Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 150 – Lofprysing is die doel van jou bestaan

23 April

Psalm 150 – Lofprysing is die doel van jou bestaan en die hart van jou bestemming

1Halleluja! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy magtige hemelkoepel; 2loof Hom oor sy kragtige dade, loof Hom na die omvang van sy grootheid! 3Loof Hom met die geskal van ramshorings, loof Hom met harp en lier; 4loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snaarinstrument en fluit; 5loof Hom met die klank van simbale, loof Hom met die slag van simbale! 6Alles wat asem het, moet die Here loof! Halleluja!

Psalm 150 roep alles wat asem het op om God te loof: “na die omvang van sy grootheid.” Dit is die laaste van die Psalms wat ingesluit is in die kanon en sluit die vyfde Psalmboek met lofprysing af. Waar elkeen van die ander vier Psalmboeke afgesluit is met ‘n vers van lof (41:14; 72:18-19; 89:53 en 106:48), word die hele Psalmboek hiermee met ‘n volle loflied afgesluit. Die Psalm bevat tien reëls wat op dieselfde patroon die lof van God besing, amper soos ‘n Tien Gebooie van lof, wat afsluit met ‘n elfde oproep: “Alles wat asem het, moet die Here loof”. Die Psalm is baie eenvoudig saamgestel. Die eerste twee verse verklaar dat God oral geloof moet word, in die heiligdom op aarde sowel as in die hemel. Twee redes word gegee: 1) God se kragtige dade waarmee die geskiedenis waarskynlik betrek word; 2) God se omvangryke grootheid waarmee die skepping waarskynlik betrek word.

Die laaste vier verse dien as aanmoediging om jou eie stem by dié van die Psalm te voeg en die Here ook waar jy is, te loof met wat ook al tot jou beskikking is. Tien opsies word gegee: ramshorings, harpe, liere, tamboeryne, koordanse, snaarinstrumente, fluite, simbale (2 keer genoem, wat ‘n mens by tien uitbring!). Dit moet as begeleiding dien vir alles wat asem het, ook vir jou eie stem. Die punt is natuurlik nie dat dié lys van instrumente jou moet beperk nie. Dit moet jou juis vrystel om jou eie stem van lof te vind voor die Here. En sy kragtige dade sowel as sy omvangryke grootheid moet in jou lof ‘n getuienis aan hierdie wêreld word: “Alles wat asem het, moet inderdaad die Here oral loof!” Dit is die doel van jou bestaan en die hart van jou bestemming as mens. Neem tyd vandag om die Here te loof op enige van hierdie maniere.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-150-alles-wat-asem-het-moet-die-here-oral-loof/

1 Petrus 2:1-10 – Wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie

22 April

1 Petrus 2:1-10 – Wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie

1Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, 2en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, 3noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”. 4Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; 5en laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus Christus, vir God aanneemlik is. 6Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer, ‘n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.” 7Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, “Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword,” 8en “’n klip waaroor ‘n mens kan struikel, ja, ‘n rots wat jou kan laat val.” Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem. 9Julle, egter, is “’n uitverkore geslag”, “’n koninklike priesterdom”, “’n heilige nasie”, “’n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – 10julle wat eers nie ‘n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het.

Petrus fokus in hierdie perikoop op twee sirkels van geestelike groei (die res van hfst 2-3 voeg nog vier sirkels by). As ons dié dinge doen, is ons verseker dat hierdie belofte vir ons vervul sal word; dat ons nie beskaamd sal staan voor God en die mense nie, maar ons bestemming as ‘n koninklike priesterdom sal bereik. Die eerste sirkel van geestelike groei is in ons elkeen se persoonlike lewe. Petrus roep ons op om aan die een kant die dinge wat ons geestelike groei strem, af te lê. Dit is dinge wat jou eie lewe benadeel, sowel as en nog meer belangrik, alles wat ander se lewe kan benadeel – bedrog, geveinsdheid, jaloesie en geskinder. Dié dinge maak ware lewensgemeenskap met mekaar onmoontlik. Dit keer dat jy jou plek in die liggaam van Christus vind waar ander tot ‘n seën vir jou kan wees, en jy tot ‘n seën vir ander kan wees. Maar die fokus op wat jy moet aflê, kan net werk as jy ook fokus op dít wat jy moet opneem, dít waarop jy moet fokus. Ons groei nie deur wat ons aflê nie. Ons groei deur wat ons inneem. Petrus gebruik dan ‘n beeld van ‘n pasgebore babatjie wat smag na sy ma se melk. Só moet ons met absolute passievolle vreugde fokus op die “suiwer geestelike melk” – letterlik: “suiwer melk van die woord”. Die Woord van die Here is die bron van geestelike krag wat ons verlos van ons geestelike gebreke en ons geestelik sterk maak om met die Here en binne sy liggaam en die gemeenskap daarbuite as sy kinders te kan lewe. En dit sal ons kan doen as ons maar net begin om te proe aan die “goedheid van die Here” soos Hy dit vir ons op soveel maniere aanbied in sy Woord.

Die tweede sirkel van geestelike groei is die inskakeling in die geloofsgemeenskap. Let op hoe die eerste aksie in ons inskakeling binne die liggaam van Christus aan die Here self verbind word: “Kom na Hom toe … en laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis … om geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God aanneemlik is.” (vers 4-5). Dit gaan nie in die eerste plek in jou gemeenskap met ander oor die inskakeling by ander gelowiges nie, hoe belangrik dit ook al mag wees, maar oor jou gemeenskap met die lewende God. Hy is die sentrum van alles, die spil waarom die geestelike lewe draai. Dit is dus jou verhouding met Hom wat aan jou jou plek gee in die liggaam van Christus. Dit is Hy wat jou inmessel in die geestelike huis van gelowiges. Die kerk is immers in sy diepste wese die liggaam van Christus op aarde. Dít moet ons baie goed besef. Petrus beskryf vier kenmerke van die “geestelike huis” van die Here. Hulle is ‘n “uitverkore geslag”, ‘n “koninklike priesterdom”, ‘n “heilige nasie”, en ‘n “volk wat aan God behoort”. Dit spel God se voorkeur vir hulle uit, sowel as wat Hy van hulle binne hierdie wêreld maak. Hulle leef op ‘n sekere manier – heilig – en hulle bedien God en die wêreld as rigtinggewende – konings – tussengangers – priesters. Hulle staan dus in ‘n baie besondere verhouding met God, en tree, soos Jesus, in en vir hierdie wêreld op. Petrus spel hierdie taak nog verder uit deur te sê dat God hulle gekies het om sy ontferming te ontvang: “’sodat julle die deugde kan verkondig’ van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig.” Die wêreld moet hoor dat God hulle lief het en dit met hulle goed bedoel. Só kan hulle Jesus as hoeksteen van hulle eie lewe ontvang, en nie die gevaar loop om oor Hom te struikel nie. Só breek die lig deur in ‘n wêreld wat in duisternis gehul is.

Jesus is die fondament, die hoekklip, van die Christelike kerk. Soos Jesus verneder is aan die kruis, is Hy verhoog deur sy opstanding en hemelvaart. En is Hy nou die hoeksteen, die belangrikste klip in die gebou wat God besig is om te voltooi, die hemelse Jerusalem. Daarom laat ons Hom toe om ons in te messel in die liggaam van Christus, die kerk, sodat ons ‘n heilige priesterdom kan wees vir Hom, en geestelike offers kan bring wat vir God aanneemlik kan wees. Wat is hierdie geestelike offers? Dit is alles wat jy vir God en jou naaste doen. Om God te prys (Ps 50:14, 23). Om aan God eer te bewys voor ander mense (Mal 1:11). Om reg te doen (Mal 3:3). Om jou hele lewe as ‘n offer aan God te beskou en jou denke in lyn met sy Woord te bring en nie volgens die skema van hierdie wêreld te lewe nie (Rom 12:1-2). Om mense tot bekering te lei, want hulle is ‘n offer wat jy aan God bring (Rom 15:16). Om te glo, want geloof is ‘n offer (Fil 2:17). Om God te dien met jou gawes / geld (Fil 4:18). Om sy Naam voor ander te bely (Hebr 13:15). Om goed te doen en mededeelsaamheid te beoefen (Hebr 13:16). Soos Miga dit opsom: “Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?” (Mig 6:8)

Lees meer: https://bybelskool.com/1-petrus-2-groei-geestelik-deur-jesus-christus-se-voorbeeld-te-volg/

Jesaja 28:14-29 – God voer sy planne wonderbaarlik en vindingryk uit vir dié wat aandag gee en luister

21 April

Jesaja 28:14-29 – God voer sy planne wonderbaarlik en vindingryk uit vir dié wat aandag gee en luister

14Daarom, hoor die woord van die Here, julle spotters, regeerders van hierdie volk in Jerusalem! 15Ja, julle sê: “Ons het ‘n verdrag met die dood gesluit, met die doderyk ‘n ooreenkoms aangegaan. Wanneer die verswelgende vloed verbykom, sal dit ons nie bereik nie; want ons het leuens ons skuilplek gemaak, en agter bedrog kruip ons weg.” 16Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek lê ‘n fondamentklip in Sion, ‘n uitgesoekte klip – ‘n kosbare hoeksteen as fondament gelê. Die een wat vertrou, hoef nie haastig weg te gaan nie. 17Ek maak die reg ‘n maatlyn en geregtigheid ‘n skietlood. Hael sal die skuilplek van leuens wegvee, en water sal die wegkruipplek wegspoel. 18Julle verdrag met die dood sal nietig verklaar word, en julle ooreenkoms met die doderyk sal nie standhou nie. Wanneer ‘n verswelgende vloed verbykom, sal julle ‘n vertrapte moddermassa word. 19Telkens wanneer dit verbykom, sal dit julle meesleur. Ja, oggend ná oggend, dag en nag sal dit verbykom. Dit sal net te verskriklik wees om die boodskap te verduidelik. 20Die bed is immers te kort om op uit te strek, en die kombers te smal om jouself in toe te wikkel.” 21Ja, soos by die berg Perasim sal die Here opstaan; soos by die vallei in Gibeon sal Hy bewe van ywer om sy dade uit te voer – vreemd is sy dade – en om sy werk te doen – sonderling is sy werk. 22Moet julle dan nou nie soos spotters gedra nie; anders sal julle boeie nog stywer vas wees. Ja, ek het gehoor: Volslae vernietiging oor die hele land! Dit is bepaal deur my Heer, die Here, Heerser oor alle magte. 23Gee aandag en luister na my stem! Gee ag en luister na my woorde! 24Sal ‘n boer die hele tyd ploeg om te saai? Sal hy aanhou voortjies maak en sy grond gelyk werk? 25Sal hy nie, as hy die oppervlakte gelyk gemaak het, swartkomyn strooi en komyn uitsaai, koring in rye plant, en gars waar dit hoort, en spelt aan die kant nie? 26Sy God het hom die regte manier geleer, hom onderrig. 27Swartkomyn word tog nie met ‘n dorsplank gedors nie; en die wiel van ‘n wa word nie oor komyn gerol nie. Nee, swartkomyn word met ‘n stok uitgeklop, en komyn met ‘n staf. 28Broodkoring word fyngestamp – daar word nie vir ewig aangehou om dit uit te trap nie. As iemand sy wawiel en perde daaroor laat gaan, laat hy dit tog nie fyn trap nie. 29Ook dit het sy oorsprong by die Here, Heerser oor alle magte. Hy voer ‘n plan wonderbaarlik uit, Hy doen dit met groot vindingrykheid.

Daar is twee groot beloftes in hierdie oordeelsboodskap gemik op die suidryk in Jerusalem. Die eerste is die Here se voorsiening van “‘n fondamentklip in Sion, ‘n uitgesoekte klip – ‘n kosbare hoeksteen as fondament gelê”– wat sekerheid verskaf vir almal wat op God vertrou in ‘n samelewing wat hulle sekerheid soek in leuens. Die betekenis van die fondamentklip kan waarskynlik gesoek word in die koning wat God sal gee op voetspoor van die koning in Psalm 118 wat Messiaanse trekke in die NT interpretasie gekry het. God sal iemand gee wat stabiliteit en die handhawing van reg en geregtigheid kan handhaaf. Gelowiges wat op God vertrou, sal dus nie paniekerig hoef te wees nie – uitgedruk met die metafoor van: “hoef nie haastig weg te gaan nie”.

Die teenoorgestelde sal egter die leiers van Jerusalem tref weens hulle verontagsaming en vervalsing van die waarheid van God se opdragte. Hulle het hulle eie planne gemaak deur alliansies met Egipte aan te gaan, al het God dit duidelik verbied. Nie dat die leiers dit sou erken nie. Hulle sou argumenteer dat hulle juis op ‘n slim manier die gevaar van die dood – die bedreiging van die ballingskap deur die Assiriërs (en later die Galdeërs) – die hoof bied met hulle verandering van God se opdragte wat alliansies en ooreenkomste met Egipte verbied het. Maar, die Here is die Een wat die reg as ‘n maatlyn en geregtigheid as ‘n skietlood sal aanwend wat hulle leuens en bedrog sal ontbloot. Die leiers sal gevolglik onafwendbaar meegesleur word die dood in; uitgedruk met die treffende metafoor van die bed wat te kort is om op uit te strek, en die kombers wat te smal is om jouself in toe te wikkel. Leuens en bedrog sal hulle geen beskerming bied teen die natuurrampe en die dood van God se “vreemde” oordeel – dws die onverwagte oordeel teen sy eie volk. Al raad vir die leiers is om hulle dwase arrogansie te erken en hulle vertroue te plaas op God se fondamentklip. Die boodskap van hierdie fondamentklip vind op ‘n besondere manier in die NT weerklank in Lukas (Hand 4:11), Paulus (Rom 9:33; Ef 2:20), en Petrus (1 Pet 2:6) se onderrig oor Jesus as die fondament, die hoeksteen, van die Christelike kerk. Die Een op Wie ons kan vertrou sodat ons nie in paniek in ‘n vals en verdraaide samelewing hoef te verval nie. Selfs nie wanneer dié valsheid in die kerk self voorkom nie.

In ‘n laaste besondere metafoor, geleen by die saaiboere, word ‘n tweede groot belofte gegee. Wie aandag gee aan God se stem en luister na sy woorde, sal agterkom dat God sy planne op ‘n wonderbaarlike en vindingryke manier uitvoer, want Hy onderrig en leer sy mense wat die beste strategie en metodiek is om in hierdie lewe te kan floreer. Dit is sy belofte! God se betrokkenheid by dié wat luister, word met die metafore van die saai en oes van verskillende sade verduidelik. Daar is duidelike generiese ooreenkomste in God se planne (voorberei, saai, oes, dors), maar ook duidelike en situasie-spesifieke verskille (elke saad het sy plek en word verskillend geoes). Daarom is geestelike onderskeiding so nodig om met oorleg die kompleksiteit van God se wil prakties te kan uitvoer. Daar is algemene beginsels wat geld, maar ook uiteenlopende strategieë en metodes. Wanneer ‘n mens se oor egter so ingestel is op God se detail onderrig en lering, verloop dinge nie net voorspoedig nie, maar beleef ‘n mens die wonder van Goddelike kommunikasie. Let ook op hoe hierdie beskrywings ‘n mens leer dat daar drie seisoene is. 1) ‘n Seisoen van strategiese voorbereiding en werk, gevolg deur 2) ‘n seisoen van geduldige wag en versorging in die rypwordingsproses (veronderstel in die teks), en uiteindelik 3) ‘n seisoen vir die versigtige en sorgvuldige oes en dors van die vrug van die oes. Alles het sy plek en tyd en moet stap vir stap ten uitvoer gebring word. Wat my net diep onder die indruk bring van hoe belangrik die daaglikse reis met God se Woord vir my eie praktiese geestelike lewe is! Daar is strategieë wat ‘n mens volg in die lees van God se Woord, daar is geduld en vertroue in die wag op God wat groei bring, en daar is nougesette en sorgvuldige uitvoering van wat jy by God hoor. Hoop dit is ook so vir jou!

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-28-n-oor-vir-god-bring-voorspoed/

Psalm 118:19-29 – Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword

20 April

Psalm 118:19-29 – Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword

19Maak vir my die poorte na geregtigheid oop; ek wil daardeur ingaan, ek wil die Here prys. 20“Dit is die poort na die Here – regverdiges mag daardeur ingaan.” 21Ek wil U prys, omdat U my geantwoord en my te hulp gekom het. 22Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword. 23Van die Here het dit gekom; dit is ‘n wonder in ons oë. 24Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons juig en ons in Hom verheug. 25Ag, Here, verlos ons tog! Ag, Here, gee tog voorspoed! 26Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here. Ons seën julle uit die huis van die Here. 27Die Here is God; Hy het vir ons lig laat skyn. Voer met gevlegte takke die kringdans uit tot by die horings van die altaar. 28U is my God en ek prys U! My God, ek wil U verheerlik. 29Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.

Ons het verlede week die eerste deel van Psalm 118 gelees. Dit het gefokus op gebedsverhoring wat onderstreep dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 1-18. Dit was waarskynlik bedoel as ‘n danklied vóórdat hulle die tempel ingegaan het. Die tweede deel wat ons vandag lees, fokus op die lofprysing wat onderstreep dat die Here lewe skenk, steeds met die boodskap dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 19-29. Dit is waarskynlik bedoel as ‘n loflied met die ingaan die tempel in soos ons uit vers 19 aflei: “Maak vir my die poorte na geregtigheid oop; ek wil daardeur ingaan, ek wil die Here prys.” Van hierdie ervaring van gebedsverhoring moet die wêreld, maar veral ook die geloofsgemeenskap, kennis neem. In God se teenwoordigheid binne die tempel wil die gelowiges Hom prys.

Die Psalm werk dan heel onverwags met die metafoor van: “Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword.” Die Psalmis bedoel daarmee dat hulle (die koning) eintlik soos die afgekeurde klip was in hulle eie ervaring, en selfs in die oë van hulle vyande. Deur die Here se ingrype voel hulle nou asof hulle van hulle posisie van vernedering verhoog is tot die mees prominente plek in die tempel van die Here, die belangrikste klip in die gebou (vgl Jes 28:16 vir ‘n soortgelyke gedagte, en Jer 51:26 vir die teenoorgestelde boodskap aan Babel). ‘n Belofte wat telkens in vervulling gaan waar God vernedering omskep in verhoging.

Die boodskap van die belangrikste klip vind op ‘n besondere manier in die NT weerklank in Petrus (1 Pet 2:6) se onderrig oor Jesus as die fondament, die hoekklip, van die Christelike kerk. Soos Jesus verneder is aan die kruis, is Hy verhoog deur sy hemelvaart. En is Hy nou die hoeksteen, die belangrikste klip in die gebou wat God besig is om te voltooi, die hemelse Jerusalem. Dit is daarom een van die belangrike en wonderlike boodskappe wat die OT en NT geloofsgemeenskap aan mekaar bind. Wat hulle verwag het in die ou bedeling, dít is vervul in Jesus en vorm die basis vanwaar af ons as gelowiges in die nuwe bedeling leef. En waarin ons dieselfde omkeer kan beleef, van vernedering na verhoging. Daarom: “Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar.” (vers 27b – 1983-vertaling). Alle gelowiges van alle tye vind vreugde in dié werklikheid.

Lees meer (my preek op Paassondag): https://wp.me/p3yY2R-3kF

Handelinge 5:27-32 – Jesus as Leidsman en Verlosser skenk bekering en vergewing van sondes

19 April

Handelinge 5:27-32 – Jesus as Leidsman en Verlosser skenk bekering en vergewing van sondes

27Hulle bring toe die apostels en laat hulle voor die Sanhedrin staan. Die hoëpriester het hulle begin ondervra: 28“Het ons julle nie ten strengste verbied om in hierdie Naam te leer nie? En kyk, julle het julle leer deur die hele Jerusalem versprei; en julle wil die bloed van hierdie man op ons bring.” 29Maar Petrus en die apostels het geantwoord: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense. 30Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle doodgemaak het deur Hom aan ‘n kruishout te hang. 31Hom het God as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog, om aan Israel bekering en vergewing van sondes te skenk. 32Ons is die getuies van hierdie gebeure, en so ook die Heilige Gees, wat God gegee het aan hulle wat aan Hom gehoorsaam is.”

Die storie van Ananias en Saffira in die eerste deel van hierdie hoofstuk is erg ontstellend. Veral die feit van hulle dood, en dat in die geval van Saffira Petrus letterlik vir haar sê dat die dood haar straf sal wees. Dat hulle probeer het om die gelowiges en vir God mislei, is skreiend, en tugwaardig, maar die doodstraf onthutsend. Die gevolg is vrees onder die gelowiges sowel as die gemeenskap, waarskynlik in die sin van ontsag. Dit illustreer iets van God se heiligheid wat ons vandag nie na waarde skat nie. Ons dink dat sy geduld met ons swakhede gelyk is aan ’n oorsien- en laat-maar-staan houding. Oral waar Hy regtig gedien word, en die koninkryk in sy krag kom, word die standaard vir die gelowiges egter gelig, juis omdat hulle nader aan Hom leef en daarom met groter verantwoordelikheid en ontsag moet lewe vir wat God wil en doen. Niemand lieg vir God en kom uiteindelik daarmee weg nie.

Hierdie heiligheid is egter nie ’n afsonderingsaksie soos ons meermale daaroor dink nie. Dit is eerder ’n spesifieke manier van leef, ’n leef as kinders van die lig, waarin daar in ons eie en die gemeenskap se lewe nie vir die duisternis plek is nie. Die woord heilig kan daarom beter verstaan word as “om te straal” of “om te skitter” van God se karakter van heiligheid en heerlikheid. Daarmee saam het die Here die apostels met ‘n groot wonderwerk en genesingsbediening geseën. Die wonders en tekens bediening word dus voortgesit. Die helende krag wat van hierdie heilige skitterende gemeenskap uitstraal, verander mense se lewens radikaal.

Maar, dit is juis omdat baie Jode se lewens, en veral hulle leiers s’n, die lig van God nie kon verdra nie, dat die vrees vir die dissipels in ’n toenemende konflik en teëstand oorspoel, en ’n grootskaalse vervolging uitbreek. En let op, dit gebeur in die konteks van ‘n kerk wat groei in heiligheid en heling, ‘n kerk wat na binne en na buite met integriteit en impak lewe, maar wat onder die skoot kom van mense wat die duisternis liewer het as die lig. Dit lei egter tot ‘n noodsaaklik getuienis aan die Joodse leiers. Al wil hulle die boodskap van Jesus dood druk, omdat hulle besef dat almal weet dat hulle verantwoordelik was vir sy kruisdood, moet ook húlle hoor dat God nou hierdie Jesus as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog het, om aan die hele Israel, en uiteindelik die hele wêreld, bekering en vergewing van sondes te skenk. Daarvan is ons getuies, sowel as van die gawe van die Heilige Gees wat God gee aan elkeen wat aan Hom gehoorsaam. Daardie drie beloftes is die hart van ons boodskap: bekering, vergifnis, en die gawe van die Gees.

Lees meer: https://bybelskool.com/handelinge-51-67-die-kerk-groei-in-heiligheid-en-helende-krag/

Onlangse kommentaar