Skip to main content

Jesaja 52:13–53:12 – Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing

11 April

Jesaja 52:13–53:12 – Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing

13“Kyk, my dienskneg sal suksesvol wees, hy sal uitstyg, uittroon, en baie verhewe wees. 14Soos baie ontsteld was oor hom – so onmenslik misvormd was sy voorkoms, sy gestalte nie meer dié van ‘n mens nie – 15net so sal hy baie nasies verbyster; konings sal oor hom swyg. Ja, hulle aan wie niks vertel is nie, sien; en wie nie gehoor het nie, begryp.” 531Wie het geglo wat ons gehoor het? En die arm van die Here, aan wie is dit geopenbaar? 2Hy het soos ‘n jong loot voor Hom opgegroei, soos ‘n wortelstok uit droë grond. Hy het nie ‘n gestalte gehad, geen glans, dat ons na hom sou kyk nie, nie ‘n goeie voorkoms, dat ons hom sou begeer nie. 3Hy is verag, deur mense verlaat, ‘n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie ‘n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. 4Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. 5Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing. 6Ons almal het soos kleinvee gedwaal, elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan; maar die Here het ons almal se sondeskuld op hom laat neerkom. 7Hy is mishandel, maar hy het hom daaraan onderwerp en nie sy mond oopgemaak nie – soos ‘n skaap wat ter slagting gebring word, soos ‘n ooi wat voor haar skeerders stom is. Hy het sy mond nie oopgemaak nie. 8Ná onderdrukking en ‘n vonnis is hy weggeneem; en sy lot, wie dink daaroor na? Ja, hy is afgesny van die land van die lewendes; vanweë die oortreding van sy volk het die slae hom getref. 9Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by ‘n ryke was hy in sy dood, alhoewel hy nie geweld gepleeg het, en bedrog nie in sy mond was nie. 10Maar die Here het verkies om hom te verbrysel; Hy het hom siek gemaak. As sy lewe dien as ‘n skuldoffer, sal hy ‘n nageslag sien en lank leef. Wat die Here wil hê, sal deur sy hand suksesvol wees. 11Ná die swaarkry wat hy beleef het, sal hy sien; hy sal versadig wees aan sy kennis. “My dienskneg sal hom as ‘n regverdige betoon aan baie, en hulle sondeskuld – hy sal dit op hom laai. 12Daarom sal Ek aan hom ‘n deel gee onder baie; en met magtiges sal hy buit verdeel, omdat hy sy lewe blootgestel het aan die dood, en by oortreders gereken is. Hy het egter die sonde van baie gedra; vir oortreders het hy ingetree.

Ons maak baie moeilik vrede met lyding. Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons. Tog is daar iets fassinerend in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier. En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan. Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het. En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding. En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende Dienskneg van die Here.

Tog is dit juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees, dat hulle die hand van die Here nie daarin sal raaksien nie. Baie mense sal inderwaarheid ontsteld wees oor die Dienskneg van die Here se voorkoms, en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie (dink aan Herodes en Pilatus se verwarring). Maar, dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens, die Dienskneg van die Here, wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes. Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na sy pad toe. Wat spesifiek besonders van hierdie dienaar is, is dat hy die hoogste prys betaal – “afgesny van die land van die lewendes (kruisdood)… graf gegee by goddeloses (misdadigers aan die kruis)… by ‘n ryke in sy dood (Josef van Arimatea)” – (Jes 53:8-10a) EN daarna nog lank sal lewe (Jes 53:10b-11). Op ‘n verskuilde manier voorspel dit die dood en opstanding van hierdie dienaar van die Here. En God aanvaar sy skuldoffer (Jes 53:10 – vgl Lev 5:14-6:7 waar die skuldoffer selfs vir onopsetlike sondes voorgeskryf word) as ‘n losprys vir baie.

Let ook op dat die dienaar in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (Jes 53:7) terwyl hy vir oortreders bid (Jes 53:12 – dink aan Jesus se gebed vir die vroue op pad na Golgota, en sy gebed aan die kruis om vergifnis vir dié wat nie weet wat hulle doen nie). Dit laat ‘n mens onmiddellik ook dink aan Jesaja 30 waar stil wees, vertroue en gebed die gelowige respons op groot uitdagings is. Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan die Dienskneg van die Here die ereplek gee onder die grotes en magtiges (Jes 53:12). Want hierdie geduld in lyding dra uiteindelik groot vrug. Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het: (vgl Jes 53:1 in Joh 12:38; Jes 53:4 in Matt 8:17; Jes 53:7-8 in Hand 8:32-33; Jes 53:9 in 1 Pet 2:22). Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis (Jes 53:12 aangehaal in Luk 22:37). Die boodskap en belofte aan jou is daarom dat die straf wat vir ons die vrede bewerk, was op Hom, en deur sy wonde is daar ook vir jou genesing.

Lees meer (daar is 5 preke van my by https://ngkerksomerstrand.co.za/chris-van-wyk/ wat jy kan lees. Die nuutste een is by die volgende skakel): https://ngkerksomerstrand.co.za/die-krag-van-die-kruis-jesaja-533-12/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar