Filippense 3:1-16 – Jesus Christus gee die opstanding uit die dood aan elkeen wat Hom ken
Filippense 3:1-16 – Jesus Christus gee die opstanding uit die dood aan elkeen wat Hom ken
1Verder, my broers, wees bly in die Here. Om dieselfde dinge aan julle te skryf, is nie vir my moeite nie, en aan julle gee dit vastigheid. 2Waak teen die honde! Waak teen die kwaadstokers! Waak teen die afsnyding! 3Want ons is die besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op Christus Jesus beroem, en nie op die liggaamlike dinge vertrou nie, 4al het ek self rede om op menslike dinge te vertrou. As iemand anders dink dat hy op menslike dinge kan vertrou, ek nog meer – 5Ek is besny op die agtste dag, afkomstig uit die volk Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër, 6wat ywer betref, ‘n vervolger van die kerk, wat geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. 7Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. 8Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my ‘n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, 9en in Hom bevind kan word – nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – 10en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, 11en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik. 12Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. 13Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. 14Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom. 15Laat ons, wat geestelik volwasse is, so hieroor dink; maar as julle anders hieroor dink, sal God dit wel aan julle bekend maak. 16In elk geval, laat ons die pas volhou in ooreenstemming met dit wat ons bereik het.
Ons het twee weke terug die tweede helfte van Filippense 3 gelees, vanaf vers 17. Vandag lees ons die eerste helfte van Filippense 3, vers 1-16. Ek herinner julle daaraan dat Paulus hier skryf teen die agtergrond van die konflik wat die legaliste (tradisionalisties / wetties) en die libertyne (vrysinniges – ons sal hulle vandag liberaliste noem) veroorsaak het. Die libertyne was gelowiges wat geen morele beperkinge aanvaar het nie en hulle eie lewensreëls aangehang het in terme van die bevrediging van allerlei liggaamlike behoeftes (“skande” het waarskynlik ’n seksuele konnotasie – vers 19). Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-wêrelds, laat aanpas by die kultuur van die dag. Die legaliste was weer gelowiges wat klem gelê het op die Joodse godsdienstige tradisies, veral dié rondom die besnydenis. Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-Joods, en nie net aan Christus verbind nie. Nie een van dié twee maniere van leef was egter korrek nie. Gelowiges kan nie self die koers en styl van hulle lewe bepaal nie. Dit is net Christus en sy Woord wat daardie voorreg het. Die libertyne en die legaliste was egter albei bang vir die opoffering wat dit vra as jy doen wat Christus en sy Woord van jou vra. Die libertyne was bang vir die haat van die wêreld. Die legaliste was bang vir die haat van die Jode. Die enigste weg vir die geloofsgemeenskap was om die kruis as paradigma vir hulle lewe te aanvaar. Want dit is net dié wat sterf aan hulleself en hulle toevlug neem tot die Here Jesus Christus wat die opstanding uit die dood as ‘n geskenk uit sy hand sou ontvang.
Paulus se raad aan die gemeente is daarom om nie afgeskrik of geïntimideer te word deur óf die legaliste óf die libertyne nie, maar vas te bly staan in die geloof, en volkome eensgesind die Here Jesus Christus beter te leer ken. Hulle sekerheid moes nie in hulle afkoms of die onderhouding van uiterlike reëls gesoek word nie – juis die voordele wat Paulus laat vaar het ( gebore Israeliet, Benjaminiet soos koning Saul, egte Hebreër [ma en pa was Jode], nougesette Fariseër) – of in die toegewings aan die kultuur van die dag nie, maar in die vashou aan en vertroue op die Een wat deur sy Woord en Gees sekerheid bring. Die enigste hoop lê in die geregtigheid wat deur geloof in Christus ons deel is. Want dit is die geregtigheid wat God self gee. Wanneer ons Christus ken in die dood aan ons self, soos sy voorbeeld aan die kruis ons geleer het, sal ons Hom ook ken in die krag van sy opstanding wat sal eindig in die opstanding uit die dood. Nie dat ons hierdie belofte al verkry het, of reeds volmaak is nie, maar ons streef daarna om dit ons eie te maak, omdat Christus Jesus ons reeds sy eie gemaak het. Ons vergeet die dinge wat agter is, en strek ons uit na wat voorlê. Ons beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom. En God se belofte is dat selfs as ons hiermee sukkel – beide weens die versoeking wat die libertyne bring, en die verwarring wat die legaliste bring – sal God ons aan die hand vat, want ons behoort aan Christus.
Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-31-41-om-christus-jesus-te-ken-oortref-alles-in-waarde/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar