Matteus 10:16-31 – Jesus belowe begeleiding en beskerming in vervolging
Matteus 10:16-31 – Jesus belowe begeleiding en beskerming in vervolging
16“Kyk, Ek stuur julle uit soos skape onder die wolwe. Wees dan behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe. 17Maar wees op julle hoede vir die mense, want hulle sal julle oorlewer aan sanhedrins, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. 18Voor prokurators en konings sal julle om my ontwil gesleep word, sodat julle voor hulle en voor die heidene kan getuig. 19En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. 20Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat. 21“Broer sal broer oorlewer om doodgemaak te word, en ‘n vader sy kind. En kinders sal in opstand kom teen ouers en hulle doodmaak. 22En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. 23Wanneer hulle julle in die een stad vervolg, vlug na ‘n ander. Amen, Ek sê vir julle: Julle sal nie al die stede van Israel kan besoek voordat die Seun van die Mens kom nie. 24“’n Leerling is nie verhewe bo die leermeester, of ‘n slaaf bo sy eienaar nie. 25Dit is voldoende vir die leerling om soos sy leermeester, en vir die slaaf om soos sy eienaar te word. As hulle die huisheer Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer nie die huismense nie.” 26“Moet hulle daarom nie vrees nie; daar is immers niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, sê dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit van die dakstoepe af. 28En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. 29“Word twee mossies nie vir ‘n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. 30En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies.”
Die tweede deel van die Heidelbergse Kategismus se antwoord op die vraag na jou enigste troos in lewe en sterwe is: “Hy bewaar (Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5) my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (Matt 10:30; Luk 21:18.). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (Rom 8:28). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (Rom 8:14;1 Joh 3:3).” Wat my tref van hierdie antwoord is die twee beloftes van beskerming en begeleiding, soos dit onder andere ook in Matteus 10:16-31 uitgespel word. Jesus gee hierdie beloftes omdat Hy baie bewus is van die feit dat Hy sy dissipels in ‘n baie ongelyke situasie instuur in die wêreld. Hulle sal soos skape onder die wolwe wees, uitgelewer aan die wreedheid van menslike roofdiere. Hy waarsku hulle dus aan die een kant om nie “skaapagtig” (naïef) te wees nie. Hulle moet behoedsaam (versigtig, onderskeidend) soos die slange (vgl Gen 3:1; 2 Kor 11:3), en tegelykertyd ook onskuldig (opreg, rein, eerlik, transparant, suiwer – vgl Rom 16:19) soos die duiwe wees, terwyl hulle getrou bly aan die waarheid, sonder om kompromie te tref. Dit sal vervolging insluit, want hulle getuienis moet ook aan heersers en konings gebring word, en dit is baie keer die enigste manier wat ‘n mens by hulle kan uitkom. Vervolging is dus baie keer soos ‘n deur wat juis vir verkondiging oopgemaak word.
Daarom gee Jesus dan aan die ander kant vir hulle die belofte van begeleiding deur die Heilige Gees. Trouens, die begeleiding van die Gees van hulle Vader – dieselfde Gees wat in Jesus aan die werk is – sal hulle selfs leer wat hulle moet sê IN die oomblik waarin daar van hulle getuienis gevra word. Jesus voeg hierby die belofte van beskerming. Maar, dit is nie ‘n beskerming van die dood nie, maar ‘n beskerming in die dood. Daarom waarsku Hy hulle om nie dié te vrees wat die liggaam kan doodmaak nie, maar die siel nie kan vernietig nie. Wie hulle eerder moet vrees is dié Een wat die mag het om die siel sowel as die liggaam in die hel (Gehenna) te vernietig, in die “poel van vuur” (Openb 20:10, 14-15; 21:8). Die dissipels moet dus vir niemand bang wees nie, want Jesus belowe dat God vir hulle sal sorg. Jesus gebruik die vergelyking met die prys van twee mossies. Hulle was maar een assarion werd, die loon vir ‘n halfuur se werk in daardie tyd. Die dissipels is egter baie meer werd as die mossies waarvoor God sorg. Nie een van hulle is vergete voor God nie. Jesus verseker hulle daarom dat selfs die hare van hulle hoof is almal getel. Só betrokke is God by die fyn detail van hulle lewe. Hulle hoef dus niks te vrees nie. Hulle is meer werd as baie mossies.
Nik Ripken praat na aanleiding van hierdie teks van die “insanity of obedience” wat Jesus van ons vra. Want dit is eintlik dwaas om skape tussen wolwe in te stuur. Hulle het geen natuurlike verdediging nie. Maar, dit is juis hierdie dwaasheid wat sin maak, gaan hy voort, omdat hierdie skape Jesus as die Goeie Herder en die Gees as die Trooster en Helper het. Want, die skape gaan nie alleen nie. God self begelei hulle. En dit dien tot ‘n getuienis aan mense wat andersins onbereikbaar is vir die evangelie. Almal moet immers hoor vóór die groot en deurlugtige dag kom waarin God die koningskap aan die Here Jesus gee en dit te laat gaan wees vir bekering en bevryding. Ons getuienistaak is immers die kern van ons roeping as dissipels. Trouens, jy kan dit nie ontwyk nie, want anders is jy dislojaal aan die Een wat jou roep. Daar is net Een aan wie ons lojaliteit verskuldig is, en dit is die Here en sy boodskap. Aan Hom moet ons getrou bevind word, selfs al beteken dit ons verloor ons lewe. Maar, net so belangrik as wat dit is om opnuut jou getuienistaak as roeping te aanvaar – kom wat wil – is die belofte van God se sorg, begeleiding en beskerming wanneer jy jou hart en siel daarin werp. Hy sal in die kleinste detail vir jou sorg op daardie pad.
Lees meer: https://bybelskool.com/matteus-10-jesus-motiveer-en-rus-die-twaalf-dissipels-toe-om-sy-bediening-voort-te-sit/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar