Lukas 23:26-56 – Vandag sal jy saam met My in die paradys wees
Lukas 23:26-56 – Vandag sal jy saam met My in die paradys wees
26Toe die soldate Jesus weglei, het hulle ‘n sekere Simon van Sirene gegryp wat van die platteland af gekom het. Hulle het die kruis op sy rug gesit om dit agter Jesus aan te dra. 27‘n Groot menigte van die volk het Hom gevolg, en ook vroue wat aanhoudend op hulle bors slaan en oor Hom weeklaag. 28Jesus het na hulle gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My huil nie! Huil liewer oor julleself en oor julle kinders, 29want kyk, daar kom dae wanneer mense sal sê, ‘Gelukkig is diegene wat onvrugbaar is, en die moederskoot wat nie ‘n kind in die wêreld gebring het nie, en die borste wat nie kinders gevoed het nie.’ 30“Dan sal hulle vir die berge begin sê, ‘Val op ons!’ en vir die heuwels, ‘Bedek ons!’ 31“Want as hulle dit aan die groen hout doen, wat sal nie met die droë hout gebeur nie?” 32Saam met Jesus is ook twee ander misdadigers weggelei om tereggestel te word. 33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. 35Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” 36Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle naderstaan en vir Hom suur wyn aanbied, 37met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” 38Bokant Hom was daar ook ‘n opskrif: “Hy is die koning van die Jode.” 39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” 40Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! 41In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” 43Jesus het hom geantwoord: “Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” 44Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. 45Die son is verduister, en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. 46Met ‘n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. 47Die centurio het gesien wat gebeur het, en God geloof en gesê: “Waarlik, hierdie man was onskuldig!” 48Die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaargekom en gesien het wat gebeur, het teruggegaan, terwyl hulle op hulle bors slaan. 49Al sy kennisse en ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ‘n afstand bly staan en hierdie dinge gesien. 50En kyk, daar was ook ‘n man met die naam Josef, ‘n lid van die Raad, ‘n goeie en regverdige man. 51Hy het nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hy was afkomstig van die Joodse dorp Arimatea, en het uitgesien na die koninkryk van God. 52Hy het na Pilatus gegaan en Jesus se liggaam gevra. 53Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linnedoeke toegedraai en Hom neergelê in ‘n rotsgraf waarin daar nog nooit iemand neergelê is nie. 54Dit was die Voorbereidingsdag, en die Sabbat het al begin aanbreek. 55Die vroue wat saam met Hom uit Galilea gekom het, het hom gevolg en die graf gesien, en ook hoe sy liggaam neergelê is. 56Daarna het hulle teruggekeer huis toe, en geurige speserye en reukolies gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus, soos die gebod voorskryf.
Jesus word gekruisig die Vrydagoggend om 09:00. Die soldate dwing op pad na Golgota vir Simon van Sirene (Tripoli vandag in Noord-Afrika) om Jesus se kruis agter Hom aan te dra. Lukas sê dat hy van die platteland af gekom het wat moontlik beteken dat hy ‘n stuk grond buite Jerusalem gehad het. Simon was afkomstig van Noord-Afrika wat ‘n groot Joodse bevolking gehad het in daardie tyd. Ons weet ook dat daar mense was van Sirene vir die Pinksterdag in Jerusalem (Hand 2:10) en dat van hulle die evangelie tot in Antiogië verkondig het (Hand 11:20). Daarom vind ons mense van Sirene in die leierskap in Antiogië, onder andere Lucius van Sirene. Die Simon wat daar genoem word, Simon Niger, word verbind aan Simon van Sirene (Hand 13:1). Jesus gebruik ook die pad van Gabbata na Golgota om die Joodse vroue te waarsku om nie oor Hom te huil nie, maar eerder oor hulleself en hulle kinders. Swanger en sogende mammas sal immers groot ellende belewe in die oordeel wat kom.
Twee misdadigers – waarskynlik rowers of diewe (vgl Mrk 15:27; Mat 27:44) – word saam met Jesus na die plek wat Skedel genoem is – Golgota (in Latyn Calvaria, in Engels Calvary)– gelei om gekruisig te word. Jesus word in die middel van dié twee gekruisig, een aan sy regterkant, en een aan sy linkerkant. Die een misdadiger het Jesus ook soos die soldate beledig. Die ander misdadiger het egter die eerste een tereggewys vir sy oneerbiedigheid teenoor God. Dit is dwaas om sonder ‘n vrees vir God te sterf, want dan kan jy slegs sy oordeel verwag. Hy brei dan uit oor hulle vonnis wat geregverdig is. Hulle het gekry wat hulle verdien het. Dit was egter nie die geval met Jesus nie. Hy het niks sleg gedoen nie. Dan draai die tweede misdadiger na Jesus toe en sê daardie beroemde woorde: “Jesus, onthou my wanneer U in u koninkryk kom.” Waarop Jesus Hom met sy tweede kruiswoord verseker dat hy vandag reeds saam met Jesus in die paradys sal wees (Openb 2:7). ‘n Belofte wat ook vir ons vervul sal word aan die einde van ons aardse lewe. Dit ruk ‘n mens egter aan die hart dat die Jode so blind kan wees dat hulle nie insien dat hulle verwerping van hierdie onskuldige man, die Seun van God, tot hulle eie verwerping deur sy Vader sal lei nie.
Jesus sterf die Vrydagmiddag om 15:00. Die drie-uurlange duisternis is ‘n teken van God se oordeel soos talle kere in die verlede geprofeteer. Maar, telkens was die son se verduistering ook verbind aan die redding wat net na die oordeel kom. Dit is die agtergrond wat die verduistering besondere betekenis gee. Die gordyn (voorhangsel) van die tempel het middeldeur geskeur (van bo na onder, sê Markus en Matteus), ‘n teken dat die weg na God nou vir alle mense wat in Jesus glo, oop is (Hebr 6:19-20; 10:20). Dit is met Jesus se dood wat die heidense centurion tot bekering kom en uitroep dat Jesus waarlik regverdig was. Hy was dus waarskynlik betrokke by die hele proses van Gabbata tot by Golgota, trouens, hy het leiding gegee. Maar, hy het in die proses so onder die indruk gekom van Jesus se regverdigheid (onskuld) en identiteit dat hy God geprys het en Jesus as die Seun van God aanvaar (soos Markus dit vir ons beskryf). Daarmee word Jesaja 53:12 se voorspelling van die eer wat die Dienskneg van die Here ontvang ook vervul. Dieselfde gebeur met al die skares wat saamgedrom het vir die skouspel van die kruis. Hulle het diep onder die indruk gekom van die onreg wat Jesus aangedoen is. Soveel so, dat hulle op pad terug na Jerusalem hulleself op die bors geslaan het van verwyt en hartseer. Dit verklaar ook hoekom die Pinksterdag preek van Petrus vyftig dae later só ‘n impak op hulle gehad het. Die grond is reeds hier by die kruis voorberei dat hulle tot bekering kon kom. Hulle kon hulle hartseer oor hulle eie aandeel aan sy onskuldige dood bely en die vergifnis van die Here Jesus in ontvangs neem (Hand 2:36-40).
Die verband tussen oordeel en verlossing is die sleutel om die kruisdood van Jesus na waarde te kan beoordeel. God straf die sonde in ‘n “verlossende oordeel” sodat vergifnis en verlossing in Jesus aan elkeen wat in Hom glo, aangebied kan word. Daar is geen verlossing moontlik sonder oordeel nie. God spreek niemand sonder meer vry nie (Eks 34:6-7). Die weg tot vergifnis is egter nou geopen deur die offer van Jesus aan die kruis, onder ander gesimboliseer deur die voorhangsel wat skeur. Jesus word begrawe teen 18:00 die Vrydagaand. Josef van die Joodse dorpie Arimatea verskyn op die toneel. Soos Matteus dit vertel, was Josef ‘n volgeling van Jesus (Matt 27:57), maar in die geheim, soos Johannes vir ons die prentjie ‘n bietjie verder inkleur (Joh 19:38). Josef gee só vir Jesus ‘n eerbare begrafnis. Benewens die vroue, was Nikodemus ook daar soos Johannes ons vertel.
Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Lukas23_26-56.docx
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar