislei ons onsself en maak ons God self tot leuenaar en is sy Woord nie meer aktief aan die werk in ons nie.
Lees meer: https://bybelskool.com/1-johannes-1-die-vleesgeworde-seun-van-god-reinig-ons-van-elke-sonde/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar