Skip to main content

Romeine 14:1-12 – Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here

22 Maart

Romeine 14:1-12 – Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here

1Aanvaar die een wat swak in die geloof is, sonder om oor verskille te argumenteer. 2Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar die ander een wat swak in die geloof is, eet net groente. 3Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie; en die een wat nie eet nie, moet die een wat wel eet, nie veroordeel nie – want God het hom aanvaar. 4Wie is jy om oor iemand anders se huisbediende te oordeel? Of hy staan of val, is iets wat net sy eienaar aangaan. Hy sal egter bly staan, want die Here is in staat om hom staande te hou. 5Die een beskou een dag belangriker as die ander; vir ‘n ander weer is alle dae eenders. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle van sy standpunt oortuig wees. 6Die een wat ‘n bepaalde dag uitsonder, sonder dit vir die Here uit. En die een wat eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God daarvoor; ook die een wat nie eet nie, doen dit tot eer van die Here, en hy dank God daarvoor. 7Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. 9Dit is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. 10Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn. 11Want daar staan geskryf: “So seker as wat Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely.” 12Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen.

Die eerste deel van die Heidelbergse Kategismus se antwoord op die vraag na jou enigste troos in lewe en sterwe is: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (Rom 14:8) nie aan myself (1 Kor 6:19) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (1 Kor 3:22; Tit 2:14). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (Hebr 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36).” Die heel eerste vers waarop die skrywers Zacharius Ursinus en Casper Olivianus hulle antwoord begrond, is Paulus se belofte hier in Romeine 14:8: “As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here.” Want, dit is wanneer ons hierdie belofte regtig omarm dat ons die regte ingesteldheid teenoor ander met wie ons oor allerlei verskil, kan inneem.

Paulus beskryf in hierdie hoofstuk die konflik in die gemeente van Rome tussen die “sterkes” en “swakkes” in die geloof. Let op hoe Paulus hom hier hoofsaaklik rig tot die sterkes in geloof, en uitspel dat hulle diégene wat in geloof swak is, moet aanvaar, sonder om met hulle te stry oor onbelangrike opvattings waarin hulle van die sterkes verskil. Hoekom? Want, hulle almal behoort aan die Here. Die swakkes in die geloof waaroor Paulus hier skryf, is mense wat onbelangrike sake – dieet en dae – verhef tot bepalend vir die hele geloofsgemeenskap. Dit beteken natuurlik nie dat die sterkes die swakkes se opvattings – oor wat ons mag eet of nie; watter dae ons moet vier, of nie – voor die voet moet aanvaar nie. Maar, dit beteken wel dat die sterkes die swakkes as sodanig moet aanvaar. Die sterkes in die geloof, waaronder Paulus natuurlik self tel (vgl Rom 15:1) – wat alles eet of alle dae as gelykwaardig beskou – moet daarom nie op die swakkes neersien nie, en die swakkes moet die sterkes in die geloof nie veroordeel nie. Aanvaarding is immers beter as die wen van argumente. In 1 Korintiërs 8 en verder het Paulus natuurlik oor ’n soortgelyke probleem geskryf. In Korinte het dit gegaan oor die vraag of ‘n mens vleis kan eet wat aan afgode geoffer is. Die sterkes het gesê, ja. Afgode was vir hulle van geen betekenis nie. Die swakkes het gesê, nee. Afgode was vir hulle ‘n groot versoeking. Paulus het daarom die sterkes geleer om liewer geen vleis te eet as dit swakkes (veral heidense gelowiges) sou laat struikel nie. Hier in sy skrywe aan die gelowiges in Rome gaan dit egter oor die Joodse swakkes, soos gesien kan word uit die vermelding van hulle dieet en hoe mense oor die dae van die week gedink het.

Paulus leer ons almal dus om drie goed te doen. 1) Wat ons ook al doen, moet ons tot eer van die Here doen. 2) Wat ander in terme van onbelangrike sake doen – soos om te hou aan ‘n spesifieke dieet of om sekere dae te hou of te vier – moet ons seker maak dat hulle toegelaat word om dit te doen, sonder om op swakkes neer te sien. Die swakkes moet ook nie die sterkes veroordeel nie. 3) Hoekom? Want, ons almal is aan God, en aan Hom alleen, rekenskap verskuldig. Daarom moet elkeen van ons ons eie doen en late ondersoek, want ons sal almal voor die regterstoel van God verskyn om verantwoording te doen.

Lees meer: https://bybelskool.com/romeine-14-aanvaarding-eerder-as-argumente/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar