Skip to main content

Tag: Amos

Amos 9:11-15 – Die herstel van Israel

prayer-shawlUiteindelik sien Amos tog ‘n toekoms waarin die Here die lot van Israel sal verander, hoewel dit nie die huidige situasie van ‘n dreigende ballingskap sal kan omkeer nie.

Die boodskap van herstel vir Israel hou twee verwante komponente in:

  • Polities en godsdienstig: Jerusalem en Juda – “die vervalle hut van Dawid” – sal weer herbou word, hoewel ‘n mens steeds die band tussen God en die nasies – “oor wie my Naam uitgeroep is” – in dié belofte hoor – vers 11-12.
  • Ekologies en ekonomies: Die land sal weer sy opbrengs lewer, en dit in oorvloed. Die oeste sal as’t ware in mekaar se pad kom, so ‘n oorvloed sal daar wees. Die vorige oes sal nog nie volledig ingesamel wees nie, dan is die volgende oes daar! Die boere sal weer die vrug van hulle arbeid geniet in ‘n land waar daar vrede en rus sal heers – vers 13-15.

Boodskap

Die verlede speel altyd ‘n groot rol in jou Godsbewussyn. Daar is ‘n spesiale motiverende krag in die voorsiening van die Here in jou verlede. Dit gee hoop vir die hede en vertroue op dié dinge wat net God kan gee.

Maar God se voorsiening kom net volledig tot sy reg in ‘n verhouding met Hom. Dít was die probleem van Israel in die tyd van Amos. Hulle het geroem op wat God in die verlede vir hulle gedoen het, sonder om aandag te gee aan die verhouding met Hom in die hede. Daarom het die toekoms vir hulle donker geword, en is hulle uiteindelik weggevoer in ballingskap.

Die hoop wat Amos ná alles wel oorhou, is nie gegrond op Israel se status as Godsvolk, en uiteraard ook nie op hulle vermoë om God te gehoorsaam nie. Dit is slegs gegrond op God se besluit, sy voorneme om hulle nie heeltemal uit te roei nie, om ‘n oorblyfsel genadig te wees. Dit is die boodskap waarop ook die koms van die Messias gebaseer is, God se keuse om self verantwoordelikheid te neem om die toekoms vir dié wat in die Here Jesus glo, oop te sluit, ‘n boodskap waartoe Amos reeds in die 8ste eeu v.C. bygedra het.

Amos 9:1-10 – Die oordeel van die vyfde gesig van die Here by die altaar

prayer-shawlSoos ‘n Simson van ouds in die tempel van die Filistyne in Gasa (Rigt. 16) staan die Here in die vyfde en laaste gesig in die tempel van Israel in Bet-El en verkondig verwoesting. Waar Simson die tempelpilare op homself en ‘n paar duisend Filistyne omgetrek het, verkondig die Here simbolies dat Hy die tempelpilare afbreek sodat dit ‘n verwoesting onder die hele volk kan teweeg bring.

In taal wat herinner aan Psalm 139 – “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?” – verkondig die Here dat vlug nie sal help nie. Dit help nie jy vlug na die doderyk of die hemel nie, indien dit natuurlik enigsins moontlik sou wees, of na die hoogste berg (Karmel) of die diepste punt in die see nie. “Niemand sal vrykom nie.

God se houding teenoor die volk het verander: “My bedoeling met hulle is om hulle kwaad aan te doen, nie om goed aan hulle te doen nie.” Israel is uiteindelik nie vir die Here anders as die ander nasies nie. Net soos die heidennasies dien Israel nie die Here nie, al is Hy die een wat verantwoordelik is vir hulle bestaan in die eerste plek.

Continue reading

Amos 8:1-14 – Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte

prayer-shawlDit is nogal ironies dat die vierde gesig met ‘n mandjie ryp somervrugte te make het (8:1-3). Amos was ‘n ekspert om nie net te weet wanneer vye ryp is nie, maar inderdaad ook om daartoe te kan bydra deur hulle te prik (7:14). Die Here gebruik dus sy vaardigheid om ryp vrugte raak te sien, om met hierdie gesig van die mandjie somervrugte Sy boodskap oor te dra.

Dit is egter ‘n ontstellende boodskap. Die Here wys vir Amos dat Hy weet wanneer die tyd ryp is vir sy volk. Dit is egter nie ‘n tyd van blydskap nie. Dit is ‘n tyd van hartseer, die tyd wanneer hulle deur die vyand geëet sal word, en die sang in die paleis sal stil word en in ‘n gehuil sal verander.

In drie gedeeltes pak die Here die betekenis van die visioen uit. Hy beskryf die konteks van ongeregtigheid wat Hom tot dié gevolgtrekking gebring het oor hulle rypheid vir oordeel (8:4-6). Hy verklaar dat Hy dit doodgewoon nie kan oorsien nie (8:7-10). En Hy beskryf die nood aan Homself en sy woorde wat sal heers in sy oordeel (8:11-14).

Continue reading

Amos 7:1-17 – Drie gesigte van oordeel – sprinkane, vuur en ‘n swaard

prayer-shawlDie laaste hoofdeel van Amos bevat vyf gesigte van oordeel – ‘n sprinkaanswerm, ‘n groot vuur, ‘n swaard (eerder as ‘n skietlood soos in die NAV vertaal word), ‘n mandjie somervrugte, en die oordeel van die Here by die altaar. Met die eerste twee gesigte is daar nog die hoop op herstel, met die laaste drie nie meer nie. Tussen-in is daar ‘n onderonsie met die priester Amasia wat Amos probeer keer om sy roeping uit te voer. Aan die einde sal uiteindelik tóg een visioen van herstel vir Israel te voorskyn kom vir die toekoms waarmee die boek afgesluit word.

Dit is opmerklik dat ‘n mens ‘n bietjie meer van Amos as mens in dié gedeelte raaksien, sy interaksie met die Here, sy voorbidding vir die volk, sy verdediging van God se roeping teenoor die mag van die instituut van die staat en die tempel. Dit gee ‘n bietjie meer van ‘n menslike kant aan die onverbiddelike oordeel van die Here, hoewel ‘n mens steeds van die onherroeplikheid daarvan bewus bly.

Continue reading

Amos 5:1-6:14 – Vra na my wil, dan sal julle lewe

prayer-shawlAmos hef ‘n klaaglied aan oor die gevalle Israel soos by ‘n begrafnis. In drie dele spel hy sy afgryse uit oor die situasie in die land. In die eerste daarvan is daar nog die hoop dat Israel sal luister: “Hoor hierdie woord …” (5:1-17). In die volgende twee perikope begin dit egter telkens met die weeklag van die woorde: “Ellende wag vir dié …” waarmee die misplaaste verlange na die dag van die Here (5:18-27) en die valse gerustheid in die aangesig van die bedreiging van die vyand (6:1-14) ontbloot word:

  • 5:1-17 – Amos hef ‘n klaaglied aan oor Israel se verspilde kanse om te luister
  • 5:18-27 – Die dag van die Here bring donker ellende, nie lig nie
  • 6:1-14 – Ongekende ellende wag vir dié wat nie saam treur oor die ondergang van die volk nie

5:1-17 – Amos hef ‘n klaaglied aan oor Israel se verspilde kanse om te luister

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda