Skip to main content

Tag: Beloftes

Johannes 18:1–38 – Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem

13 April

Ons lees die volgende twee dae die verhaal van Jesus van Getsemane tot Golgota soos Johannes dit vertel.

Johannes 18:1–38 – Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem

1Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy saam met sy dissipels na die oorkant van die Kidrondalvertrek waar daar ‘n tuin was. Hy en sy dissipels het toe daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het. 3Judas het toe daar aangekom met die kohort soldate, en die tempelwagte van die leierpriesters en die Fariseërs, met fakkels en lampe en wapens. 4Jesus het geweet van al die dinge wat met Hom sou gebeur, en het uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” 5Hulle antwoord Hom: “Jesus, die Nasarener.” Hy sê toe vir hulle: “Ek Is Hy.” Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Hy vir hulle sê, “Ek Is Hy,” het die soldate teruggedeins en op die grond neergeval. 7Hy het weer vir hulle gevra: “Wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus, die Nasarener.” 8Jesus het geantwoord: “Ek het vir julle gesê, Ek Is Hy. As julle dan na My soek, laat hierdie mense gaan.” 9Sodoende sou die woorde wat Hy gesê het, vervul word: “Hulle wat U aan My gegee het, van hulle het Ek nie een verlore laat gaan nie.” 10Simon Petrus het toe ‘n swaard wat hy gedra het, getrek en na die hoëpriester se slaaf geslaan en sy regteroor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Steek die swaard terug in sy skede. Die beker wat die Vader My gegee het – sal Ek dit dan nie drink nie?” 12Toe het die kohort soldate en die chiliarg en die tempelwagte van die Jode Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13En hulle het Hom eerste na Annas geneem. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar die hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat die raad aan die Jode gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf. 15Simon Petrus en ‘n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie dissipel was aan die hoëpriester bekend, en hy het saam met Jesus by die hoëpriester se voorhof ingegaan. 16Petrus het egter buite by die deur bly staan. Toe het die ander dissipel, die een wat aan die hoëpriester bekend was, uitgestap en met die deurwag gaan praat, en Petrus na binne gebring. 17Die diensmeisie wat die deurwag was, sê toe vir Petrus: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” Hy antwoord: “Ek is nie!” 18Die slawe en die tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by ‘n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. Ook Petrus het hom daar by hulle gestaan en warm maak. 19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en sy lering. 20Jesus antwoord hom toe: “Ek het openlik met die wêreld gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en op die tempelterrein, waar al die Jode saamkom, onderrig gegee, en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” 22Toe Jesus dit sê, het een van die tempelwagte wat daar naby gestaan het, Hom ‘n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” 23Jesus het hom geantwoord: “As Ek iets verkeerds gesê het, bring dan getuienis dat dit verkeerd is; maar as Ek reg is, waarom slaan jy My?” 24Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur. 25Simon Petrus het hom nog daar staan en warm maak. Hulle sê toe vir hom: “Is jy nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus het dit ontken en gesê: “Ek is nie!” 26Een van die hoëpriester se slawe, ‘n familielid van die een wie se oor Petrus afgekap het, het gesê: “Ek het jou mos in die tuin by hom gesien, dan nie?”27Petrus het dit weer ontken. En onmiddellik het ‘n haan gekraai. 28Van Kajafas af het hulle Jesus na die pretorium geneem. Dit was vroegoggend. Hulle het nie self die pretorium binnegegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie, maar die Pasga sou kon eet. 29Pilatus het uitgegaan na hulle toe en gevra: “Watter aanklag lê julle teen hierdie man?” 30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ‘n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” 31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en oordeel hom volgens julle wet.” Die Jode sê vir hom, “Ons word nie toegelaat om iemand om die lewe te bring nie” – 32sodat die woorde wat Jesus gesê het om aan te toon watter dood Hy sou sterf, vervul sou word. 33Pilatus het toe weer ‘n keer die pretorium binnegegaan en Jesus geroep en Hom gevra: “Is u die koning van die Jode?” 34Jesus antwoord: “Sê u dit uit u eie, of het ander mense dit oor My aan u vertel?” 35Pilatus antwoord toe: “Is ek miskien ‘n Jood? Dit is ú volk en leierpriesters wat u aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?” 36Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” 37“Is u dan tog ‘n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.” 38Pilatus sê toe vir Hom: “Wat is waarheid?” Nadat hy dit gesê het, het hy weer na die Jode uitgegaan en vir hulle gesê: “Ek vind geen skuld in hom nie.”

Dat Jesus kies om die lydenspad te stap, is duidelik. Hy kies om die roete van die kruis te volg, en nie met geweld die koninkryk van God te vestig nie. Daarom keer Hy ook vir Petrus toe dié met geweld Hom probeer verdedig. Hy moet die lydensbeker drink. Dit is sy opdrag en daaraan wil Hy gehoorsaam wees. Let ook op hoe beide Judas en Petrus steeds ’n prominente rol speel soos dit al van hoofstuk 13 af die geval is. Judas verraai Jesus, en verwerp daarmee die genade. Petrus verdedig Jesus deur Malgus se oor af te kap, en bevestig nog hier sy verbintenis aan Jesus, al is dit op ’n verkeerde manier. Jesus word dan uit die tuin gelei na Annas en Kajafas, die hoëpriesters. Annas was ’n besondere invloedryke man wie se vyf eie seuns, sowel as sy skoonseun Kajafas, almal op ’n stadium hoëpriesters was. Johannes verwys weer na die profesie van Kajafas – hy noem dit “raad” – dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf (Joh 11:49-52). Wat weereens wys hoe Kajafas se bose bedoelings saamwerk met God se goeie bedoelings. Die donker magte van die politiek en die godsdiens verenig dus dié nag om die Koning van die wêreld te kruisig. Maar, regdeur dit alles is God besig om sy wil te voltrek, selfs deur ‘n goddelose hoëpriester te gebruik om die waarheid te verkondig. Dit is ‘n merkwaardige gerusstelling dat God in beheer is, selfs al lyk dit asof alles verkeerd loop. Darem ironies dat die hemelse Hoëpriester, die Alfa en die Omega, na die aardse hoëpriester weggelei word om verhoor te word. Dat ‘n mens só die plot kan mis, jou met die tyd, die kairos kan misreken.

Let op dat Petrus homself by die wagte skaar wat so pas Jesus in hegtenis geneem het. Dit is ‘n geselskap wat hom voor ‘n groot versoeking gaan plaas, om Jesus te verloën. Petrus het immers tot hier telkens die regte keuse gemaak, selfs al was dit oordadig, soos met die aanval op Malgus. Maar, let op hoe dit net een verkeerde antwoord neem om jou voet op ‘n pad van hartseer en verloëning te sit. Trouens, met twee soortgelyke volgende vrae het Petrus telkens die kans om steeds die regte ding te doen. Om sy sonde reg te stel, en die Here Jesus te bly verdedig in ‘n vyandige omgewing. Maar, sy verbintenis word verswak van die oomblik af dat hy kies om ‘n leuen te vertel, in die waan dat dit vir hom veiliger is. En dit raak daarna vir hom al hoe moeiliker om om te draai. Jesus word dan verhoor deur Annas oor sy dissipels en sy leer. Dit is darem net heerlik om – midde-in die erns van hierdie situasie – die wysheid en integriteit van Jesus op te merk. Hy neem die fokus weg van die dissipels na die Joodse leiers, trouens na die hele Joodse volk. Almal weet wat Hy gesê het. Dit is skynheilig om Hom te vra na sy dissipels en lering, terwyl dit algemene kennis is. En Hy wys hoe ‘n mens onregverdige optredes hanteer toe iemand Hom klap. Jy vra na die logika daaragter; jy vra vir bewyse en getuienisse wat die optrede regverdig; en jy wys die onregverdige optrede uit sodat dit herstel kan word. Natuurlik, soos hier, sal dit jou nie noodwendig uit die moeilikheid kry nie, maar dit maak die speelveld gelyk, sodat enige verdere optrede as dubbeld so sleg uitgewys kan word.

Nadat Petrus Jesus nog ’n tweede en derde keer verloën het, kom Jesus voor Pilatus en staan tereg op die beskuldiging dat Hy Christus, ‘n koning, is. Watter opeenstapeling van verspilde kanse sien ‘n mens nie regdeur hierdie hoofstuk nie! Judas verspeel sy kans op inkeer. Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer. Pilatus verspeel sy kans om Jesus ’n regverdige verhoor te gee. En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen. Hy gaan nie die verraaier teë nie. Hy dwing die Jode nie tot aanbidding en geloof nie. Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie. Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word. Jesus praat daarom oor sy koningskap wat nie van hierdie wêreld is nie. Hy praat spesifiek oor die waarheid waarvan Hy kom getuig het, die waarheid dat Hy van God af gekom het. En Hy verkondig wat die hele wêreld nog sal agterkom, dat almal wat aan die waarheid behoort, elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is (onthou Jesus is self die Waarheid!), sal luister na wat Hy sê.

Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Johannes18.docx

Psalm 22 – God verontagsaam nie die gebed van die hulpelose nie

12 April

Psalm 22 – God verontagsaam nie die gebed van die hulpelose nie

1Vir die musiekleier. Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. ‘n Psalm. Van Dawid. 2My God, my God, waarom het U my verlaat? Waarom is U ver daarvan om my te verlos, ver van die woorde wat ek uitskreeu? 3My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie, ook snags, maar daar is geen rus vir my nie. 4U is tog die Heilige, U heers waar die lofliedere van Israel opklink. 5Op U het ons voorouers vertrou, hulle het vertrou en U het hulle bevry. 6Tot U het hulle om hulp geroep en hulle het ontvlug; op U het hulle vertrou en hulle het nie beskaamd gestaan nie. 7Maar ek is ‘n wurm en nie ‘n mens nie, bespot deur die mense, verag deur die volk. 8Almal wat my sien, dryf met my die spot; hulle gryns en skud die kop: 9“Wend jou tot die Here!” en “Laat Hy hom bevry, laat Hy hom red as Hy hom goedgesind is!” 10U is immers die Een wat my uit die baarmoeder gehaal het, my op die borste van my moeder laat vertrou het. 11Op U is ek aangewese van die moederskoot af; van my geboorte af is U my God. 12Moenie ver van my bly nie, want die nood is naby; daar is immers niemand wat help nie! 13Baie bulle het my omsingel; die sterkes van Basan het my vasgekeer. 14Hulle het hulle monde teen my oopgesper soos ‘n leeu wat verskeur en brul. 15Soos water is ek uitgestort, my hele gebeente val uitmekaar; my hart het geword soos was, dit het in my liggaam gesmelt. 16My krag het uitgedroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; in die stof van die dood laat U my lê. 17Inderdaad, honde het my omsingel. ‘n Bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurboor. 18Ek kan al my bene tel. Hulle staar my aan met leedvermaak. 19Hulle verdeel my klere onder mekaar, en hulle loot oor my boklere. 20U, Here, moet tog nie ver van my bly nie; my bron van krag, kom my gou te hulp. 21Red tog my lewe van die swaard, my enigste lewe uit die mag van die honde. 22Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels. U het my geantwoord. 23Ek wil u Naam verkondig aan my broers; in die byeenkoms wil ek U loof: 24“Julle wat vir die Here ontsag het, loof Hom! Julle, die ganse nageslag van Jakob, vereer Hom! Vrees Hom, ganse nageslag van Israel! 25Want Hy het die lyding van die magtelose nie geminag of misken nie; Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie; maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, het Hy gehoor.” 26U is die rede vir my lofprysing in ‘n groot byeenkoms; my geloftes sal ek nakom in die teenwoordigheid van dié wat vir Hom ontsag het. 27Die verdruktes kan dan eet en versadig word; wie Hom raadpleeg, kan die Here loof. Mag julle harte vir altyd leef! 28Almal tot aan die uithoeke van die aarde moet daaraan dink en hulle tot die Here bekeer. Al die familiegroepe van die nasies moet voor U in aanbidding buig; 29want aan die Here behoort die koningskap, en Hy heers oor die nasies. 30Ja, voor Hom sal almal wat oordadig leef, in aanbidding neerbuig; voor Hom sal alle sterflinge kniel, elkeen wat nie die lewe kan behou nie. 31‘n Nageslag sal Hom dien; hulle sal van my Heer vertel aan die volgende geslag. 32Hulle sal kom en sy geregtigheid bekend maak aan mense wat nog gebore moet word: Hy het dit gedoen.

Dit is moeilik om dié Psalm te lees, sonder om die lyding, kruisiging en opstanding van Jesus so duidelik hierin te hoor. En natuurlik is dit ‘n Messiaanse Psalm wat in die lewe van Jesus vervul is. Maar dan vergeet ons te maklik dat dit ook ‘n Psalm van Dawid is, en dat dit in die eerste plek vir hom in sy lewe betekenis gehad het. Dit is ook ’n lied wat in die liturgie van die geloofsgemeenskap gebruik is (vers 23), spesifiek by die offermaaltyd (vers 26-27) waartydens ook na die armes omgesien is (vgl 1 Kor 11 waar dieselfde sentimente gegeld het vir die nagmaal, dat vir die armes omgegee is).

Die Psalm begin met die diep en donker klag van Dawid dat hy deur God self verlaat voel (vers 2–3).  Hy kan dit nie klein kry dat hy bid, en daar is geen antwoord nie, selfs nie as hy dag en nag daarmee volhard nie. Dié klag word opgevolg deur ’n belydenis van vertroue, gebou op sy ervarings van die verlede, dat God teenwoordig is waar Sy lof besing word, en dat Hy Hom op soveel wyses al in die verlede bewys het vir die verbondsvolk (vers 4–6). Daarna beskryf Dawid sy lyding, nie net in sy eie ervaring van minderwaardigheid nie: “ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie”, maar ook in terme van hoe mense hom laat voel met hulle spot en venyn (vers 7–9). Maar sy diepste krisis is eintlik dat sy verhouding met God só anders was in die verlede.  Van sy geboorte af was hy in God se sorg (vers 10–11) en hy kan nie anders as om sy lot te bekla voor dié God en om hulp te smeek nie (vers 12). In pynlike metafore beskryf hy sy smart en lyding, waarin ‘n mens natuurlik nie anders kan as om die kruisigingstoneel van Jesus te herken nie … maar probeer om dit eers net met Dawid te verbind (vers 13-19).  Die vyande is soos ‘n trop beeste wat hom toestaan.  Soos ‘n trop oop-bek leeus storm hulle op hom af.  Hy is soos uitgestorte water wat in die sand verdwyn, sy bene val uitmekaar, sy hart smelt weg uit sy binneste, sy tong kleef aan sy verhemelte … hy is soos iemand wat dood is. Soos ‘n trop honde omsingel hulle hom, en soos ‘n trop misdadigers sak hulle op hom toe. Maar weereens is sy grootste klag dat in hierdie onhoudbare lyding, hy die ervaring van God se teenwoordigheid verloor het, en vra hy dat God hom sal red, van die honde, die leeus en die wilde beeste (vers 20–22a).  Uitnemende digwerk! En dan kom die wending in die Psalm met die belydenis dat die Here sy gebed verhoor het (vers 22b). En is Dawid se eerste reaksie om vir die gemeente te vertel wat hy deurgemaak het (vers 23). Maar dié oproep slaan gou oor in ‘n oproep tot die geloofsgemeenskap om saam met hom die Here te loof (vers 24–27).  Wat met Dawid gebeur het, illustreer vir almal, dat dít is hoe God is.  Hy verontagsaam nie die nood van die hulpelose nie; Hy trek Hom nie terug van iemand wat om hulp roep nie. En dan breek die universele boodskap hiervan deur, dat dié God regoor die wêreld geëer sal word, gerugsteun deur die getuienis van sy mense van geslag tot geslag.  En in eskatologiese taal word uitgesien na dié dag wat selfs die rykes sal aansit by God se maaltyd, trouens alle mense, selfs al is hulle sterflik en verganklik (vers 28-32).

Mensig!  Dit is ’n Psalm dié!  Van die beste digkuns ooit!  En die vergesigte van Dawid, wat die grense van sy eie beperktheid en dié van sy geloofsgemeenskap, trouens van sy volk en tyd oorspoel … joe, dit maak my opgewonde! Maar, terug by die Psalm, Messiaans is die Psalm wel. En dit is verstommend om in die verloop van die Psalm eintlik die hele evangelie van Jesus Christus te hoor, selfs die verwagting van die universele impak van Sy boodskap.  Lees weer vers 13-19 asof dit deur Jesus aan die kruis gesê is, en aanbid Hom vir die pyn wat Hy bereid was om vir ons te vat…

Lees meer (‘n preek van my vir Goeie Vrydag): https://ngkerksomerstrand.co.za/my-god-my-god-waarom-het-u-my-verlaat-psalm-22/

Jesaja 52:13–53:12 – Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing

11 April

Jesaja 52:13–53:12 – Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing

13“Kyk, my dienskneg sal suksesvol wees, hy sal uitstyg, uittroon, en baie verhewe wees. 14Soos baie ontsteld was oor hom – so onmenslik misvormd was sy voorkoms, sy gestalte nie meer dié van ‘n mens nie – 15net so sal hy baie nasies verbyster; konings sal oor hom swyg. Ja, hulle aan wie niks vertel is nie, sien; en wie nie gehoor het nie, begryp.” 531Wie het geglo wat ons gehoor het? En die arm van die Here, aan wie is dit geopenbaar? 2Hy het soos ‘n jong loot voor Hom opgegroei, soos ‘n wortelstok uit droë grond. Hy het nie ‘n gestalte gehad, geen glans, dat ons na hom sou kyk nie, nie ‘n goeie voorkoms, dat ons hom sou begeer nie. 3Hy is verag, deur mense verlaat, ‘n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie ‘n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. 4Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. 5Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing. 6Ons almal het soos kleinvee gedwaal, elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan; maar die Here het ons almal se sondeskuld op hom laat neerkom. 7Hy is mishandel, maar hy het hom daaraan onderwerp en nie sy mond oopgemaak nie – soos ‘n skaap wat ter slagting gebring word, soos ‘n ooi wat voor haar skeerders stom is. Hy het sy mond nie oopgemaak nie. 8Ná onderdrukking en ‘n vonnis is hy weggeneem; en sy lot, wie dink daaroor na? Ja, hy is afgesny van die land van die lewendes; vanweë die oortreding van sy volk het die slae hom getref. 9Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by ‘n ryke was hy in sy dood, alhoewel hy nie geweld gepleeg het, en bedrog nie in sy mond was nie. 10Maar die Here het verkies om hom te verbrysel; Hy het hom siek gemaak. As sy lewe dien as ‘n skuldoffer, sal hy ‘n nageslag sien en lank leef. Wat die Here wil hê, sal deur sy hand suksesvol wees. 11Ná die swaarkry wat hy beleef het, sal hy sien; hy sal versadig wees aan sy kennis. “My dienskneg sal hom as ‘n regverdige betoon aan baie, en hulle sondeskuld – hy sal dit op hom laai. 12Daarom sal Ek aan hom ‘n deel gee onder baie; en met magtiges sal hy buit verdeel, omdat hy sy lewe blootgestel het aan die dood, en by oortreders gereken is. Hy het egter die sonde van baie gedra; vir oortreders het hy ingetree.

Ons maak baie moeilik vrede met lyding. Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons. Tog is daar iets fassinerend in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier. En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan. Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het. En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding. En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende Dienskneg van die Here.

Tog is dit juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees, dat hulle die hand van die Here nie daarin sal raaksien nie. Baie mense sal inderwaarheid ontsteld wees oor die Dienskneg van die Here se voorkoms, en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie (dink aan Herodes en Pilatus se verwarring). Maar, dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens, die Dienskneg van die Here, wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes. Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na sy pad toe. Wat spesifiek besonders van hierdie dienaar is, is dat hy die hoogste prys betaal – “afgesny van die land van die lewendes (kruisdood)… graf gegee by goddeloses (misdadigers aan die kruis)… by ‘n ryke in sy dood (Josef van Arimatea)” – (Jes 53:8-10a) EN daarna nog lank sal lewe (Jes 53:10b-11). Op ‘n verskuilde manier voorspel dit die dood en opstanding van hierdie dienaar van die Here. En God aanvaar sy skuldoffer (Jes 53:10 – vgl Lev 5:14-6:7 waar die skuldoffer selfs vir onopsetlike sondes voorgeskryf word) as ‘n losprys vir baie.

Let ook op dat die dienaar in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (Jes 53:7) terwyl hy vir oortreders bid (Jes 53:12 – dink aan Jesus se gebed vir die vroue op pad na Golgota, en sy gebed aan die kruis om vergifnis vir dié wat nie weet wat hulle doen nie). Dit laat ‘n mens onmiddellik ook dink aan Jesaja 30 waar stil wees, vertroue en gebed die gelowige respons op groot uitdagings is. Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan die Dienskneg van die Here die ereplek gee onder die grotes en magtiges (Jes 53:12). Want hierdie geduld in lyding dra uiteindelik groot vrug. Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het: (vgl Jes 53:1 in Joh 12:38; Jes 53:4 in Matt 8:17; Jes 53:7-8 in Hand 8:32-33; Jes 53:9 in 1 Pet 2:22). Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis (Jes 53:12 aangehaal in Luk 22:37). Die boodskap en belofte aan jou is daarom dat die straf wat vir ons die vrede bewerk, was op Hom, en deur sy wonde is daar ook vir jou genesing.

Lees meer (daar is 5 preke van my by https://ngkerksomerstrand.co.za/chris-van-wyk/ wat jy kan lees. Die nuutste een is by die volgende skakel): https://ngkerksomerstrand.co.za/die-krag-van-die-kruis-jesaja-533-12/

Psalm 31:8-16 – U is my God, my tye is in u hand

10 April

Psalm 31:8-16 – U is my God, my tye is in u hand

8Ek wil juig en vreugde vind in u troue liefde – dat U my ellende raakgesien het, bewus was van die benouenis van my lewe, 9my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie, maar my voete op ‘n ruim plek laat staan het. 10Wees my genadig, Here, want ek is benoud; my oë is dik geswel van verdriet, my siel en liggaam, 11ja, my lewe kwyn weg van kommer en my lewensjare met ‘n gesug. My kragte gee mee onder my sondelas, en my ledemate swel op. 12Ek het ‘n bespotting geword oor al my teenstanders, veral by my bure – ja, ‘n verskrikking vir my kennisse. Wie my op straat sien, vlug van my weg. 13Ek is vergete – uit die hart soos iemand wat dood is; ek word soos ‘n gebreekte kleipot. 14Want ek het die kwaadpratery van baie gehoor: “Verskrikking aan alle kante!” Wanneer hulle teen my saamspan, beplan hulle om my lewe te neem. 15Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: “U is my God, 16my tye is in u hand.” Red my uit die hand van my vyande, van hulle wat my agtervolg.

Dit is baie belangrik om in hierdie Psalm te sien dat die Psalmis, Dawid, aan God vashou ten spyte van sy ellende, die lewensbedreiging, die vyande, sy nood, sy verdriet, sy kommer, sy swaarkry, en sy uitgeteerde liggaam. Hy voel: “uit die hart soos iemand wat dood is.” Hy’t: “geword soos ‘n gebreekte kleipot” (vers 13) … “Maar ek, op U, Here, vertrou ek. Ek sê: ‘U is my God.’” (vers 15). Die Psalm leer ons dus dat vertroue meer tot sy reg kom in die smeltkroes van die lewe. Vertroue wys sy ware karakter in swaar tye.

En Dawid kan dit doen, omdat hy glo: “My tye is in u hand” (vers 16). Hierdie sin kan ook vertaal word met “My toekoms is in u hand.” (Craigie). Terwyl hy pleit dat hy uit die hande van sy vyande en vervolgers gered word, en hy pleit dat God hom sal red deur sy onfeilbare liefde, en hy smeek dat die Here hom nie teleurgestel sal laat staan in sy verwagting nie, neem hy egter nie God se rol oor deur in die uitkoms te glo nie, maar net in God. Sy tye is in God se hand. En dit is genoeg vir hom. Waaraan hy vashou, is alles wat hy weet van God – dat Hy ’n veilige staanplek gee (vers 8), dat Hy getrou en onfeilbaar is in sy liefde (vers 16). Hoe hy vashou, is om te vertrou, te bid, en moed te hou.

Ek dink dit is baie keer ons probleem in ons geloofslewe. Ons fikseer op die uitkoms, die redding self, boonop soos onsself dit definieer, en verbind dan ons geloof aan die regte uitkoms, in plaas daarvan om ons geloof aan God te verbind, op Hom te vertrou. Ons tye is immers in sy hand. En dit stuur net op rampspoed af in terme van ons geloofslewe. Jesus wys vir ons in Getsemane dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ’n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat. Dit kan voorkom dat ons geloof wankel of ten minste nie sy doel bereik nie, as die uitkoms nie is wat ons gehoop het dat dit sal wees nie. Maar waar ons ernstig vra, en dit dan in die hande van die Here laat, kan ons die uitkoms, wat dit ook al is, met blydskap uit die hand van die Here ontvang.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-27-31-vertrou-god-wees-sterk-en-vol-moed/

Lukas 23:26-56 – Vandag sal jy saam met My in die paradys wees

9 April

Lukas 23:26-56 – Vandag sal jy saam met My in die paradys wees

26Toe die soldate Jesus weglei, het hulle ‘n sekere Simon van Sirene gegryp wat van die platteland af gekom het. Hulle het die kruis op sy rug gesit om dit agter Jesus aan te dra. 27‘n Groot menigte van die volk het Hom gevolg, en ook vroue wat aanhoudend op hulle bors slaan en oor Hom weeklaag. 28Jesus het na hulle gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My huil nie! Huil liewer oor julleself en oor julle kinders, 29want kyk, daar kom dae wanneer mense sal sê, ‘Gelukkig is diegene wat onvrugbaar is, en die moederskoot wat nie ‘n kind in die wêreld gebring het nie, en die borste wat nie kinders gevoed het nie.’ 30“Dan sal hulle vir die berge begin sê, ‘Val op ons!’ en vir die heuwels, ‘Bedek ons!’ 31“Want as hulle dit aan die groen hout doen, wat sal nie met die droë hout gebeur nie?” 32Saam met Jesus is ook twee ander misdadigers weggelei om tereggestel te word. 33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. 35Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” 36Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle naderstaan en vir Hom suur wyn aanbied, 37met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” 38Bokant Hom was daar ook ‘n opskrif: “Hy is die koning van die Jode.” 39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” 40Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! 41In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” 43Jesus het hom geantwoord: “Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” 44Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. 45Die son is verduister, en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. 46Met ‘n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. 47Die centurio het gesien wat gebeur het, en God geloof en gesê: “Waarlik, hierdie man was onskuldig!” 48Die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaargekom en gesien het wat gebeur, het teruggegaan, terwyl hulle op hulle bors slaan. 49Al sy kennisse en ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ‘n afstand bly staan en hierdie dinge gesien. 50En kyk, daar was ook ‘n man met die naam Josef, ‘n lid van die Raad, ‘n goeie en regverdige man. 51Hy het nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hy was afkomstig van die Joodse dorp Arimatea, en het uitgesien na die koninkryk van God. 52Hy het na Pilatus gegaan en Jesus se liggaam gevra. 53Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linnedoeke toegedraai en Hom neergelê in ‘n rotsgraf waarin daar nog nooit iemand neergelê is nie. 54Dit was die Voorbereidingsdag, en die Sabbat het al begin aanbreek. 55Die vroue wat saam met Hom uit Galilea gekom het, het hom gevolg en die graf gesien, en ook hoe sy liggaam neergelê is. 56Daarna het hulle teruggekeer huis toe, en geurige speserye en reukolies gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus, soos die gebod voorskryf.

Jesus word gekruisig die Vrydagoggend om 09:00. Die soldate dwing op pad na Golgota vir Simon van Sirene (Tripoli vandag in Noord-Afrika) om Jesus se kruis agter Hom aan te dra. Lukas sê dat hy van die platteland af gekom het wat moontlik beteken dat hy ‘n stuk grond buite Jerusalem gehad het. Simon was afkomstig van Noord-Afrika wat ‘n groot Joodse bevolking gehad het in daardie tyd. Ons weet ook dat daar mense was van Sirene vir die Pinksterdag in Jerusalem (Hand 2:10) en dat van hulle die evangelie tot in Antiogië verkondig het (Hand 11:20). Daarom vind ons mense van Sirene in die leierskap in Antiogië, onder andere Lucius van Sirene. Die Simon wat daar genoem word, Simon Niger, word verbind aan Simon van Sirene (Hand 13:1). Jesus gebruik ook die pad van Gabbata na Golgota om die Joodse vroue te waarsku om nie oor Hom te huil nie, maar eerder oor hulleself en hulle kinders. Swanger en sogende mammas sal immers groot ellende belewe in die oordeel wat kom.

Twee misdadigers – waarskynlik rowers of diewe (vgl Mrk 15:27; Mat 27:44) – word saam met Jesus na die plek wat Skedel genoem is – Golgota (in Latyn Calvaria, in Engels Calvary)– gelei om gekruisig te word. Jesus word in die middel van dié twee gekruisig, een aan sy regterkant, en een aan sy linkerkant. Die een misdadiger het Jesus ook soos die soldate beledig. Die ander misdadiger het egter die eerste een tereggewys vir sy oneerbiedigheid teenoor God. Dit is dwaas om sonder ‘n vrees vir God te sterf, want dan kan jy slegs sy oordeel verwag. Hy brei dan uit oor hulle vonnis wat geregverdig is. Hulle het gekry wat hulle verdien het. Dit was egter nie die geval met Jesus nie. Hy het niks sleg gedoen nie. Dan draai die tweede misdadiger na Jesus toe en sê daardie beroemde woorde: “Jesus, onthou my wanneer U in u koninkryk kom.” Waarop Jesus Hom met sy tweede kruiswoord verseker dat hy vandag reeds saam met Jesus in die paradys sal wees (Openb 2:7). ‘n Belofte wat ook vir ons vervul sal word aan die einde van ons aardse lewe. Dit ruk ‘n mens egter aan die hart dat die Jode so blind kan wees dat hulle nie insien dat hulle verwerping van hierdie onskuldige man, die Seun van God, tot hulle eie verwerping deur sy Vader sal lei nie.

Jesus sterf die Vrydagmiddag om 15:00. Die drie-uurlange duisternis is ‘n teken van God se oordeel soos talle kere in die verlede geprofeteer. Maar, telkens was die son se verduistering ook verbind aan die redding wat net na die oordeel kom. Dit is die agtergrond wat die verduistering besondere betekenis gee. Die gordyn (voorhangsel) van die tempel het middeldeur geskeur (van bo na onder, sê Markus en Matteus), ‘n teken dat die weg na God nou vir alle mense wat in Jesus glo, oop is (Hebr 6:19-20; 10:20).  Dit is met Jesus se dood wat die heidense centurion tot bekering kom en uitroep dat Jesus waarlik regverdig was. Hy was dus waarskynlik betrokke by die hele proses van Gabbata tot by Golgota, trouens, hy het leiding gegee. Maar, hy het in die proses so onder die indruk gekom van Jesus se regverdigheid (onskuld) en identiteit dat hy God geprys het en Jesus as die Seun van God aanvaar (soos Markus dit vir ons beskryf). Daarmee word Jesaja 53:12 se voorspelling van die eer wat die Dienskneg van die Here ontvang ook vervul. Dieselfde gebeur met al die skares wat saamgedrom het vir die skouspel van die kruis. Hulle het diep onder die indruk gekom van die onreg wat Jesus aangedoen is. Soveel so, dat hulle op pad terug na Jerusalem hulleself op die bors geslaan het van verwyt en hartseer. Dit verklaar ook hoekom die Pinksterdag preek van Petrus vyftig dae later só ‘n impak op hulle gehad het. Die grond is reeds hier by die kruis voorberei dat hulle tot bekering kon kom. Hulle kon hulle hartseer oor hulle eie aandeel aan sy onskuldige dood bely en die vergifnis van die Here Jesus in ontvangs neem (Hand 2:36-40).

Die verband tussen oordeel en verlossing is die sleutel om die kruisdood van Jesus na waarde te kan beoordeel. God straf die sonde in ‘n “verlossende oordeel” sodat vergifnis en verlossing in Jesus aan elkeen wat in Hom glo, aangebied kan word. Daar is geen verlossing moontlik sonder oordeel nie. God spreek niemand sonder meer vry nie (Eks 34:6-7). Die weg tot vergifnis is egter nou geopen deur die offer van Jesus aan die kruis, onder ander gesimboliseer deur die voorhangsel wat skeur. Jesus word begrawe teen 18:00 die Vrydagaand. Josef van die Joodse dorpie Arimatea verskyn op die toneel. Soos Matteus dit vertel, was Josef ‘n volgeling van Jesus (Matt 27:57), maar in die geheim, soos Johannes vir ons die prentjie ‘n bietjie verder inkleur (Joh 19:38). Josef gee só vir Jesus ‘n eerbare begrafnis. Benewens die vroue, was Nikodemus ook daar soos Johannes ons vertel.

Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Lukas23_26-56.docx

Onlangse kommentaar