Psalm 23
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Psalm 23 werk met die metafoor van God as herder wat Dawid beskerm en begelei in die lewe, selfs in die diepste donkertes. Hierdie Psalm, waarskynlik die bekendste van alle Psalms, is daarom die gebed vir alle seisoene van die lewe. Dit is die geloofsbelydenis van iemand vir wie die Here van sy jeug af alles was. En wat ervaar het dat God in alle seisoene van die lewe Homself as herder bewys het.
Bid die Psalm
“’n Dawidspsalm. Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie. Hy laat my lê in groen weivelde; na water waar rus is, lei Hy my. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die pad van geregtigheid tot eer van sy Naam. Wanneer ek loop in ’n baie donker kloof, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. U berei vir my ’n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ’n eregas deur my kop te salf met olie en my beker oorvol te maak. Waarlik, u goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe; en ek sal bly in die huis van die Here so lank as wat ek lewe.” NLV
Boodskap en betekenis
Psalm 23 is die belydenis van iemand vir wie die Here tye van rus en vrede gegee het en Hom daarvoor dank. Dit is ook die belydenis van iemand wat ervaar dat God rigting en betekenis in sy lewe gee en Hom daarvoor loof. Maar dan is Psalm 23 ook die belydenis van iemand wat ervaar dat daar tog ook in die lewe donker dieptes is en wat moet worstel met die pyn van nie-weet-nie, van onvervulde beloftes, van ondeursigtige raaisels. Dis juis dan wat hy kan bely dat hy nie bang hoef te wees nie, want God is by hom en by God is hy veilig. Die belydenis verdryf nie altyd die donker nie, dit beantwoord nie altyd die vrae nie, maar dit hou vas aan hoe God homself deur die eeue laat ken het, as die betroubare, as die herder, as die een wat dinge laat meewerk ten goede, selfs al beteken dit dat die donkerte nie in lig verander nie. Dawid verwoord hier iets van wat die Hebreërskrywer lank hierna sou skrywe dat nie alle gelowiges altyd kry wat beloof is nie, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie (Hebr. 11). Psalm 23 is dus ‘n feespsalm en ‘n troospsalm. Dit is ‘n psalm vir die lewe en die dood. Dis vir al die seisoene van die lewe. En die waarheid wat in die Psalm opgesluit lê, is dat ons hele lewe altyd by God veilig is.
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar