Amos 5:1-6:14 – Vra na my wil, dan sal julle lewe
Amos hef ‘n klaaglied aan oor die gevalle Israel soos by ‘n begrafnis. In drie dele spel hy sy afgryse uit oor die situasie in die land. In die eerste daarvan is daar nog die hoop dat Israel sal luister: “Hoor hierdie woord …” (5:1-17). In die volgende twee perikope begin dit egter telkens met die weeklag van die woorde: “Ellende wag vir dié …” waarmee die misplaaste verlange na die dag van die Here (5:18-27) en die valse gerustheid in die aangesig van die bedreiging van die vyand (6:1-14) ontbloot word:
- 5:1-17 – Amos hef ‘n klaaglied aan oor Israel se verspilde kanse om te luister
- 5:18-27 – Die dag van die Here bring donker ellende, nie lig nie
- 6:1-14 – Ongekende ellende wag vir dié wat nie saam treur oor die ondergang van die volk nie
5:1-17 – Amos hef ‘n klaaglied aan oor Israel se verspilde kanse om te luister
Die oproep om te luister na die woord van die Here is ten spyte van alles tóg: “Vra na my wil, dan sal julle lewe!” Maar, verniet. Die lot van Israel is reeds verseël. Hulle het verloor nog voor hulle begin het. Hulle het deurgaans hulle kanse tot lewe verspil, omdat hulle nie geluister het nie. Die hoop op inkeer het beskaam.
Die spits van die Here se klag teen hulle is immers in die eerste plek die feit dat hulle nie na Hom geluister het nie, en ook nie van plan was om dit te doen nie. Hulle het die afgode by Bet-El, Gilgal, en Berseba gaan dien – die heiligdomme wat deur Jerobeam benut is om ‘n alternatiewe geestelike tuiste te skep vir Israel, sodat hulle nie die pelgrimspad sou neem na Jerusalem om daar te gaan aanbid nie. Hulle het van afgode raad gevra, en só die lewende God se stem in die wind geslaan.
In die tweede plek is die klag van die Here teen hulle dat hulle die regstelsel verkrag en misbruik het om onreg te pleeg: “Julle maak van die regspraak ‘n bitter saak, julle trap die reg in die grond in.” Daarmee vertoorn hulle die Skepper Here, dié een wat die Sewester en die Orion gemaak het, wat die dag-nag ritme sowel as die reën beheer. Hy trek dus sy voorsiening terug en laat hulle oor aan vernietiging.
Vanaf vers 10 brei Amos uit oor die onreg wat hulle pleeg. Dit deursuur die hele samelewing. Dit beïnvloed die howe. Dit beïnvloed die armes. En omdat hulle die regspraak verydel, die barmhartigheid teenoor armes versaak, en hulle met omkopery ophou, sal die Here teen hulle optree.
Let op hoe Amos tussen-in raad gee vir die regte wyse om in só ‘n tyd op te tree: “Dit is daarom dat ‘n verstandige mens maar stilbly in hierdie tyd, want dit is ‘n bose tyd.” Dit sluit nie die profetiese arbeid uit nie, maar beteken doodgewoon dat ‘n oorvloed van gepraat oor booshede uiteindelik nie so veel impak het as om te fokus daarop om goed te doen nie: “Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe!” ‘n Mens kan eintlik die kwaaddoen bevorder deur te veel daaroor te praat.
Dié goeddoen sluit in dat: “Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.” Maak dus ‘n verskil waar daar ‘n hoop is dat dit kan slaag, persoonlik in terme van gesindhede en gedrag, en publiek waar daar reëls is wat tot die voordeel van die regspraak ingespan kan word. Eerder as om net jou mond uit te spoel oor wat verkeerd is. Goeie raad!
5:18-27 – Die dag van die Here bring donker ellende, nie lig nie
Teenoor die populêre wanopvatting dat die “dag van die Here” ‘n dag van oordeel vir die nasies en ‘n dag van redding vir Israel sou wees, verkondig Amos dat die Here onreg straf, maak nie saak waar of onder wie dit voorkom nie. Dié dag van die Here bring vir hulle net donker ellende, en geen lig nie.
“Ellende wag vir dié wat smag na die dag van die Here!” Waar onreg gedy, daar bring die Here donkerte op onverwagte wyses. Jy leun niksvermoedend teen ‘n muur en ‘n slang pik jou (5:19)! Feeste en godsdienstige ywer help nie op sigself nie. God stel nie in die eerste plek belang in offers en musiek nie, soos Hy in die woestyntyd geïllustreer het. Hy stel belang in geregtigheid: “Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom.” (5:24). Godsdiens en geregtigheid is karperde. Die een kan nie sonder die ander nie.
Die twee Assiriese stergode – Sikkut en Kijun – gaan hulle daarom nie beskerm teen die ballingskap nie. Trouens, hulle sal die afgodsbeeldjies moet saamdra wanneer hulle in ballingskap weggevoer word, eerder as dat dié afgode vir hulle iets sal beteken. Ironies!
6:1-14 – Ongekende ellende wag vir dié wat nie saam treur oor die ondergang van die volk nie
Die tweede weeklag oor Israel kom vanweë hulle oorgerustheid, hulle onvermoë om die tekens van die tyd te lees: “Ellende wag vir dié wat so rustig in Sion woon, dié wat hulle so veilig voel op Samariaberg, dié vername mense van die voorste nasie op wie die koningshuis van Israel hom verlaat!” Sion word hier waarskynlik ironies gebruik, maar verwys ook na Jerusalem wat aan dieselfde tipe sondes as Israel skuldig is.
Die lot wat ‘n paar ander stede getref het – Kalne en Hamat in Aramase-Siriese gebied, en Gat in Filistynse gebied is deur Tiglat-Pileser III verower in 738 v.C – word as voorbeeld voorgehou vir wat ook met Samaria en Israel sal gebeur. Hulle is immers nie beter as daardie koninkryke nie, sê Amos vir hulle.
Die feit dat hulle die naderende ramp ignoreer, sal nie veroorsaak dat dit verdwyn nie. Hulle rustige lewenswyse en hulle fokus op ‘n esteties bevredigende godsdienstige lewe sal nie die ballingskap kan afweer nie. Daarvoor het hulle vir onreg te lief geword.
Die afsku van God oor wat in die geloofsgemeenskap aangaan, is deurpriemend en afskrikwekkend. Hy verafsku hooghartigheid. Hy het ‘n weersin in hulle mooi huise. Hy gaan alles platslaan en in puin lê – alles omdat hulle “van die reg iets wat giftig is” maak.
Hulle vreugde oor oorwinnings by Lo-Dabar en Karnajim is misplaas. Dit verwys waarskynlik na Jerobeam se veldtogte om dele van sy gebied van Juda en die ander volke te herwin, iets waaroor die profeet Jona geprofeteer het, en wat in 2 Konings 14 vertel word (vgl. my bydrae: 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk). Lo-Dabar beteken egter ook “nikswerd” wat op ironiese wyse die gevoel van nasionale trots as heeltemal misplaas teken. Hulle gaan heeltemal verwoes word van Lebo-Hamat in die noorde tot by die stroombedding in die Jordaanvallei in die suide.
Boodskap
Aan die een kant sien ‘n mens aan die begin van Amos 5 steeds die onderliggende aanbod van die Here dat Hy sal ingryp as hulle na sy wil sal vra. Hy wil immers hê dat sy volk met Hom in ‘n verbondsverhouding sal gedy: “Vra na my wil, dan sal julle lewe!”
Aan die ander kant is dit in die res van Amos 5-6 duidelik dat die skrif aan die muur is, omdat Israel hierdie woord van die lewe nie ter harte neem nie. Daarom sal hulle misplaaste verlange na die dag van die Here in ellende eindig, en hulle valse gerustheid in die aangesig van die bedreiging van die vyand in ballingskap verydel word. Hulle geregtigheid het giftig geword.
Die boodskap daarvan het ook implikasies vir ons. Wat vra die Here anders as dat na sy wil gesoek word (5:4) en dat op die goeie, en dit veral in terme van die geskied van geregtigheid, gefokus sal word!? “Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.” (5:15). Dit bly die universele eis van die Here.
Hosea het sy weergawe daarvan gegee: “Lê jou toe op troue liefde en geregtigheid en wag altyddeur op jou God.” (12:7). Miga sal nog daarby aansluit: “Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.” (6:8).
Dit is ook min of meer wat Paulus skrywe aan die Romeine: “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.” (12:9). “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.” (12:11) “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.” (12:17). En só kan ‘n mens aangaan met die etiese riglyne wat Paulus uitspel in die NT. Die liefde, die reg, en die dien van die Here bly universeel geldig vir alle mense, maar veral vir die kinders van God.
Ek sou dié boodskap van Amos as volg wou opsom: “Fokus op die doen van die goeie, eerder as op die afskiet van die kwade.” “Walk in the opposite spirit,” soos ‘n vriend van my altyd gesê het. Dít is wat ek met my saamvat van dié intense en indringende woord van die Here.
View all posts in this series
- Amos – Die Here brul uit Sion vir geregtigheid
- Amos 1:1-2:16 – Die Here brul teen die nasies
- Amos 3:1 – 4:13 – Israel weet nie hoe om reg te doen nie
- Amos 5:1-6:14 – Vra na my wil, dan sal julle lewe
- Amos 7:1-17 – Drie gesigte van oordeel – sprinkane, vuur en ‘n swaard
- Amos 8:1-14 – Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte
- Amos 9:1-10 – Die oordeel van die vyfde gesig van die Here by die altaar
- Amos 9:11-15 – Die herstel van Israel
Tags: Amos
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus