Skip to main content

2 Petrus 1:3-4 – God vervul sy beloftes aan ons sodat ons deel kan kry aan die goddelike natuur

25 Augustus

2 Petrus 1:3-4 – God vervul sy beloftes aan ons sodat ons deel kan kry aan die goddelike natuur

1Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het, deur die geregtigheid van ons God en Verlosser, Jesus Christus: 2Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word, deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here. 3Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het. 4Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is.

Petrus begin sy brief met ‘n baie belangrike beskrywing van homself – dienskneg en apostel van Jesus Christus. Daarmee dui Petrus eintlik reeds aan hoe hy homself en sy roeping verstaan het. Hy is iemand wat Jesus volg, én hy is iemand wat deur Jesus gestuur is om ‘n spesifieke taak te verrig. Dit dui dus enersyds sy nederigheid aan as dienskneg van die Here, andersyds die gesag waarmee hy kan optree as apostel. Die woord apostel beteken immers gestuurde. Hy gaan voort om die ontvangers van die brief te beskryf as: “dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het, deur die geregtigheid van ons God en Verlosser, Jesus Christus.” Aan hulle bid hy dat die Here genade en vrede in oorvloed sal skenk, spesifiek: “deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here.”

Let op dat hierdie geloof nie as iets wat hulle doen, beskryf word nie, dws subjektief, maar as iets wat hulle van God af ontvang het, dws objektief. Geloof is die werk van God in ons hart, sê Petrus daarmee. Dit is iets wat ons ontvang, iets waarvoor ons nie kan werk nie. Let aan die ander kant op dat die genade en vrede wat hy hulle toebid aan hulle kennis van God en van die Here Jesus verbind word: “Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe, deur die kennis van Hom…”. Godvresendheid (om toegewyd aan God te lewe) is dus een van die gevolge van ‘n intiemer wordende kennis van die Here Jesus Christus. Geestelike groei deur ons kennis van Jesus is dus soos twee kante van dieselfde munt. Toewyding aan Hom lei tot dieper kennis van Hom. Kennis van Hom lei weer tot dieper toewyding aan Hom. Uiteraard is geestelike groei dus aan die een kant iets wat deur sy goddelike krag aan ons geskenk word, soos hy in die volgende verse gaan uitspel, maar aan die ander kant ook iets waaraan ons onsself moet en kan toewy.

Die beginpunt en ook kragpunt van die geestelike lewe is God se goddelike krag wat ons alles gegee het wat ons nodig het vir ‘n toegewyde lewe – ‘n lewe wat van godsvrug getuig – sodat ons in ons groei in die kennis van Hom: “deel kan hê aan die goddelike natuur”. Watter belofte! Dit is die enigste keer dat die NT só oor geestelike groei praat. Petrus bedoel hiermee nie dat ons as’t ware vergoddelik word nie, maar dat ons al hoe meer as nuwe mense kan lewe op grond van die werk wat God in ons doen. In Paulus se woorde, dat ons nie langer deur ons “sondige natuur” beheers sal word nie, maar deur die Gees (veral Rom 8:1-17; Gal 5:16-25). Ons deel dus in die goddelike natuur deurdat ons tot die liggaam van Christus, dws God se familie, behoort, en ‘n onverganklike natuur soos God self ontvang. Ons kan aan die een kant daardeur die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is, ontvlug. Ons kan aan die ander kant daarom God ons Vader noem, en Jesus ons broer, selfs onsself die bruid van Christus ons bruidegom noem. Maar, ons word nie in die proses self gode soos ander godsdienste leer nie.

Lees meer: https://bybelskool.com/2-petrus-1-le-julle-daarop-toe-om-julle-roeping-en-verkiesing-stewig-te-vestig/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar