Amos 7:1-17 – Drie gesigte van oordeel – sprinkane, vuur en ‘n swaard
Die laaste hoofdeel van Amos bevat vyf gesigte van oordeel – ‘n sprinkaanswerm, ‘n groot vuur, ‘n swaard (eerder as ‘n skietlood soos in die NAV vertaal word), ‘n mandjie somervrugte, en die oordeel van die Here by die altaar. Met die eerste twee gesigte is daar nog die hoop op herstel, met die laaste drie nie meer nie. Tussen-in is daar ‘n onderonsie met die priester Amasia wat Amos probeer keer om sy roeping uit te voer. Aan die einde sal uiteindelik tóg een visioen van herstel vir Israel te voorskyn kom vir die toekoms waarmee die boek afgesluit word.
Dit is opmerklik dat ‘n mens ‘n bietjie meer van Amos as mens in dié gedeelte raaksien, sy interaksie met die Here, sy voorbidding vir die volk, sy verdediging van God se roeping teenoor die mag van die instituut van die staat en die tempel. Dit gee ‘n bietjie meer van ‘n menslike kant aan die onverbiddelike oordeel van die Here, hoewel ‘n mens steeds van die onherroeplikheid daarvan bewus bly.
7:1-3 – Die oordeel van die sprinkaanswerm
Die visioen van die oordeel van hierdie plaag van sprinkane is hierdie keer meer spesifiek op die impak wat dit op die koning, Jerobeam II, het, gerig. Let op hoe Amos se voorbidding die opeenvolging van sprinkaanplae afweer op grond van sy pleitrede by die Here: “Here, my God, vergewe tog vir Jakob! Hoe sal hy staande bly? Hy is klein!” Die Here se onsigbare betrokkenheid beide by die bedreiging van die plaag sowel as by die bedwinging daarvan bly egter die agtergrond vir die gebeure. Daarom word die herhaling van die plaag aan die tussenbeide trede van die Here gewyt.
7:5-6 – Die oordeel van vuur
Amos se voorbidding het ook ‘n impak op die volgende gesig van ‘n vuur wat “die groot watervloed” laat opdroog. Dié watervloed dui waarskynlik op die “vloedwaters” wat ons reeds in Gen. 7 kennis neem wat as die bron van die fonteine gereken is. Die vuur dui waarskynlik op ‘n versengende droogte wat die aarde sal laat verdor en hulle watervoorraad sal vernietig. Weereens luister die Here na Amos se dringende gebed (“Here, my God, hou tog op!”) en wend die droogte af.
7:7-9 – Die oordeel van ‘n swaard
Die volgende gesig is dié van ‘n swaard in die hand van die Here. Die woord wat met “skietlood” in die NAV vertaal is, beteken eintlik net “tin” (die metaal) en kan die lig van vers 9 se verwysing na ‘n swaard waarskynlik beter vertaal word as “swaard” ook in vers 7. Dit maak volledig sin in die lig van die feit dat die Here verkondig dat Hy sy volk nie meer sal spaar nie en met die swaard sal optree teen die koningshuis van Jerobeam. Let op dat Amos nie meer hierteen teëstribbel nie.
7:10-17 – Die konflik tussen Amasia en Amos
Die implisiete konflik met die koning wat in dié drie oordele sowel as in die vorige profesieë ingebou was, lok ‘n direkte reaksie uit van die staats- en tempelinstitute. Amasia, die priester van Bet-El, kla Amos aan by die koning: “Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie.”
Amasia konfronteer Amos in die waan dat hy een van die profete is (hy gebruik die woord “siener”), en waarsku hom dat hy inmeng met die staatgodsdiens: “die koninklike heiligdom, die staatstempel.” Let op hoe dié onderonsie die amper outomatiese institusionele weerstand teen iemand wat van buite die strukture af optree, weerspieël.
Amos se verweer is dat hy nie aan die reëls van die profetegildes gebonde is nie, net aan die opdrag en roeping wat die Here hom opgedra het. Hy is ‘n eenvoudige skaapwagter uit Tekoa, suid van Jerusalem, wat ook omgesien het na vyebome, ‘n seisoenswerk waarin vye geprik is om vinniger ryp te word.
Dit is ook interessant dat die teenstand wat Amasia aan Amos bied die oorsaak word dat die oordeel van die Here ook vir Amasia persoonlik betrek. Waar die oordeel tot dusver op die koning en die volk gemik was, word dit weens Amasia se verwerping van Amos se boodskap nou ook persoonlik op hom en sy familie gemik. Die Here bevestig hiermee die werk van die profeet wat Hy gekies het, al was hy nie deel van die normale profete korps nie.
Boodskap
Hierdie gedeelte wys hoe ‘n onwelkome boodskap sowel as ‘n ongemaklike boodskapper deur die amptelike verteenwoordiger van die staatsgodsdiens hanteer word. “Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie.” In plaas daarvan om tot inkeer te kom, om te sorg dat hulle godsdiens met geregtigheid gepaard gaan, probeer die leiers hulleself vernedering spaar deur die boodskap sowel as die boodskapper te ignoreer.
Om iemand stil te maak omdat die boodskap ongemaklik is, óf omdat die boodskapper nie aan die amptelike kriteria beantwoord nie, help natuurlik niks, as God inderdaad die bron van dié boodskap en die opdraggewer van die boodskapper is nie. Iets wat alle institusionele gesagdraers in gedagte moet hou.
View all posts in this series
- Amos – Die Here brul uit Sion vir geregtigheid
- Amos 1:1-2:16 – Die Here brul teen die nasies
- Amos 3:1 – 4:13 – Israel weet nie hoe om reg te doen nie
- Amos 5:1-6:14 – Vra na my wil, dan sal julle lewe
- Amos 7:1-17 – Drie gesigte van oordeel – sprinkane, vuur en ‘n swaard
- Amos 8:1-14 – Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte
- Amos 9:1-10 – Die oordeel van die vyfde gesig van die Here by die altaar
- Amos 9:11-15 – Die herstel van Israel
Tags: Amos
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus