Johannes 18:1–38 – Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem
Ons lees die volgende twee dae die verhaal van Jesus van Getsemane tot Golgota soos Johannes dit vertel.
Johannes 18:1–38 – Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem
1Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy saam met sy dissipels na die oorkant van die Kidrondalvertrek waar daar ‘n tuin was. Hy en sy dissipels het toe daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het. 3Judas het toe daar aangekom met die kohort soldate, en die tempelwagte van die leierpriesters en die Fariseërs, met fakkels en lampe en wapens. 4Jesus het geweet van al die dinge wat met Hom sou gebeur, en het uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” 5Hulle antwoord Hom: “Jesus, die Nasarener.” Hy sê toe vir hulle: “Ek Is Hy.” Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Hy vir hulle sê, “Ek Is Hy,” het die soldate teruggedeins en op die grond neergeval. 7Hy het weer vir hulle gevra: “Wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus, die Nasarener.” 8Jesus het geantwoord: “Ek het vir julle gesê, Ek Is Hy. As julle dan na My soek, laat hierdie mense gaan.” 9Sodoende sou die woorde wat Hy gesê het, vervul word: “Hulle wat U aan My gegee het, van hulle het Ek nie een verlore laat gaan nie.” 10Simon Petrus het toe ‘n swaard wat hy gedra het, getrek en na die hoëpriester se slaaf geslaan en sy regteroor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Steek die swaard terug in sy skede. Die beker wat die Vader My gegee het – sal Ek dit dan nie drink nie?” 12Toe het die kohort soldate en die chiliarg en die tempelwagte van die Jode Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13En hulle het Hom eerste na Annas geneem. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar die hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat die raad aan die Jode gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf. 15Simon Petrus en ‘n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie dissipel was aan die hoëpriester bekend, en hy het saam met Jesus by die hoëpriester se voorhof ingegaan. 16Petrus het egter buite by die deur bly staan. Toe het die ander dissipel, die een wat aan die hoëpriester bekend was, uitgestap en met die deurwag gaan praat, en Petrus na binne gebring. 17Die diensmeisie wat die deurwag was, sê toe vir Petrus: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” Hy antwoord: “Ek is nie!” 18Die slawe en die tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by ‘n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. Ook Petrus het hom daar by hulle gestaan en warm maak. 19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en sy lering. 20Jesus antwoord hom toe: “Ek het openlik met die wêreld gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en op die tempelterrein, waar al die Jode saamkom, onderrig gegee, en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” 22Toe Jesus dit sê, het een van die tempelwagte wat daar naby gestaan het, Hom ‘n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” 23Jesus het hom geantwoord: “As Ek iets verkeerds gesê het, bring dan getuienis dat dit verkeerd is; maar as Ek reg is, waarom slaan jy My?” 24Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur. 25Simon Petrus het hom nog daar staan en warm maak. Hulle sê toe vir hom: “Is jy nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus het dit ontken en gesê: “Ek is nie!” 26Een van die hoëpriester se slawe, ‘n familielid van die een wie se oor Petrus afgekap het, het gesê: “Ek het jou mos in die tuin by hom gesien, dan nie?”27Petrus het dit weer ontken. En onmiddellik het ‘n haan gekraai. 28Van Kajafas af het hulle Jesus na die pretorium geneem. Dit was vroegoggend. Hulle het nie self die pretorium binnegegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie, maar die Pasga sou kon eet. 29Pilatus het uitgegaan na hulle toe en gevra: “Watter aanklag lê julle teen hierdie man?” 30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ‘n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” 31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en oordeel hom volgens julle wet.” Die Jode sê vir hom, “Ons word nie toegelaat om iemand om die lewe te bring nie” – 32sodat die woorde wat Jesus gesê het om aan te toon watter dood Hy sou sterf, vervul sou word. 33Pilatus het toe weer ‘n keer die pretorium binnegegaan en Jesus geroep en Hom gevra: “Is u die koning van die Jode?” 34Jesus antwoord: “Sê u dit uit u eie, of het ander mense dit oor My aan u vertel?” 35Pilatus antwoord toe: “Is ek miskien ‘n Jood? Dit is ú volk en leierpriesters wat u aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?” 36Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” 37“Is u dan tog ‘n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.” 38Pilatus sê toe vir Hom: “Wat is waarheid?” Nadat hy dit gesê het, het hy weer na die Jode uitgegaan en vir hulle gesê: “Ek vind geen skuld in hom nie.”
Dat Jesus kies om die lydenspad te stap, is duidelik. Hy kies om die roete van die kruis te volg, en nie met geweld die koninkryk van God te vestig nie. Daarom keer Hy ook vir Petrus toe dié met geweld Hom probeer verdedig. Hy moet die lydensbeker drink. Dit is sy opdrag en daaraan wil Hy gehoorsaam wees. Let ook op hoe beide Judas en Petrus steeds ’n prominente rol speel soos dit al van hoofstuk 13 af die geval is. Judas verraai Jesus, en verwerp daarmee die genade. Petrus verdedig Jesus deur Malgus se oor af te kap, en bevestig nog hier sy verbintenis aan Jesus, al is dit op ’n verkeerde manier. Jesus word dan uit die tuin gelei na Annas en Kajafas, die hoëpriesters. Annas was ’n besondere invloedryke man wie se vyf eie seuns, sowel as sy skoonseun Kajafas, almal op ’n stadium hoëpriesters was. Johannes verwys weer na die profesie van Kajafas – hy noem dit “raad” – dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf (Joh 11:49-52). Wat weereens wys hoe Kajafas se bose bedoelings saamwerk met God se goeie bedoelings. Die donker magte van die politiek en die godsdiens verenig dus dié nag om die Koning van die wêreld te kruisig. Maar, regdeur dit alles is God besig om sy wil te voltrek, selfs deur ‘n goddelose hoëpriester te gebruik om die waarheid te verkondig. Dit is ‘n merkwaardige gerusstelling dat God in beheer is, selfs al lyk dit asof alles verkeerd loop. Darem ironies dat die hemelse Hoëpriester, die Alfa en die Omega, na die aardse hoëpriester weggelei word om verhoor te word. Dat ‘n mens só die plot kan mis, jou met die tyd, die kairos kan misreken.
Let op dat Petrus homself by die wagte skaar wat so pas Jesus in hegtenis geneem het. Dit is ‘n geselskap wat hom voor ‘n groot versoeking gaan plaas, om Jesus te verloën. Petrus het immers tot hier telkens die regte keuse gemaak, selfs al was dit oordadig, soos met die aanval op Malgus. Maar, let op hoe dit net een verkeerde antwoord neem om jou voet op ‘n pad van hartseer en verloëning te sit. Trouens, met twee soortgelyke volgende vrae het Petrus telkens die kans om steeds die regte ding te doen. Om sy sonde reg te stel, en die Here Jesus te bly verdedig in ‘n vyandige omgewing. Maar, sy verbintenis word verswak van die oomblik af dat hy kies om ‘n leuen te vertel, in die waan dat dit vir hom veiliger is. En dit raak daarna vir hom al hoe moeiliker om om te draai. Jesus word dan verhoor deur Annas oor sy dissipels en sy leer. Dit is darem net heerlik om – midde-in die erns van hierdie situasie – die wysheid en integriteit van Jesus op te merk. Hy neem die fokus weg van die dissipels na die Joodse leiers, trouens na die hele Joodse volk. Almal weet wat Hy gesê het. Dit is skynheilig om Hom te vra na sy dissipels en lering, terwyl dit algemene kennis is. En Hy wys hoe ‘n mens onregverdige optredes hanteer toe iemand Hom klap. Jy vra na die logika daaragter; jy vra vir bewyse en getuienisse wat die optrede regverdig; en jy wys die onregverdige optrede uit sodat dit herstel kan word. Natuurlik, soos hier, sal dit jou nie noodwendig uit die moeilikheid kry nie, maar dit maak die speelveld gelyk, sodat enige verdere optrede as dubbeld so sleg uitgewys kan word.
Nadat Petrus Jesus nog ’n tweede en derde keer verloën het, kom Jesus voor Pilatus en staan tereg op die beskuldiging dat Hy Christus, ‘n koning, is. Watter opeenstapeling van verspilde kanse sien ‘n mens nie regdeur hierdie hoofstuk nie! Judas verspeel sy kans op inkeer. Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer. Pilatus verspeel sy kans om Jesus ’n regverdige verhoor te gee. En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen. Hy gaan nie die verraaier teë nie. Hy dwing die Jode nie tot aanbidding en geloof nie. Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie. Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word. Jesus praat daarom oor sy koningskap wat nie van hierdie wêreld is nie. Hy praat spesifiek oor die waarheid waarvan Hy kom getuig het, die waarheid dat Hy van God af gekom het. En Hy verkondig wat die hele wêreld nog sal agterkom, dat almal wat aan die waarheid behoort, elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is (onthou Jesus is self die Waarheid!), sal luister na wat Hy sê.
Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Johannes18.docx
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar