Psalm 31:8-16 – U is my God, my tye is in u hand
Psalm 31:8-16 – U is my God, my tye is in u hand
8Ek wil juig en vreugde vind in u troue liefde – dat U my ellende raakgesien het, bewus was van die benouenis van my lewe, 9my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie, maar my voete op ‘n ruim plek laat staan het. 10Wees my genadig, Here, want ek is benoud; my oë is dik geswel van verdriet, my siel en liggaam, 11ja, my lewe kwyn weg van kommer en my lewensjare met ‘n gesug. My kragte gee mee onder my sondelas, en my ledemate swel op. 12Ek het ‘n bespotting geword oor al my teenstanders, veral by my bure – ja, ‘n verskrikking vir my kennisse. Wie my op straat sien, vlug van my weg. 13Ek is vergete – uit die hart soos iemand wat dood is; ek word soos ‘n gebreekte kleipot. 14Want ek het die kwaadpratery van baie gehoor: “Verskrikking aan alle kante!” Wanneer hulle teen my saamspan, beplan hulle om my lewe te neem. 15Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: “U is my God, 16my tye is in u hand.” Red my uit die hand van my vyande, van hulle wat my agtervolg.
Dit is baie belangrik om in hierdie Psalm te sien dat die Psalmis, Dawid, aan God vashou ten spyte van sy ellende, die lewensbedreiging, die vyande, sy nood, sy verdriet, sy kommer, sy swaarkry, en sy uitgeteerde liggaam. Hy voel: “uit die hart soos iemand wat dood is.” Hy’t: “geword soos ‘n gebreekte kleipot” (vers 13) … “Maar ek, op U, Here, vertrou ek. Ek sê: ‘U is my God.’” (vers 15). Die Psalm leer ons dus dat vertroue meer tot sy reg kom in die smeltkroes van die lewe. Vertroue wys sy ware karakter in swaar tye.
En Dawid kan dit doen, omdat hy glo: “My tye is in u hand” (vers 16). Hierdie sin kan ook vertaal word met “My toekoms is in u hand.” (Craigie). Terwyl hy pleit dat hy uit die hande van sy vyande en vervolgers gered word, en hy pleit dat God hom sal red deur sy onfeilbare liefde, en hy smeek dat die Here hom nie teleurgestel sal laat staan in sy verwagting nie, neem hy egter nie God se rol oor deur in die uitkoms te glo nie, maar net in God. Sy tye is in God se hand. En dit is genoeg vir hom. Waaraan hy vashou, is alles wat hy weet van God – dat Hy ’n veilige staanplek gee (vers 8), dat Hy getrou en onfeilbaar is in sy liefde (vers 16). Hoe hy vashou, is om te vertrou, te bid, en moed te hou.
Ek dink dit is baie keer ons probleem in ons geloofslewe. Ons fikseer op die uitkoms, die redding self, boonop soos onsself dit definieer, en verbind dan ons geloof aan die regte uitkoms, in plaas daarvan om ons geloof aan God te verbind, op Hom te vertrou. Ons tye is immers in sy hand. En dit stuur net op rampspoed af in terme van ons geloofslewe. Jesus wys vir ons in Getsemane dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ’n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat. Dit kan voorkom dat ons geloof wankel of ten minste nie sy doel bereik nie, as die uitkoms nie is wat ons gehoop het dat dit sal wees nie. Maar waar ons ernstig vra, en dit dan in die hande van die Here laat, kan ons die uitkoms, wat dit ook al is, met blydskap uit die hand van die Here ontvang.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-27-31-vertrou-god-wees-sterk-en-vol-moed/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar