Geloofsbelydenisse verwoord die konsensus van die Christelike gemeenskap deur die eeue
Ek kry van tyd tot tyd navrae oor geloofsvrae wat met die Godheid van die Vader, Seun en die Heilige Gees verband hou, sowel as ander vraagstukke wat mense graag wil hê dat ek vir hulle opklaar. Ek antwoord wanneer ek kan, en plaas dit dan ook op dié webtuiste.
‘n Mens kan egter baie leer by die konsensus wat in die Christelike gemeenskap oor die eeue bereik is oor allerlei. Dit is vervat in geloofsbelydenisse wat weliswaar soms onderling verskil – ons dink immers nie dieselfde oor alles nie – maar ‘n goeie basis vir jou gee om jou eie standpunt te vorm oor die sake wat in die Bybel oor God en geloof aangeraak word.
Hier is daarom ‘n paar skakels na van die geloofsbelydenisse deur die eeue wat jou kan begelei in jou denke:
- Apostoliese Geloofbelydenis – dit verwoord die konsensus oor God Drie-Enig en wat dit vir ons beteken op kort en bevatlike wyse – 12 artikels;
- Geloofsbelydenis van Nicea – dit is ‘n effe langer belydenis wat die wydste in die wêreldkerk aanvaar word en baie spesifiek die Godheid van Christus as deel van die Triniteit bevestig – ongeveer 19 reëls, afhangende van watter taal ‘n mens gebruik;
- Geloofsbelydenis van Athanasius – dit is ‘n nog langer belydenis wat die belangrikste dinge wat vir saligmakende geloof belangrik is, uitspel, ook ‘n bietjie meer oor die wyse waarop ons oor die Triniteit moet dink – 44 artikels;
- Heidelbergse Kategismus – dit is die primêre onderrig in die Gereformeerde tradisie oor 1) hoe groot ons sonde en ellende voor God is, 2) hoe ons in Christus daarvan verlos kan word, en 3) hoe ons God dankbaar kan dien waarin gehoorsaamheid en gebed die belangrikste komponente is – 129 vrae en antwoorde in 52 Sondag-afdelings verdeel;
- Nederlandse Geloofsbelydenis – dit is die grondslag van die Gereformeerde oortuiging oor God, sy Woord en die geloofslewe – 39 artikels – daar staan vir my een van die mooiste verwoording van wie God is: “Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.” (2 Kor. 3:17; Joh. 4:24; Jes. 40:14.);
- Dortse Leerreëls – dit is die grondslag vir die Gereformeerde oortuiging oor God se onweerstaanbare genade vir verlorenes soos uitgedruk in sy verkiesing, versoening en volharding van die gelowiges – 5 hoofstukke;
- Belydenis van Belhar – dit is die mees resente belydenis wat ons roeping voor God verwoord om versoening, eenheid en geregtigheid na te jaag – 5 artikels (Jy kan die webtuiste oor die Belydenis van Belhar waarvan ek webmeester is, besoek vir uitgebreide inligting en kommentaar daaroor).
Hier is ‘n bietjie meer oor die eerste ses se ontstaansgeskiedenis: Die ses Belydenisskrifte van ons kerk. Die belydenisse is ook ingesluit in hierdie dokument.
Geloofsbelydenis, Geloofsbelydenisse
Louw Morkel
Middag Chris. Dankie vir al jou lekker leesstof altyd. Jou gunsteling uitdrukking in NGB hierbo se “…enige en enkelvoudige geestelike Wese…is” Hoe staan dit teenoor ons geloof van “….Drie enige God Vader, Seun en Gees…?” Enkelvoudig is die woord wat my boul! 🙂
Chris van Wyk
Enkelvoudig beteken “uit een stuk” of “sonder pretensie“. Die Engelse vertalings van die Nederlandse Geloofsbelydenis vertaal die frase “enige en enkelvoudige” as “unique and simple” of “single and simple” wat dit verder onderstreep.
Enkelvoudig beskryf dus God se wese. Die belydenis van die Triniteit beskryf sy persoon.
Oor die Triniteit sê dieselfde belydenis in artikel 8:
GOD IS EEN IN WESE EN ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE
Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in ‘n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie.
Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.
Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader.
Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.
Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so ‘n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nieie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie ‘n eerste of ‘n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.
1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15; Matt. 28:19; 3:16-17; Joh. 1:14;
Mig. 5:1.