Skip to main content

Amos – Die Here brul uit Sion vir geregtigheid

prayer-shawlInleiding

Die boek Amos, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Hosea, volg derde in die ry van die Twaalf Kleiner Profete, waarskynlik om die wydverspreide problematiek van ongeregtigheid aan te roer, veral sosiaal-polities (verdrukking, uitbuiting, mensehandel, afpersing, mishandeling en uitbuiting van armes en weerloses tot eie voordeel, onsedelikheid, geweldadigheid – veral geweld teenoor vroue en kinders, verontregting en omkopery in die regstelsel, kontrakbreuk, ongebreidelde geldgierigheid) en geestelik-godsdienstig (sinkretistiese afgodediens, godsdiens sonder geregtigheid).

Amos roep ook die Noordelike tienstamme ryk op tot hereniging met die Suidelike tweestamme ryk van Juda, gemotiveer met die belofte van die herstelde Dawidiese koninkryk met Jerusalem as sentrum.

Amos was die eerste van die Skrifprofete en tree op in die tyd van koning Ussia van Juda, en Jerobeam II van Israel, twee jaar voor die aardbewing van 760 v.C (1:1 – dié datum is argeologies vasgestel, hoewel daar ‘n speling van ‘n dekade weerskante toegelaat word). Jy kan meer lees oor dié tyd in my vorige bydraes: 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk en 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here.

Ons weet min van Amos as persoon af, maar weet dat hy, volgens eie getuienis, nie ‘n profeet van beroep of deel van ‘n profeteskool was nie (7:14). Hy was ‘n veewagter – nie noodwendig ‘n skaapboer soos in die NAV vertaal word nie – uit Tekoa, suid van Jerusalem (1:1-2), en het ook omgesien na vyebome, ‘n seisoenswerk waarin vye geprik is om vinniger ryp te word (7:14). Dáár het die Here hierdie veewagter geroep om as profeet op te tree en veral die noordelike ryk aan te spreek (7:15), hoewel dit ook die nasies en Juda ingesluit het.

Sy boek begin met ‘n tekening van God as ‘n Leeu wat brul uit Sion: “Die HERE brul uit Sion, uit Jerusalem laat Hy sy stem hoor. Die weivelde van die herders verdroog, die top van Karmel verdor.” (Amos 1:2). Elkeen wat al ‘n leeu hoor brul het, sal weet hoe ver dit gehoor kan word, en hoe ‘n impak dit op die omgewing het. Alles raak stil as ‘n leeu brul. ‘n Leeu brul om sy heerskappy oor ‘n gebied aan te kondig en niemand is onder enige illusies dat ‘n leeu dit kan afdwing nie!

Dié metafoor is dus baie gepas vir Wie God is en dra die boodskap dat ‘n mens met Hom moet rekening hou. Die Here brul uit Sion en laat sy gramskap hoor oor dié wat Hom in hulle aanbidding versaak en daarby nie hulle naaste liefhet nie, maar onregverdiglik op allerhande maniere uitbuit.

Indeling

Die boek val uiteen in drie duidelik dele.

  • 1-2 – Die eerste twee hoofstukke bevat profesieë teen ‘n hele aantal van die omringende nasies (Arameërs [Damaskus – vandag Sirië], Filistyne [Gasa – vandag Palestynse gebied], Fenisiërs [Tirus – vandag in Lebanon], Edomiete [Teman, Bosra – vandag in Jordanië], Amonniete [Rabba – vandag deel van Jordanië], Moabiete [Kerijot – vandag deel van Jordanië]) sowel as teen Juda en Israel.
  • 3:1-9:10 – Die res van die hoofstukke is profesieë veral gemik teen die noordelike tienstamme ryk van Israel, met hulle hoofstad Samaria en die heiligdomme by Bet-El, Gilgal en Berseba, afgerond met vyf visioene in hfst. 7-9:10.
  • 9:11-15 – Die boek sluit af met ‘n heilsprofesie rondom die belofte van ‘n verenigde Dawidiese ryk wat Israel weer sal insluit in die herstelde Godsvolk.

Die hoofstukke gaan as volg ingedeel word vir ons leeswerk:

  • 1:1-2:16 – Die Here brul teen die nasies
  • 3:1 – 4:13 – Israel weet nie hoe om reg te doen nie
  • 5:1-6:14 – Vra na my wil, dan sal julle lewe
  • 7:1-17 – Drie gesigte van oordeel – sprinkane, vuur en ‘n swaard
  • 8:1-14 – Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte
  • 9:1-10 – Die oordeel van die vyfde gesig van die Here by die altaar
  • 9:11-15 – Die herstel van Israel

Die laaste twee dele sal ons saam op die laaste dag van ons leeswerk uit hierdie profeet lees.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Amos


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar