Skip to main content

Amos 7:1-17 – Drie gesigte van oordeel – sprinkane, vuur en ‘n swaard

prayer-shawlDie laaste hoofdeel van Amos bevat vyf gesigte van oordeel – ‘n sprinkaanswerm, ‘n groot vuur, ‘n swaard (eerder as ‘n skietlood soos in die NAV vertaal word), ‘n mandjie somervrugte, en die oordeel van die Here by die altaar. Met die eerste twee gesigte is daar nog die hoop op herstel, met die laaste drie nie meer nie. Tussen-in is daar ‘n onderonsie met die priester Amasia wat Amos probeer keer om sy roeping uit te voer. Aan die einde sal uiteindelik tóg een visioen van herstel vir Israel te voorskyn kom vir die toekoms waarmee die boek afgesluit word.

Dit is opmerklik dat ‘n mens ‘n bietjie meer van Amos as mens in dié gedeelte raaksien, sy interaksie met die Here, sy voorbidding vir die volk, sy verdediging van God se roeping teenoor die mag van die instituut van die staat en die tempel. Dit gee ‘n bietjie meer van ‘n menslike kant aan die onverbiddelike oordeel van die Here, hoewel ‘n mens steeds van die onherroeplikheid daarvan bewus bly.

7:1-3 – Die oordeel van die sprinkaanswerm

Die visioen van die oordeel van hierdie plaag van sprinkane is hierdie keer meer spesifiek op die impak wat dit op die koning, Jerobeam II, het, gerig. Let op hoe Amos se voorbidding die opeenvolging van sprinkaanplae afweer op grond van sy pleitrede by die Here: “Here, my God, vergewe tog vir Jakob! Hoe sal hy staande bly? Hy is klein!” Die Here se onsigbare betrokkenheid beide by die bedreiging van die plaag sowel as by die bedwinging daarvan bly egter die agtergrond vir die gebeure. Daarom word die herhaling van die plaag aan die tussenbeide trede van die Here gewyt.

7:5-6 – Die oordeel van vuur

Amos se voorbidding het ook ‘n impak op die volgende gesig van ‘n vuur wat “die groot watervloed” laat opdroog. Dié watervloed dui waarskynlik op die “vloedwaters” wat ons reeds in Gen. 7 kennis neem wat as die bron van die fonteine gereken is. Die vuur dui waarskynlik op ‘n versengende droogte wat die aarde sal laat verdor en hulle watervoorraad sal vernietig. Weereens luister die Here na Amos se dringende gebed (“Here, my God, hou tog op!”) en wend die droogte af.

7:7-9 – Die oordeel van ‘n swaard

Die volgende gesig is dié van ‘n swaard in die hand van die Here. Die woord wat met “skietlood” in die NAV vertaal is, beteken eintlik net “tin” (die metaal) en kan die lig van vers 9 se verwysing na ‘n swaard waarskynlik beter vertaal word as “swaard” ook in vers 7. Dit maak volledig sin in die lig van die feit dat die Here verkondig dat Hy sy volk nie meer sal spaar nie en met die swaard sal optree teen die koningshuis van Jerobeam. Let op dat Amos nie meer hierteen teëstribbel nie.

7:10-17 – Die konflik tussen Amasia en Amos

Die implisiete konflik met die koning wat in dié drie oordele sowel as in die vorige profesieë ingebou was, lok ‘n direkte reaksie uit van die staats- en tempelinstitute. Amasia, die priester van Bet-El, kla Amos aan by die koning: “Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie.

Amasia konfronteer Amos in die waan dat hy een van die profete is (hy gebruik die woord “siener”), en waarsku hom dat hy inmeng met die staatgodsdiens: “die koninklike heiligdom, die staatstempel.” Let op hoe dié onderonsie die amper outomatiese institusionele weerstand teen iemand wat van buite die strukture af optree, weerspieël.

Amos se verweer is dat hy nie aan die reëls van die profetegildes gebonde is nie, net aan die opdrag en roeping wat die Here hom opgedra het. Hy is ‘n eenvoudige skaapwagter uit Tekoa, suid van Jerusalem, wat ook omgesien het na vyebome, ‘n seisoenswerk waarin vye geprik is om vinniger ryp te word.

Dit is ook interessant dat die teenstand wat Amasia aan Amos bied die oorsaak word dat die oordeel van die Here ook vir Amasia persoonlik betrek. Waar die oordeel tot dusver op die koning en die volk gemik was, word dit weens Amasia se verwerping van Amos se boodskap nou ook persoonlik op hom en sy familie gemik. Die Here bevestig hiermee die werk van die profeet wat Hy gekies het, al was hy nie deel van die normale profete korps nie.

Boodskap

Hierdie gedeelte wys hoe ‘n onwelkome boodskap sowel as ‘n ongemaklike boodskapper deur die amptelike verteenwoordiger van die staatsgodsdiens hanteer word. “Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie.” In plaas daarvan om tot inkeer te kom, om te sorg dat hulle godsdiens met geregtigheid gepaard gaan, probeer die leiers hulleself vernedering spaar deur die boodskap sowel as die boodskapper te ignoreer.

Om iemand stil te maak omdat die boodskap ongemaklik is, óf omdat die boodskapper nie aan die amptelike kriteria beantwoord nie, help natuurlik niks, as God inderdaad die bron van dié boodskap en die opdraggewer van die boodskapper is nie. Iets wat alle institusionele gesagdraers in gedagte moet hou.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Amos


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…