Skip to main content

Lukas 14:1-14 – Jy sal beloon word by die opstanding van die regverdiges

24 Augustus

Lukas 14:1-14 – Jy sal beloon word by die opstanding van die regverdiges

1Toe Hy op ‘n Sabbat na die huis van een van die leiers van die Fariseërs gegaan het vir ‘n maaltyd, het hulle Hom fyn dopgehou. 2En kyk, reg voor Hom was daar iemand wat aan watersug gely het. 3Jesus het vir die wetskenners en Fariseërs gevra: “Is dit toelaatbaar om op die Sabbat te genees of nie?” 4Maar hulle het stilgebly. Toe het Hy die man geneem, hom gesond gemaak en hom laat gaan. 5Daarop sê Hy vir hulle: “Wie van julle sal, as sy seun of os in ‘n put val, hom nie dadelik uithaal nie – selfs al is dit op die Sabbat?” 6Hierop kon hulle nie antwoord nie. 7Toe Hy opmerk hoe die genooides die ereplekke aan die tafel uitsoek, het Hy die volgende gelykenis vir hulle vertel: 8“Wanneer jy deur iemand na ‘n bruilofsfees uitgenooi word, moet jy nie op die ereplek gaan sit nie, ingeval iemand van groter aansien as jy deur hom uitgenooi is, 9en hy wat hom en jou uitgenooi het, dan vir jou kom sê, ‘Maak plek vir hierdie man.’ Dan sal jy met skaamte die verste plek gaan inneem. 10Nee, wanneer jy uitgenooi word, gaan na die verste plek, sodat die man wat jou uitgenooi het, kan kom en vir jou sê, ‘Vriend, skuif nader!’ Dan sal jy aansien kry by almal wat saam met jou vir ete aanleun. 11Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.” 12Jesus het ook vir die man wat Hom genooi het, gesê: “Wanneer jy ‘n ligte ete of ‘n groot maaltyd gee, moenie jou vriende of broers of familie of ryk bure nooi, met die doel dat hulle jou weer op hulle beurt uitnooi, en jy dan vergoed word nie. 13Nee, wanneer jy ‘n feesmaal aanbied, nooi die armes, kreupeles, verlamdes, en blindes. 14Dan sal jy gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie; want jy sal beloon word by die opstanding van die regverdiges.”

Dit is Jesus se derde maaltyd in die huis van ‘n Fariseër in Lukas se Evangelie. Dit vind plaas op die Sabbat, maar dit is regtig ‘n vyandige omgewing. Hulle hou Jesus fyn dop om te sien wat Hy gaan doen, want reg voor Hom was ‘n man wat aan watersug (edema) gely het. Dit kan selfs wees dat hulle die man met voorbedagte rade genooi het, hoewel die teks nie vir ons meer inligting gee nie. Jesus weet dat hulle Hom dophou en vra dan vir die wetskenners en Fariseërs of dit geoorloof is om op die Sabbat gesond te maak of nie. Hy het immers al ‘n paar keer op die Sabbat presies dit gedoen, tot hulle frustrasie en argwaan (Luk 6:6-11; 13:10-17). Hulle het egter stilgebly, waarskynlik omdat hulle nie meer oortuigbaar was nie, maar skietgoed gesoek het om Hom oor aan te kla. Jesus bly egter getrou aan sy roeping, neem die man, maak hom gesond en laat hom uit die vyandige omgewing gaan.

Jesus gebruik dan hulle eie optrede as ‘n voorbeeld. Hulle sal immers niks in hulle pad laat staan as ‘n seun (sommige manuskripte lees esel) of bees van hulle in ‘n put sou val, om iets daaraan te doen nie, selfs al sou dit op ‘n Sabbatdag gebeur. ‘n Mens sal nie ‘n dag wag voor jy hulp gee vir ‘n kind van jou nie, selfs nie vir ‘n dier nie. Hulle was daarom nie in staat om iets hierop te sê nie. Dit is immers een ding om Jesus te probeer uitvang dat Hy hulle Sabbatsreëls oortree. Dit is heeltemal iets anders om iemand genesing te weier as dit byderhand en beskikbaar is, soos dit inderdaad vir Jesus is. Dit is waarskynlik waarom hulle Hom nie een keer kan antwoord op sy vrae en uiteindelike optrede nie. Jesus sien dwarsdeur hulle en genees die man. Hy is die Barmhartige God wat Hom nie deur skynheiligheid van sy roeping sal laat afsien nie.

Jesus gebruik dan stilte om kommentaar te lewer op die gaste wat by die leier van die Fariseër die beste plekke uitsoek. Dit sou plekke wees soos dié naby die gasheer, óf naby ander belangrike gaste. Jesus moedig die Joodse genooides met twee gelykenisse tot beskeidenheid en gasvryheid aan, nie net in terme van sulke maaltye nie, maar ook in terme van die koninkryk van die hemel – die “opstanding van die regverdiges”, soos Jesus dit aan die einde toepas. Die eerste gelykenis is van iemand wat ‘n genooide gas by ‘n bruilof is. Die regte ding om te doen, is om nie by die ereplek te gaan “aanlê” nie (‘n mens het gelê en eet aan tafel), sodat jy nie in skaamte die agterste plek moet gaan inneem as die gasheer vir ‘n meer gesiene persoon as jy plek moet maak nie. Die regte manier is om uit die staanspoor die agterste plek in te neem – d w s beskeie te wees. Dan kan die gasheer besluit om jou as ‘n “vriend” te hanteer, en ‘n beter plek voor almal daar te gee. Die eerbewys moet van die gasheer af kom, ‘n implisiete verwysing na God wat nederigheid beloon by sy eie feesmaal aan die einde van die tyd (waarna die volgende gelykenis sal verwys).

Jesus spel die geestelike beginsel uit: “Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy of sy wat hulleself verneder, sal verhoog word.” (vgl Luk 9:48; 13:30; 18:14) Hy gaan verder en leer die Fariseër (en ons) dat dieselfde beginsel van beskeidenheid ook geld in terme van wie jy uitnooi na die maaltye wat jyself hou. Moenie net mense nooi wat jou kan terug nooi nie – vriende, familie, en ryk bure nie. Nooi ook mense wat jou nie terug kan nooi nie – armes, kreupeles, lammes en blindes. God sal jou daarvoor beloon in die opstanding van die regverdiges (Dan 12:2). Dit is sy belofte.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-141-1532-god-het-n-hart-vir-verlorenes/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar