Amos 9:1-10 – Die oordeel van die vyfde gesig van die Here by die altaar

prayer-shawlSoos ‘n Simson van ouds in die tempel van die Filistyne in Gasa (Rigt. 16) staan die Here in die vyfde en laaste gesig in die tempel van Israel in Bet-El en verkondig verwoesting. Waar Simson die tempelpilare op homself en ‘n paar duisend Filistyne omgetrek het, verkondig die Here simbolies dat Hy die tempelpilare afbreek sodat dit ‘n verwoesting onder die hele volk kan teweeg bring.

In taal wat herinner aan Psalm 139 – “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?” – verkondig die Here dat vlug nie sal help nie. Dit help nie jy vlug na die doderyk of die hemel nie, indien dit natuurlik enigsins moontlik sou wees, of na die hoogste berg (Karmel) of die diepste punt in die see nie. “Niemand sal vrykom nie.

God se houding teenoor die volk het verander: “My bedoeling met hulle is om hulle kwaad aan te doen, nie om goed aan hulle te doen nie.” Israel is uiteindelik nie vir die Here anders as die ander nasies nie. Net soos die heidennasies dien Israel nie die Here nie, al is Hy die een wat verantwoordelik is vir hulle bestaan in die eerste plek.

Dit is ironies dat hulle dink hulle kan roem op hulle status as Godsvolk, gegrond op die Uittog uit Egipte, asof hulle daardeur ‘n meer spesiale status as die Kussiete (Ethiopië) ontvang het, ‘n nasie wat in hulle oë eintlik meer van ‘n slawevolk was. Maar, sê die Here, die Filistyne en Arameërs het ook ‘n Uittoggeskiedenis soos julle. Die Filistyne het getrek uit Kaftor, dit is die eiland Kreta, en die Arameërs uit Kir, dit is die gebied in die ooste van Mesopotamië. Dit alles was ook die werk van die Here. Die verhouding met die Here is dus die onderskeidingsteken om as Godsvolk getipeer te kan word, nie die blote historiese feite van die verlede nie.

Daarmee waarsku die Here om nie ‘n grootheidswaan te openbaar oor iets wat die Here nie net vir hulle gedoen het nie, maar ook vir ander nasies. Waar nasies, en dit sluit Israel in, die Here nie gehoorsaam nie, dáár straf die Here hulle. Die verhouding met die Here is iets wat in stand gehou moet word, anders beteken die historiese band nie veel nie, en kan hulle nie dié band as motivering vir ‘n spesiale behandeling gebruik nie.

In voorbereiding vir die laaste gedeelte van sy boek, is daar tog die klein sprankie hoop in ‘n see van wanhoop, gebaseer nie op hulle spesiale status nie, maar enkel en alleen op God se besluit: “Maar tog, Ek sal nie die nageslag van Jakob heeltemal uitroei nie, sê die Here.” Hoewel Hy hulle verseker gaan oordeel, sal daar ‘n oorblyfsel wees oor wie die Here Hom sal ontferm.

Amos


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: