Amos 8:1-14 – Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte
Dit is nogal ironies dat die vierde gesig met ‘n mandjie ryp somervrugte te make het (8:1-3). Amos was ‘n ekspert om nie net te weet wanneer vye ryp is nie, maar inderdaad ook om daartoe te kan bydra deur hulle te prik (7:14). Die Here gebruik dus sy vaardigheid om ryp vrugte raak te sien, om met hierdie gesig van die mandjie somervrugte Sy boodskap oor te dra.
Dit is egter ‘n ontstellende boodskap. Die Here wys vir Amos dat Hy weet wanneer die tyd ryp is vir sy volk. Dit is egter nie ‘n tyd van blydskap nie. Dit is ‘n tyd van hartseer, die tyd wanneer hulle deur die vyand geëet sal word, en die sang in die paleis sal stil word en in ‘n gehuil sal verander.
In drie gedeeltes pak die Here die betekenis van die visioen uit. Hy beskryf die konteks van ongeregtigheid wat Hom tot dié gevolgtrekking gebring het oor hulle rypheid vir oordeel (8:4-6). Hy verklaar dat Hy dit doodgewoon nie kan oorsien nie (8:7-10). En Hy beskryf die nood aan Homself en sy woorde wat sal heers in sy oordeel (8:11-14).
8:4-6 – Die onreg van die volk is wydverspreid en welbekend
Die Here beskryf ‘n konteks waarin arm mense verdruk word en die fokus op onregmatige wins is. Die godsdienstige rituele en feeste word wel nagekom, terwyl angstig gewag word vir die normale ekonomie om daarna weer in te skop. Die Here beskryf met afsku die valsheid en onreg wat hulle in die gemeenskap pleeg.
8:7-10 – Die Here sal nooit vergeet wat hulle gedoen het nie
Dit is waarom die Here net nie kans sien om dit oor te sien nie. Hy kan nie en sal nie vergeet wat hulle gedoen het nie. Die hele skepping sug eintlik saam met Hom oor die onmoontlikheid van die situasie. Die Here moes die roem van Israel gewees het. Nou is hulle vir hom ‘n las en ‘n skande. Daarom laat Hy dit vir hulle word: “soos wanneer ‘n mens oor ‘n enigste kind treur.” Die uiteinde sal vir hulle bitter wees.
Wat ‘n mens waarskynlik moet raaksien in hierdie beskrywing van die leed wat die Here die volk aandoen, is dat Hy oor hulle voel: “soos wanneer ‘n mens oor ‘n enigste kind treur.” Dié mense wat sy roem en trots op die aarde moes wees, het Hom versaak en teen Hom in opstand gekom.
8:11-14 – Mense sal ronddwaal om die woord van die Here te soek, maar nie kry nie
As dit maar al was, sou ‘n mens kon sê. Maar die ergste kom nog.
Die mees tragiese vir my van dié visioen, trouens miskien van die hele boodskap van Amos, is die feit dat die woord van die Here verlore raak. Daar sal ‘n honger wees, sê die Here: “nie na kos nie, ‘n dors nie na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor.”
Die ontroerende prentjie word geskilder van mense wat ronddwaal en rondslinger op soek na die woord van die Here. Maar vind, sal hulle dit nie vind nie. Die pad na die Here, sê Amos, sal verlore wees, uitgewis, uitgevee … net soos die pad na die heiligdomme van hulle afgode by Dan en Berseba, dié twee heiligdomme wat op die noord- en suidgrens respektiewelik geleë was en hulle in die eerste plek verlei het om aan die Here ongehoorsaam te wees.
Boodskap
Daar is ‘n noodwendigheid in die uitkoms van ‘n lewenspad wat mense inslaan. Waar die Here en sy wil vir die lewe gesoek word, dáár is ‘n toename in die bewussyn van God. Waar die Here en sy wil vir die lewe nie gesoek word nie, dáár is ‘n afname in die bewussyn van God. Soveel só dat die woord van die Here soek kan raak, trouens, dat Hy nie meer gevind kan word nie.
Dit is vir ons moeilik om te hoor, veral waar ons die woorde van die Here Jesus nog hoor weerklink: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt. 7:7-8).
Die woorde van Jesus bly gelukkig steeds die evangelie, maar in spesifieke kritiese omstandighede, waar die Here langdurig en deurlopend geïgnoreer word, en sy stem uitgedoof word, daar raak dié prentjie van Amos se mandjie ryp somervrugte relevant, van ‘n tyd wat ryp raak vir oordeel. Dit is daarom dat ons nooit mag toelaat dat iemand geestelik moeg raak en uitsak en doof raak vir die woord van die Here nie, soos die skrywer aan die Hebreërbrief waarsku nie (vgl. Hebr. 4:1).
View all posts in this series
- Amos – Die Here brul uit Sion vir geregtigheid - February 17, 2015
- Amos 1:1-2:16 – Die Here brul teen die nasies
- Amos 3:1 – 4:13 – Israel weet nie hoe om reg te doen nie - February 18, 2015
- Amos 5:1-6:14 – Vra na my wil, dan sal julle lewe - February 19, 2015
- Amos 7:1-17 – Drie gesigte van oordeel – sprinkane, vuur en ‘n swaard - February 20, 2015
- Amos 8:1-14 – Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte - February 23, 2015
- Amos 9:1-10 – Die oordeel van die vyfde gesig van die Here by die altaar - February 24, 2015
- Amos 9:11-15 – Die herstel van Israel