Psalm 26:1-5
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Psalm 26 besing die geluk van een wat blaamloos lewe. Dawid maak hier in die eerste deel van die Psalm sy lewe oop voor God en lê sy opregtheid (integriteit) in optrede en vertroue op God aan sy ondersoekende oog bloot. Daarmee herinner hy ons daaraan dat sowel ons lewe in die wêreld as ons lewe met God volgens dieselfde waardes geleef moet word. Dit is waarom hy sê dat Hy hom deur God se liefde en waarheid laat lei het. Hy het God se karakter en riglyne as rigtingwyser gebruik in sy eie lewenstyl, terwyl hy ook op God vertrou het om dit te kan regkry (Fil. 2:12-13 in OT gewaad!).
Bid die Psalm
“’n Dawidspsalm. Laat aan my reg geskied, Here, want ek was opreg in my doen en late. Ek het op die Here vertrou sonder om te twyfel. Toets my, Here, en ondervra my. Ondersoek my motiewe en my toegeneentheid. Want ek is gedurig bewus van u liefde; ek het volgens u waarheid gelewe. Met leuenaars gaan ek nie om nie; met skynheiliges gaan ek nie saam nie. Ek verag die byeenkoms van bose mense, en by die goddeloses sit ek nie.” NLV
Boodskap en betekenis
Twyfel, volgens dié Psalm, is nie om aan God se bestaan te twyfel nie, maar eerder om te twyfel in God se vermoë om betroubaar op te tree. Dit is ook die uitdaging vir ons vandag, om God te vertrou dat Hy in óns wêreld betrokke is en sy wil sal laat geskied. Hierdie verbintenis om God te vertrou, is iets wat natuurlik ook nie net met Dawid se geloof te make het nie. Dit beteken ook dat hy nee sê vir die waardes en lewenstyl van bedrieërs, agterbakse mense, misdadigers, goddeloses, moordenaars en mense wat ander probeer omkoop. “Ondersoek my deur en deur” in vers 2 beteken letterlik: “toets my niere en hart”, die setel van emosies en verstand. Dawid wil dus sy gevoelens en gedagtes aan God se ondersoekende oog blootlê dat God self sal sien dat hy met integriteit opgetree het en steeds so wil lewe. Dit is ook die manier waarop ons moet lewe. In absolute integriteit en vertroue. Terwyl ons van God self ook vra om ons te ondersoek en te help om dit inderdaad te doen, soos ons ook by Paulus leer (1 Kor. 4:3-6: “Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur ’n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie… maar Hy wat my beoordeel, is die Here.”).
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar