Jakobus 1:2-8 – God gee wysheid sonder voorbehoud en verwyt aan almal wat in die geloof vra
Jakobus 1:2-8 – God gee wysheid sonder voorbehoud en verwyt aan almal wat in die geloof vra
2Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, 3omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. 4Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie. 5As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. 6Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. 7Want so ‘n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. 8Hy is ‘n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen.
Vandag lees ons wat Jakobus geskryf het, die ander broer uit Jesus se aardse gesin wat ‘n brief geskryf het, en wat in die NT opgeneem is. Jakobus val weg met sy besorgheid daaroor dat gelowiges van die waarheid in Jesus sal afdwaal, veral wanneer hulle aan allerhande versoekings (beproewings) blootgestel word. Daarom moedig hy hulle aan om uit ’n ander perspektief daarna te kyk: “Beskou versoekings (beproewings) as ’n groot vreugde …” Hoekom? In die eerste plek: “Omdat julle weet dat as julle geloof getoets word, dit volharding bewerkstellig.” Versoekings en beproewings bewerk beproefdheid. In die tweede plek: “Julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom.” Geestelike volwassenheid ontwikkel in die hantering van die uitdagings van die lewe, nie deur dit te vermy nie. Sonder geestelike volwassenheid sal hulle altyd te kort skiet en gebrek ervaar.
Jakobus weet egter dat gelowiges wysheid nodig het om die uitdagings te hanteer, en daarom bemoedig hy hulle met die belofte dat God meer as bereid is om hulle daarmee te help. Soos beproefdheid en volwassenheid eintlik geskenke uit God se hand is, só is wysheid dit ook. Daarom spoor hy hulle aan om wysheid van God te vra: “wat aan almal gee sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Gebed is die geheim van ’n wyse lewe – soos hy nog twee keer sal beklemtoon (Jak 4:1-10; 5:13-18).
God vra nie vrae nie, by wyse van spreke, soos ons so baie keer geneig is om te doen! Hy wil ons op die regte pad kry. Daarom spandeer Hy nie tyd aan verwyte nie, en gee wysheid sonder voorbehoud. Hy is vrygewig (sonder voorbehoud) en genadig (sonder verwyt). Wat Hy wel soek, is geloof en vertroue, sowel as die bereidheid om sy wysheid te aanvaar en na te volg. Anders sal ’n mens soos ’n golf van die see deur wind rond geruk en voortgesleep word. En Jakobus waarsku, só ’n weifelende mens, een wat twyfel in God en sy wysheid, sal onbestendig wees in alles wat hy doen.
Lees meer: https://bybelskool.com/jakobus-11-18-volhard-in-beproewing/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar