Skip to main content

Lukas 22:14-38 – Ek bemaak aan julle ‘n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het

6 April

Ons lees die volgende vier dae die lydensweg van Jesus soos Lukas dit vertel. Let op dat hierdie leeswerk nie soseer fokus op individuele beloftes nie, maar op die Een waarvan Paulus sê: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ‘ja’; daarom sê ons deur Hom ‘amen’ aan God, tot sy eer.” (2 Kor 1:20). Volgende week sal ons op soortgelyke wyse Johannes se weergawe verspreid oor twee dae lees.

Lukas 22:14-38 – Ek bemaak aan julle ‘n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het

14Toe die uur aanbreek, het Hy en die apostels saam met Hom vir ete aangeleun. 15Toe sê Hy vir hulle: “Ek het van harte begeer om hierdie Pasga saam met julle te eet voordat Ek ly. 16Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die koninkryk van God nie.” 17Daarna het Hy ‘n beker geneem, en nadat Hy gedank het, gesê: “Neem dit, en deel dit onder mekaar. 18Want Ek sê vir julle, van nou af sal Ek beslis nie weer van die vrug van die druiwestok drink, totdat die koninkryk van God gekom het nie.” 19En Hy het brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, en gee dit vir hulle, en sê: “Dit is my liggaam, wat vir julle gegee word. Doen dit om My in herinnering te bring.” 20So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker, wat ter wille van julle uitgegiet word, is die nuwe verbond deur my bloed. 21Maar kyk, die hand van die een wat My gaan verraai, is saam met My aan tafel.22Want met die Seun van die Mens sal dit gaan soos wat dit bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word.” 23Hulle het mekaar toe begin afvra wie van hulle dit tog sou wees wat so iets sou doen. 24Daar het toe ‘n twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.25Maar Hy sê vir hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en diegene wat gesag oor hulle het, word weldoeners genoem. 26Julle is egter nie so nie. Maar laat die belangrikste onder julle wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos iemand wat dien. 27Want wie is belangriker, die een wat aan tafel aanleun, of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie? Ek, egter, is tussen julle soos iemand wat dien. 28“Julle is die mense wat deur al my beproewinge steeds by My gebly het. 29Ek bemaak aan julle ‘n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het, 30sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om reg te spreek oor die twaalf stamme van Israel.” 31“Simon, Simon! Kyk, Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32Maar Ek het vir jou gebid, sodat jou geloof nie sal wankel nie. En wanneer jy eendag tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” 33Petrus het egter vir Hom gesê: “Here, ek is bereid om saam met U die tronk en die dood binne te gaan.” 34Maar Jesus sê: “Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vandag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.” 35Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie, reissak en sandale, het julle iets kortgekom?” “Niks nie!” antwoord hulle. 36Toe sê Hy vir hulle: “Wie nou egter ‘n beursie besit, moet dit saamneem, en so ook ‘n reissak. En wie nie ‘n swaard het nie, moet sy bokleed verkoop en een koop.37Want Ek sê vir julle, hierdie Skrifwoord moet in My vervulling vind, ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Want die woorde wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek.” 38Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dit is genoeg.”

Jesus stel die nagmaal die Donderdagaand in met die brood as sy liggaam en die wyn as sy bloed. Daarmee stel Hy die nagmaal in as die mees betekenisvolle maaltyd waaraan ons op aarde kan deelneem. Want, dit is nie net ‘n fees van herinnering wat die boodskap van Jesus lewend hou nie. Dit is ook nie net ‘n viering van ons gemeenskap met God en mekaar nie. Dit is ook ‘n viering van ons toekomsverwagting, die feesmaal van die Lam in die koninkryk van God. Die nagmaal waarborg vir ons in die geloof die belofte van die ewige lewe, die reg om te kan aansit aan die tafel wat God vir ons voorberei. Dit is waarom ons dit so veel as moontlik moet vier. Dit is die sakrament wat ons telkens weer herinner aan wie ons in Christus Jesus is.

Die aankondiging dat Judas Hom sal verraai, verkondig aan ons die wrede waarheid dat verraad veral verskriklik is tussen vriende. God se bedoeling is om van vyande vriende te maak, maar helaas, daar is sommige mense wat die hand van vriendskap in aktiewe vyandskap wegklap. Daarteenoor leer Jesus hulle om mekaar te bedien soos Hy dit gedoen het. Dit keer eintlik ons Westerse waardesisteem op sy kop om. Ons is baie bewus van die eer wat met status en posisie kom. En het ‘n intuïtiewe sug daarna en verering daarvan. Jesus is egter duidelik daaroor dat as Hy wat die Leier is, kies om te dien, moet sy volgelinge Hom daarin navolg. Tog belowe Jesus vir hulle ‘n wonderlike toekoms wat ‘n heersersposisie in die koninkryk insluit. Dit is ‘n groot motivering om wel getrou en lojaal aan Hom en sy opdrag te bly. Let ook op hoe anders Jesus vir Petrus hanteer. Hy tree vir hom vooruit in dat hy die geloof sou behou en tot inkeer sou kom. ‘n Voorbeeld wat ons gerus ook kan navolg in ons eie voorbidding vir gelowiges wat in aanvegting kom. Ons weet immers hoe anders Petrus hierna kon optree toe hy met die Heilige Gees vervul is. En hy aanvaar tronkstraf (Hand 12) en sterf uiteindelik ‘n marteldood in navolging van die Here.

Let ook op dat Jesus ons hier leer om nie enige opdrag in die Skrif sommer so direk op jouself van toepassing te maak nie. Jy moet die konteks waarbinne iets gesê is, in ag neem, vóór jy dit op jouself en jou eie situasie van toepassing maak. Die dissipels was met die vorige sending nie in lewensgevaar nie. Daarom was ‘n swaard onnodig. Die komende krisis was egter ‘n totaal ander situasie. Hulle sou nie net gevaar loop om dieselfde lot as Jesus self te tref nie, maar hulle sou uitmekaar gejaag word waarin hulle voorrade sou nodig hê. Vandaar die opdrag daarvoor. Die feit dat Hy hulle beveel om ‘n swaard saam te neem, is gemik daarop dat hulle hulle self kan verdedig. Dit het egter nie ingesluit dat hulle tot die aanval kon oorgaan nie, soos Hy Petrus dan ook aanspreek as hy Malgus se oor afkap net hierna (Luk 22:50-51).

Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Lukas22_14-38.docx


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar