Die boek Amos, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Hosea, volg derde in die ry van die Twaalf Kleiner Profete, waarskynlik om die wydverspreide problematiek van ongeregtigheid aan te roer, veral sosiaal-polities (verdrukking, uitbuiting, mensehandel, afpersing, mishandeling en uitbuiting van armes en weerloses tot eie voordeel, onsedelikheid, geweldadigheid – veral geweld teenoor vroue en kinders, verontregting en omkopery in die regstelsel, kontrakbreuk, ongebreidelde geldgierigheid) en geestelik-godsdienstig (sinkretistiese afgodediens, godsdiens sonder geregtigheid).
Amos roep ook die Noordelike tienstamme ryk op tot hereniging met die Suidelike tweestamme ryk van Juda, gemotiveer met die belofte van die herstelde Dawidiese koninkryk met Jerusalem as sentrum.
Die boek begin met ‘n paar detail opmerkings oor Amos en sy tyd om dit histories te veranker. Dit is min of meer die jaar 762 v.C., twee jaar voor die aardbewing (gebaseer op argeologiese getuienis), die tyd van Ussia van Juda en Jerobeam II van Israel. Amos, die skaapwagter (eerder as skaapboer) sien ‘n visioen van God (“woorde wat hy gesien het”) wat sy stem laat hoor soos ‘n leeu wat uit Sion brul.
In agt verwante profesieë word die Here se afgryse en veroordeling van die sosiale, nasionale en geestelike wanpraktyke van die omringende nasies uitgespreek:
die Arameërs (Damaskus – vandag Sirië – oor geweld teen vroue en kinders),
die Filistyne (Gasa – vandag Palestynse gebied – oor kontrakbreuk),
die Fenisiërs (Tirus – vandag in Lebanon – oor mensehandel),
die Edomiete (Teman, Bosra – vandag in Jordanië – oor ‘n gebrek aan broederliefde),
die Amonniete (Rabba – vandag deel van Jordanië – oor geweld teen vroue en ongebore kinders), en
die Moabiete (Kerijot – vandag deel van Jordanië – oor disrespek vir die dood).
By dié veroordeling word Juda, die suidryk (oor sinkretistiese afgodediens), ook ingesluit, maar die langste en wydlopendste veroordeling word aan Israel, die noordryk (oor sosiale ongeregtigheid én minagting van die Here), afgestaan. Daarop word ook verder in die volgende hoofdeel van Amos uitgebrei.
Die profesieë word telkens ingelei met die frase: “So sê die Here …”, waaraan ‘n idiomatiese uitdrukking gekoppel is wat God se afgryse van wat hulle doen, oor te dra: “Oor drie oortredings van (xxx – naam van nasie), ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie …” Dit is nie bedoel om ‘n presiese aantal oortredings aan te wys nie, maar net die herhalende aard van hulle oortredings en die onherroeplikheid van God se oordeel daaroor te onderstreep.
Die volgende hoofdeel van Amos is profesieë veral gemik teen die noordelike tienstamme ryk van Israel, met hulle hoofstad Samaria en die heiligdomme by Bet-El, Gilgal en Berseba. Dit beslaan hfst. 3:1-9:10 wat afgerond word met vyf visioene in hfst. 7-9.
Hierdie eerste vier perikope kan ingedeel word onder die ironiese titel: “Israel weet nie hoe om reg te doen nie”, ‘n aanhaling uit hfst. 3:10.
3:1-8 – Die Here God het gepraat, wie sal nie daarna luister nie
3:9-15 – Die geweldenaars weet egter nie hoe om reg te doen nie
4:1-5 – Dié wat lekker lewe, sal ondergaan ten spyte van hulle godsdienstigheid
4:6-13 – Ek het julle deur peste en plae probeer bekeer, maar julle wou nie
Amos hef ‘n klaaglied aan oor die gevalle Israel soos by ‘n begrafnis. In drie dele spel hy sy afgryse uit oor die situasie in die land. In die eerste daarvan is daar nog die hoop dat Israel sal luister: “Hoor hierdie woord …” (5:1-17). In die volgende twee perikope begin dit egter telkens met die weeklag van die woorde: “Ellende wag vir dié …” waarmee die misplaaste verlange na die dag van die Here (5:18-27) en die valse gerustheid in die aangesig van die bedreiging van die vyand (6:1-14) ontbloot word:
5:1-17 – Amos hef ‘n klaaglied aan oor Israel se verspilde kanse om te luister
5:18-27 – Die dag van die Here bring donker ellende, nie lig nie
6:1-14 – Ongekende ellende wag vir dié wat nie saam treur oor die ondergang van die volk nie
5:1-17 – Amos hef ‘n klaaglied aan oor Israel se verspilde kanse om te luister
Die laaste hoofdeel van Amos bevat vyf gesigte van oordeel – ‘n sprinkaanswerm, ‘n groot vuur, ‘n swaard (eerder as ‘n skietlood soos in die NAV vertaal word), ‘n mandjie somervrugte, en die oordeel van die Here by die altaar. Met die eerste twee gesigte is daar nog die hoop op herstel, met die laaste drie nie meer nie. Tussen-in is daar ‘n onderonsie met die priester Amasia wat Amos probeer keer om sy roeping uit te voer. Aan die einde sal uiteindelik tóg een visioen van herstel vir Israel te voorskyn kom vir die toekoms waarmee die boek afgesluit word.
Dit is opmerklik dat ‘n mens ‘n bietjie meer van Amos as mens in dié gedeelte raaksien, sy interaksie met die Here, sy voorbidding vir die volk, sy verdediging van God se roeping teenoor die mag van die instituut van die staat en die tempel. Dit gee ‘n bietjie meer van ‘n menslike kant aan die onverbiddelike oordeel van die Here, hoewel ‘n mens steeds van die onherroeplikheid daarvan bewus bly.
Emmie du PreezonJesus vertel die gelykenis van die saaierNet 'n vraag: Mag ek dit voorlees en opneem om aanmy tanniete stuur nou dat sy te swak is om Bybel te lees?
Chris van WykonJesus waarsku dat ‘n onrein gees kan terugkeer en iemand dan slegter daaraan toe isEk hou van RT France se opsomming van die boodskap van Jesus hier wat eintlik in elke tydsgewrig toegepas kan word: "this evil generation might be ‘cleansed’ by Jesus’ ministry among them, but a repentance which does not lead to a new allegiance leaves a void which the devil will exploit; he who is…
Adrian EdwardsonMoenie skynheilig oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nieMr Chris dit is Adrian ek volg die bybel studie van U en ek leer baie hier uit,ek wil net dankie se aan Mr vir die leiding en geestelike lering.Ek wardeur dit uit my hele hart,dankie Mr vir elke dag se kennis
Onlangse kommentaar