Skip to main content

Hebreërs 13:1-6 – Die Here is vir my ‘n helper

23 Augustus

Hebreërs 13:1-6 – Die Here is vir my ‘n helper

1Die broederliefde moet bly! 2Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang. 3Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, aan hulle wat mishandel word asof julle dit self aan julle liggaam beleef. 4Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel. 5Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie”, 6sodat ons met vertroue kan sê: “Die Here is vir my ‘n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal ‘n mens aan my doen?”

In ’n gemeenskap wat fokus op Jesus as Leidsman en Voleinder van die geloof en terselfdertyd sorg dat die ander lede van die geloofsgemeenskap nie agterbly en afvallig raak van die lewende God nie, kan mens nie anders as om te fokus op dinge wat die gemeenskap bevestig en bou nie. Daarom beskryf die skrywer die tipe gemeenskap waarna hulle streef om te wees in die vorm van ’n hele aantal onderlinge houdings en gewoontes. Hy gee ’n sinopsis van die eienskappe van die geloofsgemeenskap wat as pastorale en etiese onderrig kan dien.

Die eerste vyf aspekte het veral te make met hulle persoonlike ruimte (vgl ook die tweede lys van vyf aspekte in vers 7-17 wat met hulle gemeenskapsverhoudings te make het):

  • Hebreërs 13:1 – Hulle moet mekaar liefhê – “Die broederliefde moet bly!”
  • Hebreërs 13:2 – Hulle moenie versuim om gasvry te wees nie. Só kan hulle straks verras word met engele as gaste! Dit verwys waarskynlik na Abraham wat God self in die vorm van engele gehuisves het (Gen 18).
  • Hebreërs 13:3 – Hulle moet sorg vir gevangenes en mishandeldes, asof hulle self gevangenes en mishandeldes is.
  • Hebreërs 13:4 – Hulle moet die huwelik in alle opsigte eerbaar hou. Geen hoerery – enige seks buite die huwelik – of egbreuk – enige seks met iemand anders as jou vrou of man – mag toegelaat word nie.
  • Hebreërs 13:5-6 – Hulle moet vry van geldgierigheid leef.

Hoe doen ’n mens dit? Deur op twee beloftes van die Here te vertrou. “Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, ‘Ek sal jou beslis nie verlaat nie en ook nie in die steek laat nie.’” Dit is dieselfde belofte wat die Here aan Josua gegee het (Deut 31:6,8; Jos 1:5) en in gewysigde vorm vroeër aan Jakob (Gen 28:15). Dit bly die belofte van God aan sy mense. Dán, sê die skrywer, sal mens met vertroue op die tweede belofte kan staatmaak: “Die Here is vir my ‘n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal ‘n mens aan my doen?” (aangehaal uit Ps 118:6)

Lees meer: https://bybelskool.com/hebreers-13-wees-gasvry-meelewend-mededeelsaam-gehoorsaam-en-onderdanig/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar