Skip to main content

Amos 5:1-6:14 – Vra na my wil, dan sal julle lewe

prayer-shawlAmos hef ‘n klaaglied aan oor die gevalle Israel soos by ‘n begrafnis. In drie dele spel hy sy afgryse uit oor die situasie in die land. In die eerste daarvan is daar nog die hoop dat Israel sal luister: “Hoor hierdie woord …” (5:1-17). In die volgende twee perikope begin dit egter telkens met die weeklag van die woorde: “Ellende wag vir dié …” waarmee die misplaaste verlange na die dag van die Here (5:18-27) en die valse gerustheid in die aangesig van die bedreiging van die vyand (6:1-14) ontbloot word:

  • 5:1-17 – Amos hef ‘n klaaglied aan oor Israel se verspilde kanse om te luister
  • 5:18-27 – Die dag van die Here bring donker ellende, nie lig nie
  • 6:1-14 – Ongekende ellende wag vir dié wat nie saam treur oor die ondergang van die volk nie

5:1-17 – Amos hef ‘n klaaglied aan oor Israel se verspilde kanse om te luister

Die oproep om te luister na die woord van die Here is ten spyte van alles tóg: “Vra na my wil, dan sal julle lewe!” Maar, verniet. Die lot van Israel is reeds verseël. Hulle het verloor nog voor hulle begin het. Hulle het deurgaans hulle kanse tot lewe verspil, omdat hulle nie geluister het nie. Die hoop op inkeer het beskaam.

Die spits van die Here se klag teen hulle is immers in die eerste plek die feit dat hulle nie na Hom geluister het nie, en ook nie van plan was om dit te doen nie. Hulle het die afgode by Bet-El, Gilgal, en Berseba gaan dien – die heiligdomme wat deur Jerobeam benut is om ‘n alternatiewe geestelike tuiste te skep vir Israel, sodat hulle nie die pelgrimspad sou neem na Jerusalem om daar te gaan aanbid nie. Hulle het van afgode raad gevra, en só die lewende God se stem in die wind geslaan.

In die tweede plek is die klag van die Here teen hulle dat hulle die regstelsel verkrag en misbruik het om onreg te pleeg: “Julle maak van die regspraak ‘n bitter saak, julle trap die reg in die grond in.” Daarmee vertoorn hulle die Skepper Here, dié een wat die Sewester en die Orion gemaak het, wat die dag-nag ritme sowel as die reën beheer. Hy trek dus sy voorsiening terug en laat hulle oor aan vernietiging.

Vanaf vers 10 brei Amos uit oor die onreg wat hulle pleeg. Dit deursuur die hele samelewing. Dit beïnvloed die howe. Dit beïnvloed die armes. En omdat hulle die regspraak verydel, die barmhartigheid teenoor armes versaak, en hulle met omkopery ophou, sal die Here teen hulle optree.

Let op hoe Amos tussen-in raad gee vir die regte wyse om in só ‘n tyd op te tree: “Dit is daarom dat ‘n verstandige mens maar stilbly in hierdie tyd, want dit is ‘n bose tyd.” Dit sluit nie die profetiese arbeid uit nie, maar beteken doodgewoon dat ‘n oorvloed van gepraat oor booshede uiteindelik nie so veel impak het as om te fokus daarop om goed te doen nie: “Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe!” ‘n Mens kan eintlik die kwaaddoen bevorder deur te veel daaroor te praat.

Dié goeddoen sluit in dat: “Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.” Maak dus ‘n verskil waar daar ‘n hoop is dat dit kan slaag, persoonlik in terme van gesindhede en gedrag, en publiek waar daar reëls is wat tot die voordeel van die regspraak ingespan kan word. Eerder as om net jou mond uit te spoel oor wat verkeerd is. Goeie raad!

5:18-27 – Die dag van die Here bring donker ellende, nie lig nie

Teenoor die populêre wanopvatting dat die “dag van die Here” ‘n dag van oordeel vir die nasies en ‘n dag van redding vir Israel sou wees, verkondig Amos dat die Here onreg straf, maak nie saak waar of onder wie dit voorkom nie. Dié dag van die Here bring vir hulle net donker ellende, en geen lig nie.

Ellende wag vir dié wat smag na die dag van die Here!” Waar onreg gedy, daar bring die Here donkerte op onverwagte wyses. Jy leun niksvermoedend teen ‘n muur en ‘n slang pik jou (5:19)! Feeste en godsdienstige ywer help nie op sigself nie. God stel nie in die eerste plek belang in offers en musiek nie, soos Hy in die woestyntyd geïllustreer het. Hy stel belang in geregtigheid: “Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom.” (5:24). Godsdiens en geregtigheid is karperde. Die een kan nie sonder die ander nie.

Die twee Assiriese stergode – Sikkut en Kijun – gaan hulle daarom nie beskerm teen die ballingskap nie. Trouens, hulle sal die afgodsbeeldjies moet saamdra wanneer hulle in ballingskap weggevoer word, eerder as dat dié afgode vir hulle iets sal beteken. Ironies!

6:1-14 – Ongekende ellende wag vir dié wat nie saam treur oor die ondergang van die volk nie  

Die tweede weeklag oor Israel kom vanweë hulle oorgerustheid, hulle onvermoë om die tekens van die tyd te lees: “Ellende wag vir dié wat so rustig in Sion woon, dié wat hulle so veilig voel op Samariaberg, dié vername mense van die voorste nasie op wie die koningshuis van Israel hom verlaat!” Sion word hier waarskynlik ironies gebruik, maar verwys ook na Jerusalem wat aan dieselfde tipe sondes as Israel skuldig is.

Die lot wat ‘n paar ander stede getref het – Kalne en Hamat in Aramase-Siriese gebied, en Gat in Filistynse gebied is deur Tiglat-Pileser III verower in 738 v.C – word as voorbeeld voorgehou vir wat ook met Samaria en Israel sal gebeur. Hulle is immers nie beter as daardie koninkryke nie, sê Amos vir hulle.

Die feit dat hulle die naderende ramp ignoreer, sal nie veroorsaak dat dit verdwyn nie. Hulle rustige lewenswyse en hulle fokus op ‘n esteties bevredigende godsdienstige lewe sal nie die ballingskap kan afweer nie. Daarvoor het hulle vir onreg te lief geword.

Die afsku van God oor wat in die geloofsgemeenskap aangaan, is deurpriemend en afskrikwekkend. Hy verafsku hooghartigheid. Hy het ‘n weersin in hulle mooi huise. Hy gaan alles platslaan en in puin lê – alles omdat hulle “van die reg iets wat giftig is” maak.

Hulle vreugde oor oorwinnings by Lo-Dabar en Karnajim is misplaas. Dit verwys waarskynlik na Jerobeam se veldtogte om dele van sy gebied van Juda en die ander volke te herwin, iets waaroor die profeet Jona geprofeteer het, en wat in 2 Konings 14 vertel word (vgl. my bydrae: 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk). Lo-Dabar beteken egter ook “nikswerd” wat op ironiese wyse die gevoel van nasionale trots as heeltemal misplaas teken. Hulle gaan heeltemal verwoes word van Lebo-Hamat in die noorde tot by die stroombedding in die Jordaanvallei in die suide.

Boodskap

Aan die een kant sien ‘n mens aan die begin van Amos 5 steeds die onderliggende aanbod van die Here dat Hy sal ingryp as hulle na sy wil sal vra. Hy wil immers hê dat sy volk met Hom in ‘n verbondsverhouding sal gedy: “Vra na my wil, dan sal julle lewe!

Aan die ander kant is dit in die res van Amos 5-6 duidelik dat die skrif aan die muur is, omdat Israel hierdie woord van die lewe nie ter harte neem nie. Daarom sal hulle misplaaste verlange na die dag van die Here in ellende eindig, en hulle valse gerustheid in die aangesig van die bedreiging van die vyand in ballingskap verydel word. Hulle geregtigheid het giftig geword.

Die boodskap daarvan het ook implikasies vir ons. Wat vra die Here anders as dat na sy wil gesoek word (5:4) en dat op die goeie, en dit veral in terme van die geskied van geregtigheid, gefokus sal word!? “Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.” (5:15). Dit bly die universele eis van die Here.

Hosea het sy weergawe daarvan gegee: “Lê jou toe op troue liefde en geregtigheid en wag altyddeur op jou God.” (12:7). Miga sal nog daarby aansluit: “Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.” (6:8).

Dit is ook min of meer wat Paulus skrywe aan die Romeine: “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.” (12:9). “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.” (12:11) “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.” (12:17). En só kan ‘n mens aangaan met die etiese riglyne wat Paulus uitspel in die NT. Die liefde, die reg, en die dien van die Here bly universeel geldig vir alle mense, maar veral vir die kinders van God.

Ek sou dié boodskap van Amos as volg wou opsom: “Fokus op die doen van die goeie, eerder as op die afskiet van die kwade.” “Walk in the opposite spirit,” soos ‘n vriend van my altyd gesê het. Dít is wat ek met my saamvat van dié intense en indringende woord van die Here.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Amos


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.