Amos 3:1 – 4:13 – Israel weet nie hoe om reg te doen nie
Die volgende hoofdeel van Amos is profesieë veral gemik teen die noordelike tienstamme ryk van Israel, met hulle hoofstad Samaria en die heiligdomme by Bet-El, Gilgal en Berseba. Dit beslaan hfst. 3:1-9:10 wat afgerond word met vyf visioene in hfst. 7-9.
Hierdie eerste vier perikope kan ingedeel word onder die ironiese titel: “Israel weet nie hoe om reg te doen nie”, ‘n aanhaling uit hfst. 3:10.
- 3:1-8 – Die Here God het gepraat, wie sal nie daarna luister nie
- 3:9-15 – Die geweldenaars weet egter nie hoe om reg te doen nie
- 4:1-5 – Dié wat lekker lewe, sal ondergaan ten spyte van hulle godsdienstigheid
- 4:6-13 – Ek het julle deur peste en plae probeer bekeer, maar julle wou nie
3:1-8 – Die Here God het gepraat, wie sal nie daarna luister nie
Amos rig sy woorde aan Israel vanuit hulle Eksodus geskiedenis. Die Here het hulle uit Egipte gebring, uitgekies uit al die volke van die aarde, om met hulle in ‘n verbond te lewe. Maar, hulle het gekies om dié verhouding te verbreek. Hulle wou nie meer die pad met die Here loop, soos hulle afgespreek het nie.
Met drie treffende metafore uit die natuur – brullende leeu, wip wat ‘n voël vang, ramshoring wat oorlog aankondig – word die rampe wat die Here daarom oor hulle weens hulle sondes bring, beskryf.
Let op hoe die Here sy onsigbare optredes agter die skerms deur sy profete bekend maak, sodat niemand onder enige illusies kan wees waar die rampe vandaan kom nie: “Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.”
Aansluitend by die tema van die boek – Die Here brul uit Sion vir geregtigheid – vra die profeet daarom: “Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie?” (vers 8)
3:9-15 – Die geweldenaars weet egter nie hoe om reg te doen nie
Die hoop beskaam egter in die geval van Israel. Hulle raak nie bang nie! Daarom kondig die Here verwarring en verdrukking aan in Samaria, omdat dit presies is wat in hulle huise geherberg word – geweld en verwoesting. Dit is asof Israel die vermoë verloor het om te weet hoe om reg te doen. Die straf daarvoor is dat die geweld en verwoesting van die vyand hulle sal tref.
Let op hoe die luukse lewe van die rykes geteken word – rusbanke, oorgetrekte gemakstoele, winterhuis, somerhuis, huise met invoorinleg, trouens baie huise – alles dinge wat hulle ore doof gemaak het vir die Here en vir dié teenoor wie hulle onreg en geweld gepleeg het. Hulle rykdom het hulle geestelik onsensitief gemaak, hulle die ontsag vir die Here ontneem.
4:1-5 – Dié wat lekker lewe, sal ondergaan ten spyte van hulle godsdienstigheid
Die rol van die vroue wat ‘n lekker lewe het – geteken as “die koeie van Basan” (‘n gebied wat bekend was vir hulle vet beeste!) word sterk veroordeel. Aan die een kant het hulle swakkes in hulle huise verdruk en armes mishandel. Aan die ander kant het hulle hulle mans aangemoedig om die lewe saam met hulle en met baie wyn te geniet, sonder om ag te slaan op die effek op die mense wat gebrek in hulle teenwoordigheid gely het.
Hulle sal daarom nes die mans veroordeel word en met hake opgetel en uitgedryf word ten spyte van hulle oënskynlike godsdienstigheid, gesimboliseer met gereelde offers en tiendes. Hulle godsdienstigheid het egter nie tot geregtigheid gelei nie. Amos se woorde drup van sarkasme: “So hou julle mos daarvan, Israeliete, sê die Here my God.”
4:6-13 – Ek het julle deur peste en plae probeer bekeer, maar julle wou nie
In die laaste perikoop begin die bedoeling van die Here met al die peste en plae, die hongersnood en broodsgebrek, en die droogtes en die “onregverdige” verdeling van reën deurskemer: “En tog het julle julle nie tot My bekeer nie.” (vers 8).
Die doel met al die brandkoring, heuningdou, sprinkane, plae en die oorlogsgeweld teen hulle jongmense was om hulle tot bekering te bring. Maar verniet. Nog drie maal herhaal Amos die hartseer uitspraak van die Here: “En tog het julle julle nie tot My bekeer nie.” (vers 9,10,11).
Die Here wil hulle deur die slegte omstandighede tot ‘n konfrontasie met Hom beweeg, sodat hulle die omvang van sy almag kan besef en tot insig kan kom van wie Hy is en wat Hy doen. Dan sal daar immers uitkoms wees. Dit is die implisiete bedoeling.
Boodskap
Die prentjie begin ontvou van ‘n God wat wel onverbiddelik is in sy veroordeling van dié dinge wat sy gramskap laat ontvlam, veral godsdienstigheid sonder geregtigheid. Maar, sy onsigbare betrokkenheid by die katastrofes van die lewe, is nie uit leedvermaak nie. Dit is gemik op bekering (4:8-11), ‘n erkenning van Wie God is: “Jy moet besef: Hy wat berge vorm en die wind skep, Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak, Hy wat die dagbreek donker maak, Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan, sy Naam is here, almagtige God!” (4:13).
Wat dus op die oog af na verydeling lyk – hongersnood, droogte, ongelykheid, peste, plae, en sterftes – en uiteraard groot nood bring, is gemik op inkeer en ‘n hernuwing van hulle Godsbewussyn. Dit is die implisiete bedoeling van Amos se boodskap.
View all posts in this series
- Amos – Die Here brul uit Sion vir geregtigheid - February 17, 2015
- Amos 1:1-2:16 – Die Here brul teen die nasies
- Amos 3:1 – 4:13 – Israel weet nie hoe om reg te doen nie - February 18, 2015
- Amos 5:1-6:14 – Vra na my wil, dan sal julle lewe - February 19, 2015
- Amos 7:1-17 – Drie gesigte van oordeel – sprinkane, vuur en ‘n swaard - February 20, 2015
- Amos 8:1-14 – Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte - February 23, 2015
- Amos 9:1-10 – Die oordeel van die vyfde gesig van die Here by die altaar - February 24, 2015
- Amos 9:11-15 – Die herstel van Israel