Skip to main content

Jakobus 2:1-13 – Ontferming triomfeer oor die oordeel

2 April

Jakobus 2:1-13 – Ontferming triomfeer oor die oordeel

1My broers, julle geloof in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie. 2As daar ‘n man met goue ringe en pragtige klere by julle samekoms aankom, en daar kom ook ‘n arm man met vuil klere aan, 3en julle kyk na die een met die pragtige klere en sê, “Sit u hier op ‘n goeie plek,” en vir die arm man sê julle, “Staan jy daar!” of, “Sit jy hier onder by my voetbank!” 4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak, en regters met slegte oorwegings geword nie? 5Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie? 6Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam belaster wat oor julle uitgeroep is nie? 8As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. 9As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde, en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel. 10Want wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig. 11Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy ‘n oortreder van die wet. 12Praat so, en tree so op, asof julle deur die wet van vryheid geoordeel gaan word. 13Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.

As God vrygewig is, as Hy genadig is, en as Hy die beste voorsien, veral wanneer mens van hom wysheid vra (Jak 1:5), dan is dit net logies dat Hy kan verwag dat ’n mens sal doen wat Hy sê. Die wysheid wat Hy gee, is bedoel vir optrede en gehoorsaamheid. Jakobus pas hierdie waarheid oor God nou toe op ’n aantal praktiese maniere waarin dit opmerklik is hoe die liefdesgebod – om God lief te hê en jou naaste soos jouself – verweef word daarmee. Een praktiese uitvloeisel van die liefdesgebod is om niemand volgens die uiterlike te beoordeel nie; om onpartydig en in deernis met ander te leef, soos dit in Jakobus 2:1-13 uitgespel word (vgl Sag 7:9-10 waar God se barmhartigheid ook verbind word aan omgee vir armes, insluitend weduwees, wese en vreemdelinge).

Dit is só belangrik om hieraan gehoorsaam te raak, omdat in die proses om die Woord van God te doen en daaraan gehoorsaam te word, kan juis dié deernis met mense in gedrang kom as ‘n mens verlei word om met slegte oorwegings, dws vooroordele of partydigheid, na ander te kyk. Dan kom jou naasteliefde in gedrang. Wanneer ‘n mens onderskeid tref tussen rykes en armes net op grond van hulle uiterlike, stel jy jouself boonop as ‘n regter oor hulle aan. Die oordeel is immers iets wat net God toekom. Jakobus begrond hierdie lering in die feit dat Jesus Christus die Here van die heerlikheid is. Hy is die kurios, die Here, die soewereine God, die een wat baie hoër in status is as die aardse kurios, die keiser. Jesus se heerlikheid bestaan egter, anders as die keiser, in diens aan en deernis met sy naaste. Dieselfde diensbaarheid en deernis moet dus die praktiese geloofslewe van die geloofsgemeenskap kenmerk. Ryk mense mag nie bevoordeel word bó armes nie.

Trouens, Jakobus gee ‘n verdere rede waarom dit belangrik is. Hy verwys na die uitspraak in die Bergrede van Jesus waar Hy hulle geleer het: “Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt 5:3). Of soos Jesus dit in sy Vlakterede weergee: ““Gelukkig is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle.” (Luk 6:20). Jakobus lê hierdie saligspreking uit as ‘n aanduiding van God se “keuse” vir armes – armes van gees, sowel as armes van besittings – om ryk in die geloof te wees. Sy belofte is dat hulle erfgename sal wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Rykes daarenteen is baie keer juis dié mense wat armes uitbuit en voor die gereg sleep. Daardeur word nie net die goeie Naam van die Here belaster wat oor hulle uitgeroep is nie. Partydigheid of voortrekkery dwarsboom daarby God se wet van naasteliefde. En dit is nie iets wat ongestraf sal bly nie. Jakobus is duidelik daaroor dat God se oordeel: “immers sonder ontferming is oor hulle wat nie ontferming betoon het nie.” Wanneer ‘n mens nie God se ontferming (oor armes van gees, sowel as oor letterlike armes) verstaan nie, is jy meesal geneig om self nie met ontferming te lewe nie. Jakobus se belofte aan die einde van hierdie praktiese lering is egter dat: “Ontferming oor die oordeel triomfeer.” Dit beteken dat dié wat in deernis lewe die genade en ontferming van God self sal geniet. Soos Jesus ook die Ons Vader gebed afgesluit het met die belofte dat as ons ander vergeef, sal die hemelse Vader ons ook vergeef. As ons egter nie vergeef nie, sal die Vader ons ook nie vergeef nie (Matt 6:14-15).

Lees meer: https://bybelskool.com/jakobus-119-226-doen-wat-die-woord-se/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar