Judas 20-25 – God het die mag om jou van struikeling te bewaar
Judas 20-25 – God het die mag om jou van struikeling te bewaar
20Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid, 21julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus, met die oog op die ewige lewe, verwag. 22Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel, 23maar red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Oor nog ander moet julle julle met eerbied ontferm, terwyl julle selfs die onderkleed verafsku wat deur die liggaam besoedel is. 24Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, 25aan die enigste God, ons Verlosser, deur Jesus Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag – van voor alle tye, en ook nou, en tot in alle ewigheid. Amen.
Die brief van Judas word geskryf deur een van Jesus se broers uit sy aardse gesin. Hy skryf eerstens om die verdeeldheid en onsekerheid wat dwaalleraars onder gelowiges gesaai het, te bestry (vers 4). Judas herinner ons daarmee hoe maklik ‘n mens kan afdwaal weens losbandigheid en hebsug. Sy voorbeelde is bedoel om te skok en ons versigtig te maak aan die een kant vir dwaalleraars, maar aan die ander kant ook vir ons eie begeertes wat ‘n wig tussen ons en God kan indryf. Hy skryf tweedens om gelowiges op te roep om hulle lewe te bou op hul allerheiligste geloof (vers 3). Hierdie twee temas bepaal dan ook die indeling van sy boodskap in die res van die brief. Die tema van vers 4 word eerste behandel in vers 5-19 (lees gerus meer by die skakel hieronder), en dié van vers 3 tweede in vers 20-25, die deel wat ons vandag lees.
Sy belangrikste boodskap is die positiewe oproep om die verhouding met God ‘n absolute prioriteit te maak. Judas help ons verstaan dat dit ‘n drie-stap proses is. 1) “Bou julle lewe op julle allerheiligste geloof, terwyl julle deur die Heilige Gees bid.” Ons geloof in God word gebou op gebed deur die Gees. Dit is iets wat ons altyd en voortdurend moet doen. ‘n Mens herroep die opdrag van Paulus dat die Gees ons juis in ons swakheid bystaan en vir ons pleit met sugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Rom 8:26). Dit is iets wat ons altyd moet doen (Ef 6:18). 2) “Bewaar julleself in die liefde van God, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus met die oog op die ewige lewe verwag.” God se liefde is regtig soos ‘n jas wat ons moet aantrek, sodat ons daarin kan bly en dit ons kan bewaar. Dit is iets wat vir hierdie lewe betekenis het, asook vir die toekoms. 3) “Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel.” God se ontferming vir ons is ook die basis vir ons ontferming oor dié wat twyfel. Ons moet dit versigtig doen, maar nooit terugdeins daarvan nie. Let op hoe mense wat “twyfel” van naby af omhels moet word, maar dié wat verder afgedwaal het, meer drastiese stappe verg. Sommige moet ons daarom: “red deur hulle uit die vuur te ruk”. Nog ander het weer ‘n “eerbiedige ontferming” nodig. Dit wil sê, ‘n mens moet hulle met groot respek hanteer, terwyl jy hulle steeds sonder kompromie op hulle dwaling wys. Die gevaar van besoedeling is egter in alle gevalle groot. Daarom moet ‘n mens baie versigtig wees met sulke vermanings en teregwysings dat dit nie jouself laat sondig nie. Hetsy deur woede of minagting. Of deur die waarheid te kompromitteer.
Judas sluit sy brief af met ‘n soortgelyke lofprysing op God se bewaring as wat Paulus in sy Romeinebrief doen (Rom 16:25-27). Hy loof God dat Hy die mag het om hulle van struikeling te bewaar. Nie net dít nie, maar hulle ook onberispelik en jubelend te laat triomfeer. Veral laasgenoemde verbly my hart! Judas loof God verder dat Hy ewig is: “van voor alle tye en ook nou en tot in alle ewigheid.” Dít is die God wat ons aanbidding en toewyding die moeite werd maak!
Lees meer: https://bybelskool.com/judas-bestry-dwaalleer-en-bou-julle-lewe-op-julle-heiligste-geloof/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar