Lukas 22:39-71 – Van nou af sal die Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige
Lukas 22:39-71 – Van nou af sal die Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige
39Hy het vertrek en, soos gewoonlik, na die Olyfberg gegaan. En die dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy by die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” 41Hy het toe ‘n entjie van hulle af weggestap, ongeveer ‘n klipgooi ver, gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied.” 43Daar het ‘n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk. 44Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval. 45Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na sy dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap. 46En Hy het vir hulle gesê: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” 47Jesus was nog besig om te praat, toe kom daar skielik ‘n menigte aan, en die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. 48Maar Jesus sê vir hom: “Judas, is dit met ‘n soen dat jy die Seun van die Mens oorlewer?” 49Toe diegene wat saam met Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?” 50Daarop het een van hulle die slaaf van die hoëpriester getref, en sy regteroor afgekap. 51Maar Jesus het gesê: “Hou op daarmee!” Hy het die oor aangeraak en die man genees. 52Jesus het toe vir die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels uitgetrek soos teen ‘n rower? 53Ek was daagliks saam met julle op die tempelterrein, en tog het julle nie ‘n hand op My gelê nie; maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis.” 54Nadat hulle Jesus gevange geneem het, het hulle Hom weggelei en die hoëpriester se ampswoning binnegelei. Petrus het op ‘n afstand gevolg. 55Hulle het ‘n vuur in die middel van die voorhof aangesteek en daar by mekaar gaan sit, met Petrus tussen hulle. 56Toe ‘n sekere diensmeisie hom daar in die lig van die vuur sien sit, het sy na hom gekyk en gesê: “Hy was ook saam met Hom.” 57Maar hy het dit ontken: “Ek ken Hom nie, vrou!” 58‘n Rukkie later het iemand anders hom opgemerk en gesê: “Jy is ook een van hulle.” Maar Petrus sê: “Man, ek is nie!” 59Ná ongeveer ‘n uur het iemand anders daarop aangedring en gesê: “Sowaar, ook hy was saam met Hom, want hy is ook ‘n Galileër!” 60Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie.” En dadelik, terwyl hy nog besig was om te praat, het ‘n haan gekraai. 61Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk, en Petrus het die woorde van die Here onthou, dat Hy vir hom gesê het: “Voordat ‘n haan vandag kraai, sal jy My drie maal verloën.” 62En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil. 63Die manne wat Hom gevange gehou het, was besig om die spot met Hom te dryf en Hom te slaan. 64Hulle het Hom geblinddoek en vir Hom gesê: “Toe, profeteer! Wie is dit wat u geslaan het?” 65En hulle het aangehou om Hom nog baie ander beledigende dinge toe te voeg. 66Teen dagbreek het die Raad van Familiehoofde byeengekom, die leierpriesters en skrifkenners, en hulle het Hom na hulle Sanhedrin weggelei. 67Hulle het gesê: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy sê vir hulle: “As Ek dit vir julle sê, sal julle My beslis nie glo nie. 68En as Ek ‘n vraag vra, sal julle beslis nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal ‘die Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige.’ ” 70Toe vra hulle almal: “Is jy dus die Seun van God?” En Hy antwoord hulle: “Dit is julle wat sê dat Ek is.” 71Daarop sê hulle: “Waarom het ons enige verdere getuienis nodig? Want ons het dit self uit sy mond gehoor!”
Die intensiteit van Jesus se lyding neem toe, met die worsteling in Getsemane. Die stryd is nie net swaar weens dít wat vir Hom voorlê nie, maar ook omdat dié wat Hy gekies het om saam met Hom te wees, nie in staat is om Hom by te staan nie, en Hy diep alleen en eensaam in sy stryd voel. Daarom dring Hy aan by sy dissipels dat hulle bid dat hulle nie in versoeking kom om Hom te verlaat in sy uur van grootste nood nie. Jesus se gebed in Getsemane illustreer vir ons wat onsself te doen staan in groot uitdagings. Soos die Hebreërskrywer sê: “Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God.” (Hebr 5:7 – 2020-vertaling). Gebed is dus onverhandelbaar deel van ons eie volharding. En ons moet vashou aan die feit dat Jesus in sy grootste uitdaging nie teruggedeins het nie, maar tot die einde volhard het. Dit is daardie volharding van Jesus wat die ruggraat vir ons gee in ons eie uitdagings. As Hy daardeur kon gaan, kan Hy ons ook daardeur dra.
Jesus se gebedsworsteling het Hom gereed gemaak vir die volgende fase van sy lyding wat begin met die verraad van een uit sy reisgenote, Judas. Let op hoe Jesus met sy reaksie Judas ‘n geleentheid gee om tot inkeer te kom deur Judas te vra of hy weet wat hy doen deur die Seun van die mens te verraai met ‘n soen. Let ook op hoe Jesus selfs die leiers van hierdie onreg wat hulle Hom aandoen, geleentheid gee om te besin oor wat hulle doen. Hulle kom na Hom met swaarde en stokke asof Hy ’n rower is. Hy was egter die hele week in die tempel saam met hulle, maar hulle het Hom nie toe gearresteer nie. Hy antwoord self hoekom hulle dit doen. Hulle het die donkerte van die nag uitgekies hiervoor, want hulle is deel van die mag van die duisternis. Dit is nou hulle uur, hulle tyd, soos die Vader aan hulle gegee het (vgl Luk 4:13; 22:3). Hoe jammer dat Judas en die leiers nie hulle geleenthede tot bekering gebruik het nie.
Met Petrus se verloëning van Jesus sien ‘n mens hoe moeilik dit is om in die openbaar vir iets op te kom vir dit wat jy in die privaatheid van jou huis of by goeie vriende sonder probleme kan doen. Waar die onreg wat die Joodse leiers pleeg teenoor Jesus ons sin vir regverdigheid laat opvlam, laat die wyse waarop Petrus Jesus hier in die steek laat, ‘n mens egter net hartseer. Ook, omdat dit ’n wekroep vir onsself is om ons lojaliteit aan Christus Jesus nie in ons eie krag te soek nie, maar in die krag van die Gees wat Jesus gee. Soos Paulus later vir Timoteus sou bemoedig: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim 1:7). Dit is die ontbrekende element in Petrus se mondering wat hy eers met Pinkster sou ontvang. Dit is gerusstellend om Jesus se helder greep op die Een wat eintlik die agenda van die wêreld bepaal, te sien in hierdie interaksie tussen Jesus en die Joodse leiers met hulle vals agenda. Al kan hulle Hom aardse leed aandoen, selfs al is Hy onskuldig, beteken dit niks in die groter prentjie van God se beheer van alles en almal wat leef en beef nie. Trouens, God bewerk, deur die kwaad wat hulle bedink, redding vir hierdie wêreld. Die Een wat die Joodse leiers verwerp, neem deur hierdie proses sy regmatige plek in aan die regterhand van die Een wat absolute mag het en is.
Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Lukas22_39-71.docx
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar